Video: Fietstoer ter behoud van godsdiens in skole nou in Fochville

Hou-God-in-skole-Fochville

Ds. Henk Stavast en Derik Francis van die Hou God in Skole-fietstoer is tans op pad na Fochville. Foto: Hou God in Skole Facebookblad.

Twee fietsryers wat Maandagoggend uit Pretoria vertrek het op ’n fietstoer van sowat 6 000 km om geld in te samel vir die hofsaak wat ter behoud van godsdiens in skole gevoer gaan word, het vanoggend uit Randfontein vertrek en is nou op pad na Fochville, Noordwes.

Die fietsryers, ds. Henk Stavast van die Gereformeerde Kerk Totiusdal en Derik Francis, lidmaat van die NG Moreletapark-gemeente, gaan oor ’n tydperk van 11 weke by meer as 100 dorpe regoor die land aandoen. Lede van gemeentes van verskeie denominasies en verteenwoordigers van skole gaan die fietsryers verwelkom in die onderskeie dorpe. Die toer staan as die Hou God in Skole-fietstoer bekend.

Volgens Stavast het hy en Francis besluit om geld vir die behoud van godsdiens in skole in te samel nadat hulle verneem het ses skole van regoor die land word voor die hof gedaag om hulle te verbied om godsdiens in die skool te beoefen. Stavast het daarop gewys dat, sou die skole die hofsaak verloor, dit negatiewe gevolge vir alle skole in die land se godsdiensbeleid inhou.

“Ons is dankbaar dat AfriForum reeds meer as R1,5-miljoen tot die regskoste vir die stryd om die behoud van godsdiens in skole bygedra het, maar nog geld is nodig. Ons is ook dankbaar dat AfriForum hierdie uiters belangrike saak op hul geneem het. Dit raak elke kerkverband en elke Christen in Suid-Afrika. Ons bely immers dat alles wat ons doen, gebou moet wees op ons fondament, Jesus Christus, ook ons kinders se skoolopleiding. Dit is waarom ek en Derik ons deel wil doen om mense landwyd te motiveer om finansieel tot die regskostes vir hierdie stryd by te dra,” het Stavast gesê.

Jy kan R10 vir die regskoste skenk deur jou naam na 38315 te SMS. Stavast het aangedui dat lede van die publiek ook hulle steun vir die behoud van godsdiens in skole kan toon deur ’n petisie te onderteken. Die toer kan gevolg word en die petisie kan elektronies geteken word by www.hougodinskole.co.za. Die Hou God in Skole- Facebook-blad en die webblad, www.afriforum.co.za, sal lesers ook op hoogte hou van die fietsryers se vordering.

Die vennote en borge van die fietstoer sluit onder meer in AfriForum, die Instituut vir Christelike Onderwys, die Gereformeerde Kerk Totiusdal, National Road Carriers, asook mediavennote en lidorganisasies van die Solidariteit Beweging.

Kallie Kriel, hoof- uitvoerende beampte van AfriForum, het sy dank teenoor Stavast en Francis uitgespreek vir hulle bereidwilligheid om hul tyd, energie en entoesiasme in te span om te help verseker dat diegene wat godsdiens op skool wil beoefen, dit steeds kan doen.

“Skole se godsdiensbeleide dwing niemand om aan skolegodsdiens deel te neem nie, en dit is daarom jammer dat daar nou pogings is om diegene wat wel aan godsdiensbeoefening wil deelneem, te verbied om dit te doen,” het Kriel bygevoeg.

Kyk ook na eNuus se video oor die afskop van die Hou God in Skole-fietstoer:

Kliek hier vir die volledige Hou God in skole-fietstoer – TOERPROGRAM of volg die fietsryers regstreeks op hulle roete by LocaToWeb.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.