Video: Groot mylpaal vir SA se voorste varkvleisverwerker

Weense worsies, spek of ham? Dalk ʼn gemarineerde varkribbetjie op die kole? Jy weet waar jy dié produkte kan kry, want die naam is groot… en nóú is hulle selfs groter.

Eskort, die voorste varkvleisverwerker in die land wat 107 jaar gelede met nege boere in Estcourt in KwaZulu-Natal begin het, verskaf nou werk aan meer as 2 000 mense regoor Suid-Afrika.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Dié maatskappy, wat met 25 winkels in sewe van die land se provinsies pronk, het vandeesweek ʼn opwindende mylpaal bereik met die bekendstelling van indrukwekkende nuwe ontwikkelinge by sy fabriek in Heidelberg.

Met ʼn uitbreiding van 10 000 m² het die fabriek sy produksiekapasiteit in Gauteng met altesame 50% verhoog en ʼn nuwe era van hoëtegnologiese doeltreffendheid in produksie ingelui.

Arnold Prinsloo, uitvoerende hoof van Eskort (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Arnold Prinsloo, uitvoerende hoof van Eskort, sê die maatskappy het altesame R300 miljoen in die uitbreidings belê om sy produksievermoë te verhoog.

“Die rede hiervoor is dat ons sedert 2018 geweldig gegroei het, die uitbreidings by ons Heidelberg-fabriek was broodnodig om hierdie groei te akkommodeer.

“Die maatskappy is ook vasberade om sake in hierdie mooi land van ons uit te brei, en bly daaraan toegewy om klein dorpies aan die lewe te hou.”

Dié fabriek spog nou met die grootste boksvrieskas van sy soort in Afrika wat altesame 120 ton se produkte in 24 uur tot -18 °C kan vries. Bokse beweeg op ʼn vervoerband deur die vrieskamer waar die lug op -41°C gehou word – ’n temperatuur wat natuurlik net in poolstreke voorkom.

“Die groot voordeel van hierdie merkwaardige boksvrieskas is dat ons nou ʼn hoë gehalte produk aan ons kliente kan verskaf. Ons het voorheen, veral met die voortslepende beurtkrag-kwessie, probleme met ons vrieskapasiteit ervaar. Met hierdie boksvrieskas kan ons egter nou die beste gehalte produkte in die land verskaf.”

Prinsloo sê die verdubbeling van verkoeling- en bevrore stoorruimte by die fabriek, asook spesiale karkas-verkoelingsgeriewe en nuwe toerusting is deel van die nuwe uitbreidings.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Ons het ook 3 100 paletspasies in ons koelstoor geïnstalleer wat verder tot die verhoogde kapasiteit bydra.

“Ons het vroeër 6 000 varke per week geslag, die kapasiteit is egter nou tot altesame 9 000 varke per week verhoog. In dié stadium slag ons 6 500 per week en ons beoog om voor die einde van die jaar 7 500 varke per week te slag.”

Prinsloo sê die ontbeningsaanleg is ook vergroot. “Die ontbeningsaanleg kom uit Oostenryk en is regtig wêreldklas – ons kan 180 ton se vleis per skof ontbeen.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

En probleme met beurtkrag is ook iets van die verlede vir hierdie maatskappy nadat hulle vier kragopwekkers by die fabriek geïnstalleer het wat altesaam 4 MW se krag kan opwek – genoeg om 800 huishoudings van krag te voorsien.

“Hierdie prestasies is ʼn getuienis van Eskort se veerkragtigheid, aanpasbaarheid en visie, en dit beklemtoon die effektiwiteit van die leierskaplesse wat die maatskappy oor meer as ʼn eeu geabsorbeer het.”

Een van die unieke aspekte van Eskort is sy aandeelhouerstruktuur, waar boere direk betrokke is by die sakeonderneming. Die maatskappy se varkvleis is ook antibiotika-vry, ʼn aspek wat die vertroue van verbruikers dwarsdeur Suid-Afrika geniet.

Prinsloo sê Eskort se sukses is ook te danke aan die hoë gesondheidstoestand van hul varke, wat genetika van toonaangewende maatskappye in Nederland en Noorweë ontvang.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“En omdat Eskort ʼn private maatskappy is, kan ons baie vinnig beweeg. Ons hoef nie klomp raadvergaderings te hou om ʼn plan te implementeer nie. Ons besluit doodeenvoudig op ʼn strategie en dan voer ons dit uit.

“Die bekendstelling van die nuwe ontwikkeling in Heidelberg is nie net ʼn prestasie vir Eskort nie, maar ʼn uitdrukking van Suid-Afrika se vordering in die internasionale mark vir varkvleisverwerking. Met hierdie nuwe fasiliteit is die toekoms van Eskort helder en vol beloftes,” sê Prinsloo.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sê maar net ·

Welgedaan Escourt! Ek is 65 jaar oud en ondersteun julle deur al dié jare, vandat my ouers eenkeer per maand, na die Escourt- fabriek buite Newcastle Natal, uitgery het om rooiworsies in grootmaat te koop, toe ek so 6 jaar oud was. Doen so voort, Escourt!

Martie Smartie ·

Geen wonder varkvleis en produkte is so duur nie. Al amper op die vlak v bees

Samuel ·

Die Moslems moet seker ‘n probleem hiermee hê, of hoe? Hulle is mos nou die gekaapte ANC se hoofborge.

Charles ·

Baie geluk, as jy n’ kwaliteit produk lewer wat nie mense se lewens kos, dan boer jy vooruit..

George ·

@samuel, moet ook altyd iemand inbring waar dit glad nie nodig is nie.

George ·

@semaarnet, het jou ouers Escourt toe gery of Eskort lol groot verskil ;-)

electricmango ·

Dis fantasties, op eie bodem begin sonder enige staatshulp en gaan van krag na krag solank as wat die regering weg bly. Wonder hoe dit sal gaan as Arnorld President word….. hy lyk na iemand wat weet wat om te doen….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.