As ʼn driejarige dogtertjie jou in die oë kyk en vra om haar hasie te begrawe, sê jy nie nee nie. Maar, skerts Ettiene Marais, ʼn predikant saam met Burre Burger verbonde aan die organisasie Droogtehulp, “ek het nie geweet die predikant moet die gat ook grawe nie.”
In ʼn hartroerende video van die hasiebegrafnis kan gesien word hoe Gitè Botha en ʼn maatjie langs die graf staan waar Marais een van Gitè se hasies begrawe.
Gitè se ouers, Jaco en Susna, boer naby Boshof in die Vrystaat op die plaas Gunsteling, ʼn streek waar verwoestende brande die afgelope paar dae woed. Die plaas dien in hierdie stadium as versamelpunt vir voer wat in die gebied versprei word en Marais en Burger het daar aangedoen.
In die harwar tussen voeraflewerings en brande in bedwang hou het een van die gesin se honde uitgekom en gesorg vir ontsteltenis.
Susna sê die hond, ʼn pointer, is ʼn aangenome lid van die familie wat ʼn ruk gelede uit die stad ʼn tuiste op die plaas gevind het. Die hond kies nog gereeld die hasepad en bly gewoonlik in die agterplaas. Die hond het Woensdag egter ʼn kans met ʼn oop hek gevat en van die hase het in die slag gebly.
Susna het die bewysstukke probeer verwyder, maar Gitè het nietemin op een van die dooie hasies afgekom.
Die bekkige dogtertjie het intussen met Marais vriende gemaak. Begrawe moes die haas begrawe word, behoorlik ook, en Gitè het geweet Marais is die man vir die werk.
Sy het hom summier gaan wys waar die graaf gebêre word en hulle is na ʼn oop stukkie veld om begrafnis te hou.
Toe Marais nalaat om ʼn Bybel saam te neem graf toe, sê Gitè hulle kan een in haar ma se kamer gaan haal. Gitè het ook daarop aangedring dat ʼn gebed vir die haas gedoen word waar, soos Marais sê, “die haas nou by Jesus in die hasiehemel woon”.
Nadat Marais die hasie in die graf laat sak het, het hy saam met Gitè en ʼn maatjie gebid: “Dankie, liewe Jesus, vir Hasie wat by ons gekuier en gebly het. Per ongeluk het Hasie nou doodgegaan want die hondjie het hom gebyt. Lekker rus, Hasie.”
Marais sê wat nié in die video gesien kan word nie, is hoe hy in trane wegstap.
Marais, verbonde aan ʼn gemeente aan die Wes-Kaap, behartig die bediening vir Droogtehulp saam met Burger. Hy sê die afgelope paar maande het ʼn groot tol geëis, ook emosioneel. Benewens die water, klere, kospakkies en voer wat hulle in gemeenskappe versprei, hou hulle ook een keer per maand op ʼn Sondag ʼn erediens saam met verskillende gemeenskappe.
“Ek is al opgehuil. Soms weet ek nie waar die trane nog vandaan kom nie. Die samewerking tussen mense is ongelooflik. Mense se harte en hande gaan net oop,” het hy gesê.
Susna sê dit was vir haar aangrypend dat mense te midde van die chaos wat op plase heers, steeds die moeite kon doen om aan ʼn klein dogtertjie se wens te voldoen.
“Dit beteken die wêreld vir ons dat daar iemand is wat selfs die kleinste goedjies raaksien en die kleinste mensies help.
“Dit is ongelooflik hoe mense laer trek om ons. Ek staan verstom oor al die skenkings. Mense uit die droogste dele van die land doen skenkings en sê ‘julle het vir ons goed gestuur toe ons niks gehad het nie’,” sê Susna.
“Ons sit en huil uit absolute dankbaarheid en dan staan ons op en baklei verder. Die veld om ons huis is verbrand, maar ons is oorweldig deur die genade.”
Dankie Ds Ettiene ……
dalk as ons almal net so bietjie stil staan en ons oë toemaak, ophou dink aan al die rowe, slagtings, kapings, brande en politiek en op kyk vir ‘n oomblik en besef die Allerhoogste, die Skoon Roos, die Alomteenwoordig God, Hy sien dit alles, Hy mis niks, nie eers ‘n hasie se lewe, of ‘n wilde hond se blaf
Hy SIEN alles, en HY is steeds in beheer,
dalk, dalk net is daar ‘n pragtige prentjie wat HY skilder wat ons eenvoudige nog nie kan sien!
Soe leer kinders ook van die lewe en die dood, en groot mense huil saam.
Die onskuld van ‘n kind…. Sy ken haar begrafnisformelier!
ag ek huil nou sommer, oor die pragtige kinderlike onskuld en die wrede wereld daar buite
So oulik. Respek vir alles en almal. (Daai kinders het een van die beste lesse ooit ontvang.)
Ons kort meer sulke mooi stories!
Kosbaar.
Dis te kosbaar vir woorde. Ek onthou n spesifieke insident toe een van ons hondjies gevrek het. Ons was almal in die kar om die hondjie te gaan begrawe op n ander plek en ons was so erg hartseer toe bid ons dat Jesus die hondjie weer sal lewend maak en daar begin die hondjie lewe. Die eerste wonderwerk wat ek ervaar het dat God luister wanneer ons bid en dat hy dooies weer lewend kan maak.
God het ons kinder hartjies gesien en ons gebede verhoor. UNFORGETTABLE!
Dankie
Ag dis nou sommer lekker GOEIE NUUS. Kinderlike onskuld en prefikant wat saamspeel midde die warmte om hulle. Lekker om bietjie te kan lag ook deur dit alles.. MM moet meer sulke nuus publiseer.
Is dit nie te kosbaar nie!
So kosbare en deernisvolle gebaar. Die begrafnis sal die twee dogtertjies vir altyd by bly. Haar versoek na ‘n bybel en gebed dui ook op ‘n opvoeding waar die Here die fondasie van hulle huishouding is. Ek is hoopvol met sulke jeug vir die toekoms van ons mooi land.