Video: Gemeenskappe pak misdaad saam

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Misdaad in Suid-Afrika is skynbaar buite beheer en Suid-Afrikaners het min vertroue in die polisie om die probleem op te los. Daarom voel ál meer burgerlikes dit is tyd om sélf skouer aan die wiel te sit en misdaad te pak.

Gevolglik groei AfriForum se buurtwagte met rasse skrede en duisende mense oor die hele land neem deel aan gereelde nasionale patrollies, al kry hulle nie ʼn sent daarvoor nie.

Volgens Suid-Afrika se jongste kwartaallikse misdaadstatistieke wat 18 Augustus bekend gemaak is, word ongeveer drie mense elke uur vermoor, vier verkrag en 16 ernstig aangerand. Daar vind ook daagliks sowat 409 huisbrake plaas.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê die enigste saak wat nou van belang is, is hoe lank Suid-Afrikaners dit nog gaan duld.

“Gemeenskappe moet besef hoeveel mag hulle eintlik het om die veiligheid van hul omgewings in eie hande te neem. Ons buurtwagte en nasionale patrollies is ʼn baie goeie aanduiding van hoe ons reeds ʼn verskil maak en ons wil graag voortbou hierop.”

AfriForum se eerste buurtwag is in November 2012 in Vryburg, Noordwes, gestig en die organisasie het sedertdien daarin geslaag om sy buurtwagte tot 168 strukture en ongeveer 11 000 opgeleide vrywilligers uit te brei.

“Duisende vrywilligers werk deesdae saam met die polisie en dien as ʼn ekstra paar oë en ore om te help dat operasies suksesvol uitgevoer word. Daar is ʼn rol vir almal om te speel; mans en vroue, oud en jonk,” sê Broodryk.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Llewellyn Hemmens, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid oor die Noordstreek, sê dié buurtwagte strek oor die hele land, van Musina tot in die Kaap.

“Ons is baie trots op hierdie buurtwagte en waarlik verheug dat soveel mense bereid is om dit op ʼn vrywillige grondslag te doen; mense met gesinne en voltydse werk wat hul tyd opoffer om vir ons veiligheid op te daag.”

Hemmens sê hy glo AfriForum se buurtwagte sal bly groei en nie net met lede nie, maar ook op tegnologiese vlak.

“Ál meer mense besef dat hulle self verantwoordelikheid vir hul veiligheid moet neem. Ons het net in die afgelope maand tien buurtwagte bygekry.

“Ons maak seker die vrywilligers kry die regte opleiding en nodige toerusting om ʼn veilige patrollie uit te voer.”

Hulpmiddels soos glimbaadjies, lyfpantsers, pepersproei, magnete, dakligte vir voertuie en flitsligte word aan nuwe lede verskaf.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Soos ons bly groei, het ons besef dat dit tyd is om te vernuwe. Ons het daarom plek gemaak vir nuwe tegnologie soos die kameras vir nommerplaatherkenning (LPR), wat ons gebruik as ʼn vroeë waarskuwingstelsel. Ons het ook later besluit om hommeltuie aan te skaf wat vir ons ʼn baie beter beeld gee van wat tans aan die gebeur is,” sê Hemmens.

‘Ons moet self’

Volgens André de Bruyn, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Centurion, het hy betrokke geraak omdat hy kan sien hoe sleg dit in die land gaan.

“Ons sit met korrupsie, ons word leeg gesteel, ons spoorstelsel staan stil, ons padnetwerke is ʼn gemors en ons munisipale stelsels tuimel inmekaar,” sê De Bruyn.

“Ek kon nie net terugsit en kyk hoe ons pragtige land verder verval nie; ek het geweet ek moet betrokke raak. Mense moet besef dat ons self verantwoordelikheid vir ons gemeenskap se skoonheid en veiligheid moet neem.”

AfriForum voer gereeld nasionale patrollies uit waartydens 168 buurtwagstrukture landwyd van 18:00 tot 06:00 geaktiveer is om op nasionale vlak te sinkroniseer.

“Ons is tans op ʼn punt in ons land waar die gemeenskap die eerste linie teen misdaad is. Ons moet self, want die polisie het bloot nie die kapasiteit nie,” sê Hemmens tydens een van AfriForum se nasionale patrollies.

“Die doel van AfriForum se buurtwagte is om sterk gemeenskappe te bou om uiteindelik die misdadige elemente in die onderskeie buurte vas te vat. Ons wil inligting en idees deel oor hoe ons gemeenskappe veiliger en sterker kan maak.”

Tydens die patrollies werk buurtwagte saam met verskeie ander instansies en veiligheidsgroepe, waaronder die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en sekerheidsmaatskappye.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Dit is vir ons belangrik om met verskeie rolspelers in die gemeenskap te integreer om seker te maak dat ons ʼn eenheid vorm,” sê Hemmens.

Karl Laage, ʼn lid van die AfriForum-buurtwag in Centurion, sê hy het tydens die Covid-19-pandemie by die buurtwag betrokke geraak en het sedertdien gesien hoe hulle ʼn verskil maak.

“Die pandemie was ʼn baie moeilike tyd vir ons; mense het in ons strate rondbeweeg terwyl ons in ons huise moes sit. Diefstal was veral buite beheer en ons kon niks doen nie; dit is toe dat ek besluit het om betrokke te raak.

“Ons moet self optree om die destabiliseerders in die gebied hul mag te ontsê. AfriForum se buurtwagte kry dit reeds reg – ek het in ʼn paar maande gesien hoe misdaad in ons buurte afneem namate meer mense betrokke raak,” sê Laage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jax ·

n Goeie buurtwag is uiters belangrik. Die verskil is baie sigbaar. Daar word baie gesê oor ons Polisie maar raak betrokke by die Buurtwag in jou omgewing en jy sal sien waarom daar by sommige polisie stasies so min aangaan/gebeur. Gaan meld elke oortreding, al weet/dink jy niks gaan daarvan kom nie, aan by die Polisie en maak seker dat jy n saak nommer kry. Dit help hulle met getalle vir hulpmiddels en moontlike fondse. Jou tyd = hulp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.