Video: Geliefde optelhond gevind

Jessie (Foto: Verskaf)

Jessie, ’n optelhond wat Vrydag vermis geraak het nadat sy saam met haar familie in ’n motorongeluk betrokke was, is Maandag deur ’n boer in die Virginia-distrik gevind.

Maroela Media het vroeër berig Bennie van der Merwe (51), sy vrou, Aletta (47), en sy skoonma, Elsie van Straaten (77), was saam met hul drie honde op pad na die familieplaas in die Colesberg-omgewing in die Vrystaat. Naby Winburg het hulle op die N1 teen ’n vragmotor, wat sy vrag verloor het, gebots het. Die Van der Merwes se voertuig het gerol en sy vrou en skoonma het in die ongeluk omgekom.

Die egpaar se worshond is in die ongeluk dood. Hul schnauzer, Sebastiaan, en Jessie het van die ongelukstoneel gevlug. Sebastiaan is net na die ongeluk in die veld gevind en hy en Jessie is Maandagmiddag herenig.

JF Nel, die boer wat Jessie opgetel het, het Maandagoggend net na 06:00 van sy plaas in Virginia na Winburg gegaan om plaaswerkers in die dorp op te laai. Hy het op pad vir Jessie by die Virginia-afrit, so 30 km van die ongelukstoneel, langs die N1-snelweg gewaar. Nel het gestop en Jessie het in sy rigting aangehardloop gekom en in sy bakkie gespring.

Nel het Jessie na sy ouers in Winburg geneem waar haar eienaar, Bennie, haar toe Maandagmiddag gaan haal het.

Theresa Cloete, Van der Merwe se jongste suster, sê Nel en sy familie het op die WhatsApp-groep wat vir Jessie se soektog geskep is, die blye tyding oor Jessie gegee.

Bennie en Jessie herenig (Foto: Verskaf)

Roline Labuschagne, Van der Merwe se ander suster, sê Bennie kan nou sy vrou en skoonma ter ruste lê sonder om hom oor Jessie te bekommer.

Cloete vertel haar broer is baie verlig dat Jessie ongedeerd terug onder sy sorg is. Sy sê Jessie en Bennie het ’n baie noue band. “Jessie gaan orals saam met haar oubaas. Hy het nou vrede in sy hart,” vertel Cloete.

Cloete sê die familie is baie dankbaar vir die lede in die gemeenskap wat gehelp het om Jessie op te spoor en Bennie in dié moeilike tyd bygestaan het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
RS

Ligstraal liefde in n donker tyd. Baie sterkte vir jou!

Agter die skerms.....

Jammer oor die verlies van jou vrou en skoonma Bennie. Jessie en Sebastiaan gaan nou jou toevlug wees. Dis net baie hartseer nuus.

Smurf

Nou is my dag ook gemaak…..knop in my keel . Kan net voorstel as dit een van ons honde kinders was…..

katerinadiekat

Hoe loop my trane nou..so dankbaar Jessie is veilig geving en herenig met Bennie.
Bennie, al my simpatie van my hart vir jou en jou familie.

Carina

Ai hoe sit en tjank ek nou. Ek is so bly hulle het vir Jessie ongedeerd gevind. My innige meegevoel met die afsterwe van jou vrou, skoonma en die klein worsie.