Video: Helpende Hand gee kos, doeke in Rustenburg

CaptureSolidariteit Helpende Hand het doeke, formule en ander noodsaaklike bababenodighede oorhandig aan ma’s met jong babas wat deel is van niestakende gesinne in Rustenburg.

Die ma’s is ook deur ’n berader toegespreek om hulle tydens hierdie krisistydperk te probeer motiveer.

Solidariteit Helpende Hand het hierdie week sy noodleniging aan niestakende mynwerkers in die platinumgordel voortgesit deur voedsel en ander dringende benodighede te versprei.

Tinka Pieterse, een van die ma’s by die geleentheid, het vertel dat die staking ’n enorme finansiële impak op haar gesin het. “Ons sukkel om die mas op te kom. Ons het basies die meeste van ons goed al verkoop. As die staking nie binnekort ophou nie, gaan ons ons huis ook verloor,” sê sy.

’n Ouma, Eleen du Preez, vertel dat haar kinders en kleinkinders vanweë die staking by haar moes intrek. “Die eerste maand kon ons nog probeer oorleef, maar intussen het my kinders deur die staking hul werk verloor. [Ek het my] huis vir almal oopgemaak, maar dit gaan nog steeds moeilik.”

“Helpende Hand het oor die afgelope vyf weke meer as R700 000 se kos en ander dringende benodighede in die platinumgordel versprei,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Ons ondersteun ook reeds die voedingskemas van agt plaaslike skole en bied niestakende mynwerkers toegang tot emosionele en skuldberading.”

Volgens Brink is talle skenkings reeds vanaf die publiek ontvang wat aansienlik help om die nood te verlig. “Ons is baie dankbaar vir elke skenking en finansiële bydrae wat ons ontvang, omdat elke bietjie bydra om die reusenood te verlig. Ons doen nogtans ’n beroep op die publiek om steeds tot die rampfonds by te dra, omdat ons voorsien dat hierdie krisis nie binnekort opgelos sal wees nie.”

Kobus van der Linde, ‘n boer van Witrivier, het Woensdag met ‘n vragmotor vol nie-bederfbare produkte in Rustenburg opgedaag. Die produkte is deur lede van die Witrivier-gemeenskap geskenk. Nadat Van der Linde die vragmotor leeg gemaak het, het hy weer gery en met nog ‘n vol vragmotor produkte teruggekeer.

Om betrokke te raak besoek www.staaknie.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Martie ·

Ek is glad nie teen dit dat julle vir hulle kos gee nie, mooi gebaar, maar versterk ons nie in hulle kwaad nie, ek dink daar moet geen hulp kom nie, want hulle het werke waartoe hulle kan gaan, daar is duisende mense wit en swart wat sonder werke sit , baie slaap onder brue, hoekom hulle nie eerder help nie, ek soek graag 4 komberse vir mense wat 10 in een huis bly die komberse is so dun soos n doek, maar kry geen hulp nie, dit maak my seer. daardie mense het werk, asb help die wat dit werklik nodig het.

Rudi ·

Martie,
Solidariteit help slegs mense wat wel wil werk maar gekeer word deur ander gespuis om te werk.

Leony ·

Martie, jy het nie ‘n hart nie. Miskien moet jy ook mooi lees – hulle help nie-stakende mynwerkers.

Maddie ·

Martie jy het of nie mooi gelees of glad nie gedink nie. My man en ek word regstreeks geraak. Weet jy hoe voel dit om n werk te he maar jy mag nie gaan werk nie vir jou eie veiligheid? As gevolg daarvan het ons Januarie laas n salaris gesien en dit is NIE ons keuse nie! Ons en duisende ander mense hier Staak NIE! Weet jy hoe voel ons mans? Jy het nie n idee wat hier aangaan nie so doen my n guns en bly eerder stil. Beter nog Bid eerder elke dag saam met ons. Dankie Helpende hand dis mense soos julle wat ons hoop gee!

Hettie ·

Martie, ek hoop vir jou part jy kom nooit in so situasie nie. Sies man ek skaam my dat ‘n wit mens so iets sal se. Dink jy nou die kindertjies wat nie gevra het om in daai situasie te wees nie moet daaronder ly.
Ek dink jy moet vir jouself ook bid dat die Here jou hart sal sag maak en jou denke sal verander.

magda ·

Martie moes seker nog nooit haar baba in oe kyk en troos omdat sy nie haar melkie kan kry nie. Magtig man Martie jy is harteloos.
Ek bekommer my dood oor die kinders. Kom ons gaan krap in ons kaste en help daardie mense met kinderklere vir die winter.
Het nou net al my kind se klere wat te klein is eenkant gesit

Denzil ·

Dat daar sulke sinnelose mense ook kan wees soos jy martie. Die kinders van daai stakende mywerkers is net so n kind soos joune ongeag die kleur ons huil die selde as iemand sn seer gemaak raak. Jy soek n skenking hoekom dit nou soek sit jou skenking op Papier want dit sal nie uit die lug val nie. As jy iets in die gemeenskap waar jy bly wil wees staan op en doen iets, die dag as God met sy engele kom om die uitgesoektes kom haal stel hy nie belang aan jou storie soos die nie hy wil weet hoeveel van die soort het jy gehelp. Wees bly jou oe kan jy oopmaak in sy genade en hou vir eendag op om te kritiseer staan op en doen iets. Nelson Mandela het nie vir die geld gewim die land van ons gered uit sy verknorsing van aparrtheid nie nee hy het dit gered laat wit,swart,indier en alle nasie saam lekker kan vreedsaam lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.