Video: ‘F*** white people’-kunswerk gevandaliseer

"Love thy neighbour" word bo-oor die kunswerk geplak (Skermgreep uit die video)

“Love thy neighbour” word bo-oor die kunswerk geplak (Skermgreep uit die video)

Die uitstalling in die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad, getiteld ‘F*ck white people’, is deur lede van ʼn politieke party gevandaliseer.

Maroela Media het vroeër berig die uitstalling bevat ʼn fotokunswerk met die woorde “F*ck white people”, wat in wit en swart gedruk is, saam met ’n stoel en goue stewels.

ʼn Video van die voorval wys hoe mans met T-hemde, waarop “Cape Party” gedruk is, na die uitstalling loop en dan ʼn plakker met die woorde “Love Thy Neighbour” op die uitstalling aanbring. Werknemers van die museum probeer hulle keer.

Brighton Khoza, woordvoerder van die museum, het aan Maroela Media gesê die kunswerk “f*ckwhitepeople wall, chair and goldendean boots (2016)” is deel van ʼn uitstalling getiteld ”Art of Disruptions” wat tans by die museum uitgestal word. Hy het gesê die museum veroordeel die vandalisering daarvan.

“Vryheid van spraak is die fondasie van ons gemeenskappe en ons nasie,” het hy gesê. “Die werke wat ons uitstal kan verstom, iets uitlig, uitdagend wees, ontwrig, mense dronkslaan, uitlokkend wees en ook skok. Ons verdedig die vryheid om sodanige werk uit te stal en ons erken die voorreg van die lewe in ‘n land waar die skep, uitstal en ervaring van so ‘n werk ‘n grondwetlike reg is.”

Volgens die museum is hulle in die proses om ʼn openbare gesprek te hou oor Hutton se werk en ander werke in die uitstalling. Dit word vir 16 Februarie beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.