Video: Hond ‘herstel goed’ ná kettingsaagaanval

Bruno ondergaan ‘n operasie by die Animal Welfare Society nadat hy met die kettingsaag beseer is. (Foto: AWS of South Africa)

WAARSKUWING: Dié berig bevat inhoud van ʼn grafiese aard en kan sommige lesers ontstel.

ʼn Nege maande oue pitbull-terriërkruising sterk goed aan nadat iemand hom die naweek in Philippi-Oos in die Wes-Kaap met ʼn kettingsaag aangeval het.

Bruno se eienaar het hom Sondag met diep snywonde aan sy kop, nek en oor na die Animal Welfare Society of South Africa (AWS) gehaas. ʼn Stryery het glo ontstaan nadat ʼn man hout by Bruno se eienaar wou kap. Dié het weens die afsonderingsregulasies geweier om dit toe te laat en die ander persoon het oënskynlik sy woede op Bruno uitgehaal en hom met die kettingsaag bygedam.

Die man het glo probeer om Bruno se kop met die saag af te sny.

Jacque le Roux, ʼn veeartsenyverpleër verbonde aan die AWS, het gesê daar was Sondag groot kommer of Bruno die aanval gaan oorleef. Hy het heelwat bloed verloor en is in die intensiewe sorgeenheid behandel.

Bruno kort na die aanval. (Foto: AWS of South Africa)

Bruno het Maandag ʼn operasie ondergaan om die wonde aan sy kop te heg – en dit gaan tans skitterend met die hond, het Le Roux gesê. “Vanoggend swaai hy sy stert en is hy reeds sommer baie opgewek.”

Bruno is ook reeds uit die intensiewe sorgeenheid verskuif, maar moet steeds antibiotika en pynmedikasie inneem. Hy sal na verwagting nog ʼn paar dae lank by die sentrum behandel word voordat hy aan sy eienaar terugbesorg kan word. “Ons eerste prioriteit nou is om te verseker dat Bruno behoorlik herstel,” het Le Roux gesê.

Volgens hom is ʼn saak van dierewreedheid ná die voorval aanhangig gemaak en die ondersoek onder leiding van senior inspekteur Mark Levendal vorder goed. Bruno se eienaar ken die vermeende aanvaller.

Die vereniging het vroeër gesê tientalle mense het reeds om hulp aangeklop omdat hulle nie seker is dat hulle tydens die afsonderingstydperk die vermoë gaan hê om behoorlik na hul troeteldiere om te sien nie.

“Ons het ʼn verhouding met verskeie van dié desperate troeteldiereienaars opgebou en kan met sekerheid sê dat hulle werklik vir hul diere omgee,” het die vereniging gesê.

“Die moeilike situasie waarin hulle hul bevind is hartverskeurend en die druk op ons personeel is ongekend terwyl hulle die pyn, verlies en smart van dié troeteldiereienaars deel. Om na hul stories te luister en toe te kyk hoe hulle moet afstand doen van iets wat vir hulle so geweldig kosbaar is, is onbeskryflik.”

Die vereniging sê die diere word nie by sy skuilings afgelaai omdat hul eienaars hulle nie meer wil hê, of omdat hulle bang is dat hulle Covid-19 opdoen nie, maar uit blote desperaatheid omdat hulle weens ʼn verlies aan inkomste nie meer die vermoë het om behoorlik vir hul gesinne en diere te sorg nie.

Die vereniging sê hy verskaf troeteldierkos aan dié mense in ʼn poging om hulle te help om langer self na hul diere om te sien.

https://web.facebook.com/347424648611537/videos/518009489087345/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chantel ·

Ai tog liewe Bruno, hoop hy word heeltemal gesond. Probleem is, hierdie arme dier is nou geskend vir die res van sy lewe. Hy sal nooit weer dieselfde wees nie, diere hanteer stresvolle situasie totaal anders as mense. Ek hoop van harte hierdie hondekind word nie aggresief nie. Sterkte aan hom en sy mens-pa.

Sonneblom23 ·

Hulle moet die man se gesig bekend maak, sodat almal weet om hom nooit naby troeteldiere toe te laat nie. So bly Bruno is okay!!

4ntj13 ·

Ek hoop AWS kan Bruno se eienaar bystaan met goeie rehabilitasie van sy getraumatiseerde hondekind hierna!

Ek hoop ook SAPS vang die man met sy kettingsaag alreeds. Dis bewys dat sulke wreedaardige mense later soortgelyk oor mense ook voel.

George ·

SAPS mort die man toesluit en die sleutel in die see gooi!! Word gou gesond Bruno!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.