[Video en foto’s] Wes-Kaapse storm: Vyf sterftes aangemeld

Foto: Cindy Waxa/ANA

Die erge storm wat die Wes-Kaap Dinsdagaand getref het, het reeds die lewe van vyf mense geëis.

Robert Daniels, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid se nooddienste, het gesê ʼn 60-jarige man is vanoggend dood nadat ʼn behuisingstruktuur in Lavender Hill ineengestort het. ʼn Tweede man is ernstig beseer.

James-Brent Styan, woordvoerder van die minister van plaaslike regering en omgewingsake, Anton Bredell, het bevestig daar is ook vier mense in Kraaifontein dood nadat ʼn brand ontstaan het wat vermoedelik deur ʼn weerligstraal veroorsaak is.

Skade in Mfuleni waar behuisingstrukture verwoes en strate oorspoel het (7 Junie 2017). Foto: Phando Jikelo/ANA

Charlotte Powell van die Stad Kaapstad se rampbestuursentrum het vroeër aan Maroela Media gesê ʼn vrou en ʼn minderjarige meisie is beseer toe ʼn dak van ʼn woonstelblok in Lavender Hill afgewaai het. In Wynberg het ʼn muur ineengestort en ʼn man is vermoedelik beseer toe die muur op hom geval het.

Volgens Powell moes noodskuiling aan verskeie inwoners van informele nedersettings in Imizamo Yethu, Houtbaai, Maitland, Vishoek en dele van Khayelitsha verskaf word nadat plakkershutte deur die storm verwoes is.

Stukke van die dak van die Cavendish Square-winkelsentrum is deur sterk rukwinde afgewaai en paaie rondom die sentrum moes gesluit word. In Macassar is 400 mense sonder heenkome gelaat nadat ongeveer 100 huise oorstroom is. Honderde mense in Houtbaai is ook deur die storm geraak.

Werkers maak strate skoon in Kaapstad se sakesentrum (7 Junie 2017). Foto: Chantall Presence/ANA

Verskeie paaie is gesluit, insluitend die bekende Chapman’s Peak-roete, en treindienste is ook deur die storm geaffekteer. Styan het Woensdagmiddag gesê die Hugenote-tonnel is oop vir ligte voertuie en swaarvoertuie word herlei deur die Du Toitskloof-pas.

Kragonderbrekings het in verskeie gebiede voorgekom, onder meer Athlone, Weltevreden-vallei, Pelican Park, Schaapkraal, Goodwood, Boston en Parow-vallei.

Intussen het die Eden-distrikmunisipaliteit gesê daar is tans talle brande in die gebied wat buite beheer woed. Gerhard Otto, bestuurder van rampbestuur by dié munisipaliteit, het gesê alle beskikbare personeel is ontplooi en personeel wat vandag hul rusdag moes neem is ingeroep om oortyd te werk. Working on Fire-spanne is ook ontplooi om die brande te blus.

“Ongelukkig kan ons weens die stormsterk winde geen lugondersteuning kry om te help om die brande te blus nie,” het Otto gesê. Hy het gesê in die groter Knysna- munisipale gebied is verskeie brande besig om te woed, insluitend by Hooggekraal en Kruisfontein. Vier huise het reeds in die Hooggekraal-gebied afgebrand. Die N2 buite Knysna in die rigting van Bitou is weens die brande gesluit.

‘n Boom wat omgeval het in Kaapstad (7 Junie 2017). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Veldbrande woed ook in Hoekwil, Serpentine Heights en die Touwsranten-gebied. Volgens Otto is beamptes van die George-brandweerdienste vandag reeds na 26 verskillende brande uitgeroep. Die Mosselbaai-brandweerdienste is ook op die toneel waar ʼn brand in Herbertsdale woed.

Maroela Media het vroeër berig die Wes-Kaapse departement van onderwys het alle skole reg oor die provinsie gesluit ter wille van leerders en personeel se veiligheid. Volgens Styan is daar ʼn hele paar skole wat deur die storm beskadig is, onder meer Princeton High, Capricorn Primary, Plumstead High, Bergvliet High, Blomvlei Primary, Palm Park Primary, De Tuinen Primary, Riverview Primary en Victoria Primary.

Skade in Mfuleni waar behuisingstrukture verwoes en strate oorspoel het (7 Junie 2017). Foto: Phando Jikelo/ANA

Die departement van waterwese het ook ʼn waarskuwing uitgestuur dat oorstromings in die Paarl- en Somerset-Wes-omgewing verwag word.

In die gebied van die Weskus-distriksmunisipaliteit is 13 huise se dakke afgeruk en 45 informele behuisingstrukture verwoes. In Citrusdal is ʼn kragonderbreking aangemeld en verskeie bome in die gebied is ontwortel. ʼn Dagsorgsentrum in Saldanhabaai se dak is ook afgeruk.

By die Beaufort-Wes-vliegveld is vliegtuigloodse se deure afgeruk en vliegtuie is in die proses beskadig.

Sterk rukwinde het die dak van hierdie huis in Aspling Court in Lavender Hill afgeruk. Video: Tracey Adams/ANA

Die meeste van die paadjies by die Seepunt-promenade was Woensdag met seeskuim bedek weens die sterk wind. Video: Herman Gibbs/ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carel ·

Hopelik besef Maimane die Setlaars het niks hiermee te doen nie.

Katryn ·

Ne! Hy kan nie twee en twee bymekaar sit nie! Hoe sal hy dit kan uitwerk dat dit nie hulle gewees het nie!!

Lions ·

Ek is nie ‘n weerlundige nie maar kan iemand moontlik sê of die reën daar in die Wes Kaap darem in die opvangsgebiede van die noodsaaklike damme val?

Celia/Kaapstad ·

Hoeveel water loop nou weer reguit see toe….. die anc het nie een dam gebou of damwal verhoog sedert 1994 en die DA munisipaliteit hier in die WesKaap,ook nie.
Waterbeperkings en boetes, maar kyk hoe loop genade water WEG!

Noordkaap ·

My hart bloei vir die arme mensies wat soveel skade gely het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.