Video: Hoe gemaak met Afrikanerstandbeelde?

V.l.n.r. is Flip Buys, Hannes Noëth, Sarina Frauenstein, Monica Mynhardt en dr. Danie Langner. (‘n Skermgreep uit die video.)

ʼn Kulturele bate van die Afrikaner, die standbeeld van een van ons grootste staatsmanne pres. Paul Kruger, het in die Pretoriase middestad agtergebly terwyl die wêreld om hom heeltemal verander het.

Daar word talle sterk argumente gemaak dat die standbeeld en sy hele monument op Kerkplein moet bly, veral omdat dit nie mag lyk of Afrikaners openbare ruimtes ontruim en simbolies padgee uit die kern van die stad nie. Maar ʼn mens sal ook moet kyk na argumente wat vra: Is dit nog “ons” plek en wanneer laas het ons dit besoek?

Daar is boonop ook tans ʼn wêreldwye vlaag aanvalle op standbeelde van ʼn Westerse afkoms, selfs die Klein Meermin-standbeeld uit Hans Christian Andersen se gewilde sprokiesverhaal in die hawe van Kopenhagen, Denemarke, het op 3 Julie onder vandale deurgeloop wat haar as ʼn “rassistiese vis” gebrandmerk het.

Plaaslik, en selfs meer onlangs, is die standbeeld van die imperialis Cecil John Rhodes teen die hange van Tafelberg in Kaapstad gevandaliseer en onthoof. Bewaarders van die Tafelberg Nasionale Park het op die koplose standbeeld afgekom terwyl hulle Maandag die gebied aan die bopunt van die trappe by die Rhodes-gedenkteken gepatrolleer het. ʼn Saak van vandalisme is in tussen by die SAPD geopen.

Maroela Media het ook berig dat vandale die standbeeld van pres. Kruger en die vier brandwagte in Junie op Kerkplein in Pretoria se middestad met rooi spuitverf getakel het.

Die vier brandwagte se gesigte is met rooi verf gespuit en die woorde “Killer killer” is op die voetstuk van die standbeeld gespuit.

Kruger se standbeeld het al in die verlede ook onder vandale deurgeloop en dit het nou die vraag laat ontstaan of daar nog ʼn plek vir veral Afrikaner-standbeelde in Suid-Afrika is. En indien wel, waar daardie plek is?

Maroela Media en Pretoria FM het saamgespan en ʼn paneel van kundiges bymekaar gekry om oor die saak te praat. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Hannes Noëth, voorsitter van die Kruger Genootskap, en dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van die FAK, het aan die debatgesprek deelgeneem.

Monica Mynhardt, ʼn junior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, is gevra om die jeug se perspektief te verskaf, terwyl prof. Anton van Vollenhoven, ʼn argeoloog en erfeniskonsultant, ʼn perspektief verskaf het op die tegniese aspekte van ʼn verskuiwing van standbeelde en monumente.

Die groep sprekers was dit eens dat daar beslis oor ʼn standbeeld, soos veral die van Kruger, se toekoms gepraat moet word, maar oor die vraag of dit wel geskuif moet word, was daar geen vinnige of maklike antwoorde nie.

Hannes Noët van die Kruger-genootskap meen die Krugermonument moet op Kerkplein bly. (‘n Skermgreep uit die video.)

Om te bly of te skuif?

Buys het gesê die bevolkingsamestelling in Suid-Afrika se openbare ruimtes het verander met die omwenteling wat die 1994-verkiesing meegebring het.

Dit het veroorsaak dat talle Afrikaanssprekendes die middestad van Pretoria verlaat het om hulself in woonbuurte te vestig. Sommige kultuurbates kon egter nie saam met die Afrikaners skuif nie en het in die middestad agtergebly en die vraag is nou of die Kruger-standbeeld ook hier moet agterbly.

“So ʼn verskuiwing sal omsigtig hanteer moet word. Dit kan nooit lyk of ons onsself en openbare ruimtes simbolies wil opoffer as ons ons kosbare standbeelde en kultuurskatte wel verskuif nie. Iets soos die Kruger-standbeeld het ʼn wetlike en historiese reg om te staan waar dit nou op Kerkplein is.”

Noëth het op sy beurt gesê die Kruger Genootskap voel sterk daaroor dat dié standbeeld moet bly waar dit nou is.

“Ek kan vir geen oomblik Kerkplein sonder die Kruger-standbeeld indink nie. Dit sal die hele kulturele landskap van die omgewing totaal verander.”

Noëth het boonop benadruk dat die standbeeld dalk maklik geskuif kan word, maar dat in gedagte gehou moet word dat dit deel vorm van ʼn groter monument wat die sandsteenvoetstuk en vier brandwagte insluit.

“ʼn Mens gaan die monument vernietig as jy net sekere komponente daarvan skuif.”

Dr. Danie Langner meen die Afrikaner-gemeenskap moet egter saam besluit oor die toekoms van dié betrokke standbeeld. (‘n Skermgreep uit die video.)

Langner meen die Afrikaner-gemeenskap moet egter saam besluit oor die toekoms van dié betrokke standbeeld.

“Kruger was ʼn man wat in verskillende kontekste binne Suid-Afrika tuis was en simbolies talle betekenisse vir verskillende Suid-Afrikaners het, maar ʼn mens wil nie hê sy standbeeld moet uiteindelik ʼn simbool van vernedering en verval vir Afrikaners word nie,” het hy gesê.

Langner was persoonlik betrokke by twee verskillende verskuiwings van standbeelde op sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat.

“Pres. MT Steyn se standbeeld is ordelik en vreedsaam verskuif, alhoewel dit steeds ʼn uiters emosionele saak is. Pres. CR Swart se standbeeld is egter in 2016 uitgekap, met klippe bestook en daarna in ʼn visdam gesmyt, waarna die standbeeld gered moes word.

“Ons het nou die geleentheid om proaktief en met ʼn erfenisstrategie die Kruger-standbeeld te hanteer.”

Monica Mynhardt van die Solidariteit Navoringsinstituut sê dit is belangrik om standbeelde en monumente weer deel te maak van jong mense se leefwêreld. (‘n Skermgreep uit die video.)

Tyd vir nuwe monumente

Terwyl daar nie eenvoudige antwoorde is oor die verskuiwing van die Kruger-standbeeld nie, was die sprekers dit eens dat daar wel soveel as moontlik nuwe monumente opgerig moet word.

Volgens Noëth is Sol-Tech se nuwe kampus, wat ook sy eie standbeeld gaan kry, en Akademia voorbeelde hiervan.

“Ons moet hierdie nuwe monument in die Afrikaner se leefwêreld in verweef sodat dit deel is van ons wêreld. Iets soos die verskuiwing van Totius se standbeeld van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus was hartseer, maar het ons ook begeester om ʼn nuwe Afrikaanse universiteit in die vorm van Akademia te bou,” het Buys bygevoeg.

Mynhardt het gesê dit is ongelukkig waar dat talle jong mense slegs die post-94‑werklikheid ken. “Ons kan nie dink dat daar ʼn tyd was wat ʼn gesin rustig piekniek op Kerkplein sou gaan hou nie.

“Dit is ook so dat die meesterverhaal wat gedryf word oor Suid-Afrika se geskiedenis verander het en dinge lyk nie meer dieselfde nie, maar mense sal altyd teruggryp na sekerheid en standvastigheid en dit is iets wat standbeelde en monumente kan bied.

“Dit is waarom dit nodig is om nuwe maniere te vind om hierdie standbeelde en monumente weer deel te maak van jong mense se leefwêreld. Iets soos die “Hier staan ons”-konsertreeks wat die Voortrekkermonument tans saam met die FAK en Jak de Priester aanpak, is ʼn uitstekende voorbeeld hiervan,” het sy gesê.

Prof. Anton van Vollenhoven. (‘n Skermgreep uit die video.)

ʼn Argeologiese perspektief

Van Vollenhoven het gesê die proses om ʼn standbeeld of monument te skuif is veel meer kompleks as wat mense dink.

“Die Kruger-standbeeld word nie net beskerm deur die erfeniswetgewing nie, maar daar is ook die Kerkpleinwet wat in 1978 uitgevaardig is en die hele plein as ʼn kulturele gebied beskerm. Die beteken albei wette sal in ag geneem word as dit sou oorweeg word om dié monument te skuif.”

Hy het gesê dit beteken onder meer dat ʼn omvattende impakstudie gedoen moet word waar bepaal word hoe Kerkplein se landskap sou verander, asook wat die positiewe en negatiewe impak van die standbeeld sou wees op sy nuwe terrein.

“Die belangrikste aspek van die verskuiwing sal ʼn konsultasieproses insluit. Soos met reg gesê is, Paul Kruger was ʼn komplekse karakter en sy standbeeld het nie net belang vir Afrikaners nie. Daar is ook talle bevolkingsgroepe buite die Afrikaners wat positief oor Kruger en sy geskiedenis voel. Selfs buitelandse instansies kon betrek word by die proses. Volgens die Kerkpleinwet sou die minister van plaaslike owerhede en die Tshwane-metro ook insae oor so verskuiwing moet lewer.”

Die Kruger-standbeeld sou ook nêrens anders so prominent kon wees soos wat dit tans op Kerkplein staan nie, meen Van Vollenhoven.

Oor die fisieke verskuiwing van die standbeeld het hy gesê dit sal ʼn groot projek wees om aan te pak. “Die beeld is groot maar die verskuiwing van die voetstuk sal selfs nog meer uitdagings bied aangesien dit van standsteen gemaak is wat maklik kan breek.”

  • Kyk die volledige gesprek en gesels saam op die kommentaarafdeling op Maroela Media en op Facebook:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JJ ·

Hoekom is ‘n standbeeld geplaas waar dit nou staan? Het dit ‘n spesifieke funksie wat dit juis daar vervul? Moet dit juis daar staan om aan elkeen , n boodskap te stuur? Die antwoord is nee- meestal is die plek deur die Munisipaliteit aangetoon. As die huidige posisie geen relevansie het nie, is daar geen rede waarom dit geskuif kan word nie. Vra ‘n boer in ‘n mooi omgewing en bring alle standbeelde op een plek saam en maak dit ‘n reuse toeriste attraksie. Plaas die klem op “bewaar” . As jy wil “bewaar” hoef jy nie jou standpunt aan ander op te druk nie.

Herman ·

Ai dat Jan van Riebeeck en standbeelde mense uit die slaap uit hou.

Anoniem ·

Dan moet die standbeelde van Nelson Mandela Robben Eiland toe gestuur word, want sy standbeelde wat oral opgerig is grief my.

Miskruier ·

Die bybel waarsku teen die maak van beelde, laat dit dus nie vir ons n afgod raak nie. Plaas hul op n gepaste plek en die wat in geskiedenis belang stel kan dit gaan besoek. Maak klein kulturele dorpies wat mense kan besoek, ons eie musiek, eetgoed ens. Iets soos die Prinsloo museum buite Pretoria

Piet ·

Hoekom sit ons standbeelde van mense op in die eerste plek? Kom ons sit dit liewer op vir gebeure en herdenkings. Mense is foutief en moenie so vereer word nie. En dit is altyd ‘n onnodige gestryery wat net ons aandag aflei. Pluk hulle almal grond toe

Josh ·

Goed, maar dan soek ons ou mandela se beeld ook weg uit Sandton.

Carina ·

Ek sien geen doel van standbeelde nie. Niemand kyk daarna nie en ek kan nie dink dat mense na ‘n plek sal ry net om na ‘n klomp standbeelde te kyk nie. Seker 80% van die land se mense weet nie eens wie die persoon was nie.
Dit is net geld mors en skep onnodige wrywing tussen mense en kulture. Los maar die standbeelde, niemand gee daarvoor om nie.

Alana ·

Daar is baie mense wat spesiaal na plekke ry om te gaan kyk na beelde, monumente en museums, en wat die inligting wat hulle daarmee saam kry, waardeer. Die res kan gerus hulle kennis uitbrei en uitvind wie iemand is, in plaas daarvan om besluite te neem oor mense en gebeure waarvan hulle niks weet nie. Wrywing tussen kulture vind juis plaas weens ‘n gebrek aan kennis en respek – standbeelde behoort ons te inspireer om aan beide leemtes te werk. So ook ander vorme van herdenking, soos straatname.

Die herdenking van gebeure en mense uit die verlede is een van die wyses van kultuurbeoefening wat mense van ander lewensvorme onderskei. Herdenking beteken ook nie aanbidding of onvoorwaardelike verering soos wat sommige in kommentaar voorgee nie. Al wanneer dit probleme veroorsaak, is wanneer mense wrewel jeens mekaar voel, en dan is die probleem te ernstig vir ‘n standbeeld se verwydering of verskuiwing om die kwessie op te los.

Anoniem ·

Vir ‘n paar jaar het ons in hierdie pragtige stad gewoon en gewerk. Ons het toe verhuis en na sowat 20 jaar moes ons vir die eerste keer weer na Pretoria ry om by die Dept Binnelandse sake te gaan aanklop. Ons kon ons oë nie glo nie. Tot die swartmense het vir ons vriendelik gemaan om eerder uit die stad te beweeg want ons was nie veilig nie! Ek is seker die man na wie Pretoria vernoem is sou vandag sê “Ek wil nie my naam gekoppel hê aan so ‘n plek. Dit is vernederend.” Na dit wat ons gesien en beleef het voel ek dat die plek Tswane genoem moet word. Verwyder Paul Kruger se standbeeld en alles daarom. Neem dit weg na ‘n plek waar ons dit in vrede kan besigtig wanneer ons wil. Pretoria sien my nooit weer nie maar ek sou graag in vrede die standbeeld van nader wou sien.

JohanR ·

As Afrikanerstandbeelde moet werdwyn, dan moet alle standbeelde verdwyn. Ek wil nerens in Nelson Mandela se bakkies vasloop nie!

marius ·

Haal alles self af en smelt dit . Verkoop die metaal en gee die geld vir die verarmde Arikaners . Punt

Chris ·

Verskuif die beeld na die kruger wildtuin en vervang met ‘n standbeeld van F.W.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.