Video: Gesteelde bakkie onder dekgras versteek

Die bakkie is onder die vrag besems aangetref. (Foto: Cartrack/Twitter)

Daar is oënskynlik geen einde aan die kreatiwiteit van smokkelaars om gesteelde voertuie ongesiens oor die grens te probeer kry nie.

In een van die jongste voorvalle het polisiebeamptes op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek Saterdagmiddag ʼn gesteelde Ford Ranger onder ʼn vrag dekgras aangetref.

ʼn Video van beamptes wat die bakkie onder die dekgras by die Lebombo-grenspos uitsnuffel, het intussen soos ʼn veldbrand op sosialemedianetwerke versprei.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gesê polisiebeamptes was besig met roetinepligte toe die vragmotor, met ʼn Mosambiekse registrasienommer, hulle snuf in die neus laat kry het.

Die bestuurder van die vragmotor was in daardie stadium skoonveld en is glo na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se kantoor om dokumentasie af te handel.

“Polisiebeamptes het na hom by die SAID-kantoor gaan soek, maar kon hom nêrens vind nie en hulle het begin om die vragmotor te deursoek. Terwyl hulle die gras verwyder het, het die polisie ʼn wit Ford Ranger met vervalste nommerplate aangetref,” het Mdhluli gesê.

Mdhluli het gesê die maatskappy Cartrack het die opsporingsein nagespoor en dit het polisie na die bakkie agterop die vragmotor gelei.

Daar is intussen vasgestel die bakkie is op 30 November in Sandton in Gauteng gesteel.

Die vragmotorbestuurder is steeds soek.

  • Hierdie berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

J P ·

Dit was onder gras bondels wat gebruik word om grasdakke te dek. Tien teen een nie die eerste keer wat hulle dit doen nie. Welgedaan nietemin dat hulle uit gevang is.

Riaana ·

SKELM… oe nee SA die land van “opertunity”, want hier as jy die regte kleur is is jy gerettig om te vat WAT jy Wil wanneer jy Wil,

Thea ·

Goed gedoen polisie. MM daar is ‘n verskil tussen besems en bondels dekgras. Met daardue dekgras sal niemand kan vee nie, glo my.

Mariana ·

Na die skok oor wat kriminele aanvang, is dit eintlik lagwekkend van hoe kreatief hulle probeer wees. Verbeel jou bakkie onder dakgras versteek…..ongelooflik!!!

Karina ·

Mooi so ! Die eienaar van die voertuig gaan verseker baie bly wees

Karlahari ·

Hier van Lesotho se kant kom gereeld gras oor die grens.
Happy grass…….

Oom Hennie Pennie ·

En die drywer sal nie terugkom om sy trok te kom haal nie. Hy soek lankal weer ‘n ander bakkie in Johannesburg.

Wielspore ·

Nee, nee, nee, julle verstaan verkeerd. Die gesin is op pad Mosambiek toe vir ‘n vakansie, die groot trok is om alles te vervoer, die Bakkie gaan saam om daar rond te ry. Hulle besems maak van al die gras en die verkoop om te betaal vir blyplek en kos. Na die vakansie bly die Bakkie agter by hulle oom se huis tot volgende jaar dan bring hulle syne saam van Pretoria af, dit is ‘n Amarok en hy word nog gebou en dan ingeloop.
Eish, die mense daarem!

Niklaas ·

Elke dag is daar slimmer skelms. Ons kan net kop skud. Hierdie is nie die eerste probeerslag nie. Dit het sekerlik al heelwat kere gebeur, maar nou is hul betrap

Blomme ·

Die vryelike beweging tussen die grensposte moet gestop word.. Dit laat ruimte vir misdaad.

Derek ·

Dit sal nooit stop nie want die voorbeek word deur die leiers in die parliament gestel. Dan weier hulle nog steeds om verantwoordelikheid te aanvaar, dit as gevolg van die vryheid van godsdiens. Wat n grap en siek land Suid Afrika.

Santie Gildenhuys ·

Hahahaaaa!! Wys jou net…’n Ford Ranger vat nie strooi nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.