Video: Helikopter tref kragkabel by matriekafskeid

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaand die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaand die berig.

ʼn Spesiale dag vir leerlinge van Hoërskool Wagpos in Brits, Noordwes, het Vrydag byna in ʼn tragedie ontaard toe ʼn helikopter, wat ʼn paartjie vir hul matriekafskeid vervoer het, se lemme ʼn kragkabel getref het.

“Chané is my enigste dogter en ons wou iets baie spesiaal vir haar matriekafskeid reël, min wetend dat só iets sou gebeur,” het Lindi van Rooyen, die matrikulant se ma, Woensdag aan Maroela Media gesê. Chané en haar kêrel, Albert Neethling (18), was tydens die voorval in die helikopter.

Chané van Rooyen en Albert Neethling voor hulle die aanboort die helikopter geklim het. Foto: Verskaf

Chané van Rooyen en Albert Neethling voor hulle die aanboort die helikopter geklim het. Foto: Verskaf

Lindi was deel van die komitee wat die matriekafskeid gereël het en sy het staan en kyk toe die helikopter kom land. “Chané en Albert het by die Brits-vliegveld op die helikopter geklim. Ek het die vlug deur ʼn lugvaartagentskap bespreek en hulle het die vlieënier gereël,” het sy verduidelik. Fatherland-landgoed, waar die matriekafskeid plaasgevind het, is ongeveer 5 km van die vliegveld af geleë.

“Ek was nogal bekommerd toe ek sien die vlieënier kom te naby aan die kragdraad en ek wou vir hulle skree, maar die helikopter het te veel lawaai gemaak. My dogter sê sy het ook die drade sien nader kom, maar die vlieënier het dit glo nie raakgesien nie, omdat hy op die grond bly kyk het.”

Lindi sê alles het daarna vinnig gebeur, en dat dit nou nog onwerklik voel. “Daar was ʼn groot slag, waarna die helikopter gekantel en vinnig daarna op die grond beland het. So baie dinge kon verkeerd geloop het. Die helikopter se lemme het die grond rakelings gemis, anders sou my kind en ander omstanders dalk baie seergekry of selfs gesterf het,” het sy gesê.

Die kragkabels het op die grond geval en die gras het begin brand. Toeskouers moes vinnig hul motors skuif.

Ronnie, Chané se pa wat ook ʼn ingenieur is, het dadelik Eskom geskakel om seker te maak dat die kragtoevoer van die substasie afgeskakel word en niemand deur die stukkende kabel geskok kan word nie. Die landgoed en boere uit die omgewing het vinnig ná die voorval kragopwekkers na die saal aangery sodat die matriekafskeid kon voortgaan. Eskom het Saterdag die kragtoevoer herstel.

Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die twee tieners was net ontsteld oor die voorval. “Ons het vir hulle soet kola-koeldrank gegee en hulle het daarna die aand verder geniet. Hulle het die beste gemaak van ʼn slegte saak,” het Lindi gesê

Op ʼn vraag op Chané weer in ʼn helikopter sal klim, antwoord Lindi skertsend: “Nie vinnig nie! Maar wie weet, dalk weer oor ʼn jaar. Sy het skaam erken dat sy kragwoorde gebruik het toe sy die slag hoor.”

Andrew Vorster het ʼn video van die voorval geneem en Dinsdag op YouTube gelaai. “As ek na die video kyk kry ek koue rillings. Ek kry die vlieënier jammer. Ek weet nie of dit uit ondervinding, instink of geluk was nie, maar dit is die Here se genade dat dit nie in ʼn tragedie ontaard het nie. Ons kan nou daaroor lag, maar soveel dinge kon verkeerd geloop het.”

Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die voorval en het reeds met Lindi en Ronnie in verbinding getree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ai... ·

“Die helikopter se lemme het die grond rakelings gemis…” Duidelik het dit nie so gebeur nie, nie eens amper nie.

Vian ·

Wie is die koek (vet man) wat vir hom gese het gaan link? [Hy wys gaan link by 0:30], sal se dit is sy skuld

amelda ·

Mens kan sien dis n goeie pilot anders sou die helicopter nie so mooi geland het na dit nie! Was net n ongeluk gewees, hy het na die grond gekyk want da was min spasie met al die karre wat da gestaan het

Chris ·

Wie so nou kon gedink het dat veselglas lemme staal drade so kan knip? Gelukkig is niemand daarem beseer nie.

Henk ·

Mense wat aandag soek en hulle kinders met Helikopters na n matriekafskeid toe bring. Dink dis eerder hulle skuld.

Ivan ·

Sjoe! Kon baie maklik baie anders geeindig het! Die helikopter se lemme was nêrens NABY die grond nie though.

Ivan ·

uhh Ja, aandag by die aankoms van ‘n matriek afskeid, dis presies waaroor dit gaan. As hulle motor in ‘n botsing was, sou dit steeds die ouers se skuld gewees het? Dis nou maar eenkeer ons Afrikaner mentaliteit. Niks persoonlik teen jou nie Henk maar ALTYD sal daar nou van ons wees wat ouers of selfs die kinders sal blameer met omdat hulle lewe, en iets het skeefgeloop. n Ongeluk. As die heli NIE die kabels getref het nie, sou enigiemand dan iets gesê het oor die helikopter-aankoms? Ek glo nie.

johan ·

Geen simpatie nie. Ek dink dit is pateties dat ouers hulle geld so mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.