Video: Hond red eienaar in gewapende roof in Brakpan

‘n Skermgreep uit die video. 

Jacaranda FM se Good Morning Angels-uitreikprojek het Vrydagoggend Lood de Jager, die man van Brakpan wat by sy huis van sy salaris beroof is, se salaris volledig vervang.

ʼn Video van die voorval wat Woensdag voor sy huis se hek plaasgevind het, is wyd op sosiale media gedeel. De Jager se vierjarige Dobermann-hond, Niki, is in die rooftog gewond terwyl sy haar eienaar probeer beskerm het. ʼn Tweede skoot het De Jager se kleindogter, Nicoline, se broek getref, maar haar been gelukkig heeltemal gemis.

De Jager (58), wat sy loon as ʼn tjek ontvang, is van die bank af na sy huis in Brakpan agtervolg nadat hy oomblikke te vore dit vir kontant gewissel het.

Sy kleindogter was besig om die hek vir hom oop te maak toe die drie rowers toeslaan. In die video kan gesien word hoe die aanvallers De Jager uit sy motor dwing en hom van sy selfoon en al sy geld beroof. Hulle het drie skote afgevuur, waarvan een vir Niki getref het, toe sy een van die rowers bespring het.

De Jager, wat vir die balju werk, het Vrydagoggend met Martin Bester, aanbieder van Jacaranda FM se ontbytprogram, oor die voorval gesels.

“Ons is bly dat Niki oorleef het. Sy het 14 steke gekry en is reeds besig om tuis te herstel.”

Volgens De Jager was hy by ʼn bank in die Mall@Carnival-sentrum. “Hulle het presies geweet in watter sak om vir die R15 500 te soek. Dit het só vinnig gebeur en ek weet nie waar hulle my gesien het nie.”

De Jager het verlede jaar sy vrou aan maagkanker verloor. Ná dié tweede afgryslike beproewing het Bester en die Good Morning Angels met die ondersteuning van Lottostar sy salaris volledig vervang.

De Jager het aan Bester bevestig dat hy intussen vir hom bankrekening geopen het en dat sy salaris nou daar inbetaal sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

“Hulle het presies geweet in watter sak om te soek” – want hulle medepligtiges werk in die bank en gee vandaar die inligting.

Nella ·

Hulle hou jou dop vandat jy by die bank instap en volg jou tot by jou huis. Die kleintjie is duidelik nog nie geleer hoe dit in SA werk nie. Jy moet paraat wees, al is jy hoe klein. Sy stoot die hek oop en kyk ander pad. Die hele storie amper oor toe sy eers sien wat is besig om te gebeur. Shame…

christo ·

Mens dink dit kan nie met jou gebeur nie. Ek was ook ‘n slagoffer toe ek ‘n tjek vir my werkgewer moes wissel. Hulle wéét presies watter sak, en ja dit is seersekerlik met inligting en hulp verkry binne die bank. Hoe anders? Ek was nie die enigste slagoffer by Standard Bank Safeway tak in Witbank nie. Mens kry géén hulp van die bank soos om video materiaal beskikbaar te stel nie. Die SAPD Witbank het ook nie die saak ondersoek nie. Die werkgewer kan mos elektroniese oorplasing na die bankrekening of een van die banke se OTM ontrekkingstelsels doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.