Video: Gerehabiliteerde seeskilpaaie terug see toe

Die skilpaaie word in die see vrygelaat. (Foto: Twee Oseane-akwarium)

Ná ʼn lang en suksesvolle rehabilitasietydperk het die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Donderdag vir Annie, ʼn karetskilpad van 65 kg, asook ʼn hele klomp van haar skilpadvriende weer in die see vrygelaat.

Annie het in Augustus verlede jaar op Noordhoekstrand in die Kaapse Skiereiland uitgespoel nadat sy saam met ʼn rob in ʼn vissersnet vasgevang was. Die NSRI kon die rob vrylaat terwyl Annie in die Twee Oseane-akwarium se rehabilitasieprogram opgeneem is.

Annie was swak ná die voorval. Sy wou dikwels niks eet nie en het skeef gedryf. Sy was vir maande in die intensiewesorgeenheid en is later na die akwarium se oseaanuitstalling geskuif waar sy ná vyf maande begin eet het.

“Dit het haar lank geneem om te herstel. Ons het dus feesgevier toe sy uiteindelik vrygelaat is,” sê Jessica Shelver, woordvoerder van die NSRI.

Ondanks Annie se goeie herstel swem sy steeds teen ʼn 45 grade hoek, sê Shelver. Hoewel dit ongemaklik lyk, kan sy alles doen wat ʼn gesonde skilpad gewoonlik kan doen.

“Die personeel het dikwels na haar verwys as ‘borrelboude’, maar ons hoop dat die ruimte van die see die skewe swemstyl sal regstel.”

Roo, ʼn groenskilpad, Olaf, ʼn valkbekskilpad, asook Luis, ʼn 101 kg-karetskilpad, en 19 ander jong karetskilpaaie het ook volkome herstel en is saam met Annie in die see by Houtbaai vrygelaat.

“Om sterk en gesonde skilpaaie weer in die see vry te laat is ongelooflik spesiaal,” sê Maryke Musson, uitvoerende hoof van die Twee Oseane-akwarium se onderwysstigting.

“Alle skilpadspesies word bedreig, daarom is dit besonders dat hierdie skilpaaie ʼn tweede kans kry.”

Die skilpaaie, insluitend Annie en Luis wat met behulp van ʼn mikroskyfie gevolg kan word, is reeds op pad na warmer water en sal op hul tog gevolg en gemonitor word.

Yoshi, ʼn karetskilpad wat die akwarium in Desember 2017 ʼn ent van Kaappunt vrygelaat het, se reis van meer as 40 011 km is gevolg voordat die battery van haar satellietopsporingskyfie ná drie jaar pap geword.

Die laaste sein wat van Yoshi se opsporingstoestel ontvang is, het aangedui dat sy in die La Grange-omgewing van die Eighty Mile-strand in Wes-Australië was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Dankie aan betrokkenes.
Sien daar is nog altyd goeie nuus ook

Francois Le Cochon ·

Die 2 oceans akwarium se mense verrig wondere sonder staats hulp. Hulle is wereld leiers op hul gebied. Mense wat die kaap besoek moet hulle asb ondersteun. Bietjie duur, maar “money well spend”

FM ·

Dis heerlik om sulke positiewe nuus te lees.

Die mens is nog gehoorsaam om oor die natuur te heers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.