Video: Gratis noodlyn beskikbaar gestel

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het ‘n 24-uurkrisislyn bekend gestel, waar die organisasie se meer as 117 000 lede en hulle gesinne misdade en ander noodgevalle telefonies kan aanmeld en dringende hulp kan vra.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie besluit om dié gratis nooddiens aan lede, genaamd AfriForum 911, beskikbaar te stel in die lig van die groeiende misdaadkrisis in die land en die feit dat die polisie dikwels traag in noodgevalle reageer. “Waar die regering misluk in sy basiese verpligtinge om burgers se veiligheid te verseker, moet ons self begin doen wat ons kan om ons lede se veiligheid te probeer verseker,” het Kriel gesê.

Die telefoonsentrum, waar die krisislyn 365 dae per jaar beman word, sal sodra ‘n noodoproep rakende ‘n misdaad ontvang is, namens die inbeller die polisie, die inbellers se bure en familie, sekerheidsmaatskappy en naaste AfriForum-gemeenskapsveiligheidstruktuur of buurtwag skakel om hulp te versoek. AfriForum se lede kan die kontakbesonderhede van diegene wat in noodgevalle gekontak moet word, by die webwerf www.afriforum911.co.za registreer.

Mediese noodgevalle kan volgens Kriel ook by die noodlyn aangemeld word, waarna ‘n ambulans namens die inbeller ontbied sal word. “Aangesien lede vooraf besonderhede rakende hulle mediese fonds, bloedgroep en allergieë kan registreer, sal dit mediese bystand in noodgevalle vergemaklik,” het hy bygevoeg. Volgens hom vorm telefoniese traumaberading en gesondheidsadvies ook deel van die diens.

As deel van die diens word ‘n groen AfriForum 911-armband met die noodlyn se nommer aan elke lid gestuur. Elke armband het ook ‘n unieke nommer waaraan die lid se spesifieke mediese en ander besonderhede gekoppel word. Sodoende sal die lid, sou hy of sy bewusteloos wees, identifiseer kan word. Die armband, wat ook aan lede se kinders uitgereik kan word, kan byvoorbeeld ook gebruik word om die ouers van kinders in noodsituasies deur die krisislyn op te spoor.

Hierdie video verduidelik presies hoe AfriForum 911 werk:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mervyn Keown ·

Dankie vir 911 noodlyn. Was self in Bethlehem 2 keer in 2 maande beroof by wo ning en sover geen resultate. ????? Eers vuurwapens, juwele ens. En toe voertuig probeer steel.

Drieks ·

Trots op Afriforum. Mense sluit aan asseblief, saam kan ons dinge vermag….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.