Video: ‘Hy het alles van ons af weggevat’

Louis Smuts, sy vrou Belinda en hul kinders (Foto: Facebook)

Twee mans wat aangekla is in verband met die plaasaanval in Februarie verlede jaar waartydens ʼn bejaarde egpaar, hul seun en skoondogter doodgeskiet is, is Woensdag weereens in die hooggeregshof in Delmas uitgestel.

Amos Mthembu (29) het skuld beken op onder meer vier aanklagte van moord en een van roof met verswarende omstandighede. Prince Mngomezulu (27) het beken hy het gesteelde goedere besit. Hy het Mthembu ʼn rygeleentheid aangebied ná die moorde gepleeg is. Toe hulle aangekeer is, is Mngomezulu in die been geskiet.

Die twee mans sou na verwagting vandag uiteindelik hul lot hoor nadat hulle in Junie op verskillende aanklagte skuldig bevind is. Die saak is egter weereens uitgestel omdat daar probleme met die voorvonnisverslae was.

Maroela Media het vroeër berig Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), se liggame is in Februarie 2017 op die plaas Modderbult in Balfour, Mpumalanga, aangetref ná hulle doodgeskiet is.

Mthembu, die gesin se tuinwerker, het die familielede met ‘n vuurwapen uit hulle kluis doodgeskiet nadat sy versoek om ‘n lening geweier is.

Louis en Belinda laat twee kinders, Marcel (22) en Cherize (19) agter.

Drienie Adlem, die Smuts-egpaar se dogter, het in ʼn onderhoud met Gerhard Pretorius van eNuus, gesê die saak sloer te lank. “Dit voel of daar niks gebeur nie.” Sy sê dit voel of die hele familie uitmekaar geruk is. “Dit voel of ons uitmekaar gedryf het. Daar is nie meer daai standvastigheid wat die familie bymekaar gehou het nie. Dit was altyd die lekkerste tye as die familie saam gekuier het. Hy het alles van ons af weggevat.”

Die saak is uitgestel tot 1 Oktober.

Die volgende insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PJC ·

Ek verstaan nie hoekom hierdie saak so lank sloer nie. Kan iemand dalk meer lig op die saak werp.

EP ·

Hoekom neem die saak so lank om afgehandel te word? Lyk my dit is maar die norm in SA. Ironies dat dit meesal die tuinier is wat die misdaad pleeg. Dink hulle het baie tyd om te sien wat in die huishouding aangaan??

Oom Kalahari ·

Alle simpatie met hierdie familie wat al soveel drama moes deurmaak en die verskeurdheid wat dit op hul geplaas het deur ‘n ongenadiglike moordenaar en verkragter. Vandag moet onskuldiges deur hel gaan vir sulke swak optredes wat beplan word en buite beheer raak. Gaan leen geld by CR of JM as jul soek en dan is daar nog die Nkandla meester.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.