[Video] Hommeltuig bars deur Kaapse kantoorvenster

Skermskoot uit video

Skermskoot uit video

ʼn Digitale ontwerper van Kaapstad het Donderdag ʼn reuse-skok gekry toe ʼn vlieënde voorwerp deur die venster van sy kantoor op die vyfde verdieping gebars en hom teen die kop getref het.

David Perel het Vrydag aan Maroela Media vertel van die oomblik toe die hommeltuig deur sy kantoorvenster in Groenpunt gebars het. “Ek het ʼn hoë fluitgeluid gehoor en die volgende oomblik was daar ʼn harde slag, stukkies glas het oral gespat en iets het my hard teen die kop getref. Ek het so groot geskrik! Jy kan hoor op die video daar het sommer kru-taal uitgeglip,” het hy gesê.

Volgens Perel was stukkies glas oor sy hele kantoor versprei en was die hommeltuig erg beskadig. Perel het gelukkig nie seergekry nie, behalwe vir ʼn kneusplek teen sy kop.

“Sowat tien minute later het die verleë eienaars van die hommeltuig aan my kantoordeur kom klop om die hommeltuig te kry. Hulle het verduidelik dat dit ʼn nuwe hommeltuig is en dat hulle besig was om dit uit te toets toe hulle as gevolg van die wind beheer oor die toestel verloor het. Hulle het probeer om die hommeltuig terug na hulle toe te stuur, maar die wind het dit dwarsdeur my kantoorvenster gewaai,” het Perel gesê.

Perel het die beeldmateriaal wat die hommeltuig afgeneem het toe die voorval gebeur het op YouTube gedeel. Kru-taal word in die video gebruik en kykerdiskresie word aanbeveel. Kyk die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Basson ·

Ek verstaan dat volgens wet mag sulke media (van die insident) nie gedeel word, aangesien hy nie die eienaar daarvan is? (Sommer net ‘n opmerking ook vir al die sosiale media obsessiewe fanatici)

Francois van Zyl ·

Daar is mos nou nuwe wetgewing wat hierdie goed se wild-en-wakker vlieg deur elke Janrap en sy maat verbied. Hoekom word hierdie hommeltuie nog toegelaat om so gevlieg te word?

Eric ·

Ek dink homeltuie is n goeie ding.Dit speel alreeds n Groot rol in misdaad voorkomming.As jy privaat will wees maak n plan.meeste mense wat privaat wil wees is besig met onheiligheid.Skend maar my privaatheid ek steel niks web nie

lisa ·

Ek gaan ook nou n video oplaai waar ek my toon teen my bad stamp…
Mens sien nou werklik niks fenominaal opspraakwekkend op die video nie

Johann ·

Hierdie hommeltuig is mos ‘n nare afloer-gogga! Ek kan nie insien hoekom wetgewing nie strenger is nie. Laat net persone met vlieglisensies toe om hulle te hanteer op afgebakende plekke. In die verkeerde hande is hulle in alle opsigte gevaarlik. Niemand gaan meer privaatheid hê nie. Spoor eerder kriminele daarmee op.

Tollies ·

Basson in die geval dink ek hy mag en enige persoon mag met die grootste vry moedigheid
die video laai hy was dan nou die eienaar van die landings gebied

Xa ·

Lyk vir my meer na n poging tot viral marketing vir sy besigheid, davidperel.net

Flippie ·

Die goed is minder gevaarlik as ‘n fiets of radiobeheerde vliegtuig. Nou wil almal weer hê die staat moet dit beheer.

As alles ewt gevaarlik is deur die staat beheer moet word, sal daar geen “fun” meer wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.