Video: Geldwa in Pretoria oopgeblaas; een vas

Die transitovoertuig nadat dit oopgeblaas is. (Foto: Facebook via @www.zoominplus.co.za)

Binne ure nadat ʼn transitovoertuig Dinsdag in die weste van Pretoria oopgeblaas is, kon wetstoepassers daarin slaag om een verdagte in hegtenis te neem, ʼn sak kontant en gesteelde vuurwapens terug te vind en op drie wegkommotors beslag te lê.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê ʼn groep rowers het gister net voor donker op ʼn transitovoertuig in Lotus Gardens toegeslaan. Die rowers het op die geldwa losgebrand en dit só tot stilstand gedwing, voordat hulle die wagte ontwapen en ploftoestelle gebruik het om die kluis oop te blaas. Hulle het met die veiligheidswagte se pistole en ʼn onbevestigde bedrag kontant op die vlug geslaan.

Volgens Naidoo is ʼn span wat bestaan uit beamptes van die misdaadintelligensie-eenheid, die Valke, die nasionale ingrypingspan en die Gautengse Operasionele Opdragsentrum ontplooi om die verdagtes op te spoor.

“Hulle het onverpoosd reg deur die nag gewerk en inligting het hulle na ʼn huis in Kgokongstraat, Atteridgeville, gelei. Daar het hulle een verdagte in hegtenis geneem en op twee voertuie wat tydens die rooftog gebruik is, beslag gelê,” sê hy.

“Die span het ook ʼn Norinco 9 mm-pistool op die perseel gevind wat aan een van die wagte behoort, asook ammunisie en tienduisende rand in kontant. ʼn Blou transitogeldsak is ook in die kattebak van een van die motors gevind.”

Naidoo sê die verdagte wat in hegtenis geneem is, is die eienaar van die huis. Hy is aangekla vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die taakspan se ondersoek het hulle daarna na ʼn huis in Kubastraat, Kalafong, gelei waar hulle die derde motor wat deur die rowers gebruik is, aangetref het.

“Die gesamentlike taakspan is warm op die spoor van die rowers en sal nie rus tot hulle opgespoor is en aan die pen ry nie,” het genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, gesê.

Hy het ʼn beroep gedoen op enigiemand met meer inligting om dit by Stop Misdaad by 08600 10111 aan te meld. Inligting sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê maar net ·

Lyk my die geldwa was ook “op die verkeerde” plek gewees.

christa ·

Regtig Wat Het OU KROCKEDiL P. W Botha VOORSPEL. N. SWART REGERING IS N CHOAS IN. SUID. AFRIKA.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.