Video: Fietsryer red baba-bosbokkie

Mark van Anwerp en die bokkie wat hy gered het (Foto: Verskaf)

“Toe ek die bosbokkie langs die pad sien, het ek vir my vriend gesê ons moet stilhou en hom help.”

Só vertel Mark van Antwerp (59), ’n sakeman van Port Elizabeth. Hy het Vrydag ’n bosbokkie wat net enkele dae oud was van ’n gewisse dood gered.

Van Antwerp het die oggend oudergewoonte saam met lede van die Town Hills-fietsrygroep fiets gery. Die groep, waarvan Van Antwerp ’n lid is, ry elke oggend ’n roete wat van Schoenmakerskop na Summerstrand in Port Elizabeth strek.

Maar daardie oggend kon Van Antwerp nie die roete klaarmaak nie omdat hy ’n baba-bosbokram langs die pad gewaar het. Die bokkie het in ’n oop stuk veld tussen die pad en die Nelson Mandela-universiteit gestaan.

“Ek en my vriend, Barney van Staden, het dadelik stilgehou toe ons die bokkie langs die pad gesien het. Hy was in ’n slegte toestand en het baie pap gelyk,” vertel Van Antwerp.

“Ek het geweet as ons hom nie red nie, gaan óf ’n motor hom trap óf ’n roofdier hom vang.”

Die mans het nader aan die bokkie probeer beweeg, maar hy het effens weggeskram. Hulle het hom toe vasgekeer en gevang.

“Ek kon sien hy het lanklaas melk gehad omdat hy so swak was. Sy lyf was ook vol vlieë.”

Van Antwerp het met die bokkie onder sy arm teruggeklim op sy fiets en begin ry. Die bokkie het doodstil gesit en rondgekyk.

Mark van Antwerp met die bokkie onder sy arm (Foto: Verskaf)

“Terwyl ons gery het, het ek besef dat ek geen benul het wat om met die bokkie te doen nie.”

Dit is hiér waar Marizanne Ferreira, ’n groot diereliefhebber wat diere in haar vrye tyd red, in die prentjie kom.

“Ek het Ferreira genader omdat ek weet sy is baie toegewyd aan die versorging en rehabilitasie van wilde diere. Ons het haar naby die universiteit ontmoet en die bokkie in haar sorg gelaat.”

Die bokkie bly tans by Ferreira op haar kleinhoewe. Sy het hom intussen Sir Marq gedoop.

Dit is hoe Sir Marq, die bosbokkie, nou lyk (Foto: Verskaf)

“Hy sterk goed aan. Hy het vandag vir die eerste keer sy kwota melk gedrink soos hy moet,” vertel Ferreira.

Ferreira sê dié rammetjie het al ’n huppel in sy stap en hardloop die erf vol. “Hy het ’n seer ogie waaroor ek nog bekommerd is, maar ek glo dit sal ook mettertyd herstel.”

Volgens Ferreira moes die bokkie tussen tien en 20 dae oud gewees het toe Van Antwerp hom gekry het. “Hy het nog sy naelstring – wat wel al uitgedroog was – gehad.”

Sy sê hy het Vrydag 2,7 kg geweeg en sy sal hom hierdie Vrydag weer weeg.

Dit is hoe Sir Marq, die bosbokkie, nou lyk (Foto: Verskaf)

“Ek is glad nie seker wat die ideale gewig vir só ’n jong bokkie moet wees nie, maar ek skat hy was tussen 500 g en 1 kg ondergewig.”

Ferreira gaan die bokkie versorg en wanneer hy gespeen is, gaan sy hom in ’n veilige omgewing vrylaat.

“Ek laat die bokke gewoonlik op my kleinhoewe vry omdat dit ’n ideale omgewing vir bosbokke is. Maar ek sal vir Sir Marq in ’n ander gebied moet vrylaat omdat ek reeds ’n bosbokram hier vrygelaat het.”

Ferreira sê Sir Marq is die tweede bosbokram wat sy grootmaak.

“Die eerste rammetjie, wat al tien jaar oud is en op die kleinhoewe bly, klok elke dag in vir die koekies wat ek hom voer. Ek het so gebid dat ek hom darem elke dag sal sien.”

Ferreira red al vir die afgelope 12 jaar diere en beskou dit as haar roeping in die lewe. Sy het tans vir Sir Marq en nog drie skaaplammers wat sy versorg. Sy staan ongeveer vyf uur per dag af om hulle te voer en te versorg.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tokkel

Aaaah, baie dankie! hou ons asb ophoogte Maroela nuus vandie bokkie..
Well done goeie werk mense!

Blikkantien

Pragtige knapie.

SomeOne

sal die vrylating nie eerder in die gebied waar hy gevind is, ‘n beter opsie wees nie, in ag geneem hoeveel vleisetende wilde diere in daardie area is,
dalk soek die mamma ook na haar kind

Wielspore

My werkgewer het so 3 jaar terug wild heining om ‘n groot gebied gespan en wilde diere word hier gevestig. Bosbokke kom ook natuurlik hier voor. Dit sal goed wees as Sir Marq hier vrygelaat kan word.
Gaan die nodige navraag doen.

Vicki

Ag dis so dierbaar. Ek het nou sommer trane in my oë gekry xx