Video: Inwoners skoffel fluks in Bloem-gemeenskapstuin

Die tuin spog reeds met komkommers, tamaties, pampoene en die sonneblomme staan al byna skouerhoogte (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

In ʼn oop stuk veld op die hoek van Koedoeweg en Bosbokstraat in Fauna, Bloemfontein, pryk ʼn groentetuin soos min – en dis eiehandig deur inwoners van dié buurt gevestig.

Die tuin, wat as die Lumela-gemeenskapstuin bekend staan, is op die been gebring om nie net groente aan behoeftige inwoners van die buurt te voorsien nie, maar ook as projek om jongmense werk vir hul hande te gee.

Die tuin spog reeds met komkommers, tamaties, pampoene en die sonneblomme staan al byna skouerhoogte.

Marlé Robinson, ʼn inwoner van Fauna, het die tuin aanvanklik aangelê met die doel om hoofsaaklik groente te plant om aan behoeftige mense en welwillendheidsorganisasies in die woonbuurt te voorsien.

“Die mense in Fauna is hard deur die Covid-19-afsonderingstydperk geraak. Hulle sit sonder werk en kry swaar, werklik swaar,” sê Robinson.

Robinson het daagliks verby die oop stuk veld gery en gedink aan die groot potensiaal wat daarin opgesluit lê.

Marlé Robinson en Sethiri Legae (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Die idee van ʼn groentetuin het dadelik in my kop opgekom; nie net omdat ek lief is vir tuinmaak nie, maar ek het ook gedink op dié manier kan ek in die gemeenskap terugploeg.

“Boonop is die veld, met gras wat omtrent heuphoogte staan, ʼn seer oog in die straat.”

Robinson het in 2019 by die departement van parke aansoek gedoen vir goedkeuring om die stuk veld in Fauna te gebruik. Dit is verlede jaar toegestaan en sy het die tuin – met behulp van ander inwoners – in Oktober begin aanplant.

Robinson sien om na die tuin met die hulp van haar regterhand, Sethiri Legae. Dié twee vrouens dra elke dag water in emmers vanaf Robinson se huis aan. Dit is ʼn sowat ʼn straatblok van die tuin geleë en is moontlik danksy haar boorgat. Daar is nog nie water by die tuin self aangelê nie.

Die tuin is op die been gebring om groente aan behoeftiges te voorsien (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die tuin spog reeds met komkommers, tamaties en pampoene (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Legae woon oorkant die tuin en het op ʼn dag vir Robinson in die tuin sien werk. Sy het oorgestap en gevra waarmee sy besig is.

“Die volgende keer het Sethiri hier aangekom met ʼn graaf en van daar af het ons vennootskap begin.”

Die twee vrouens het mekaar nie vooraf geken nie.

Volgens Robinson het die plaaslike buurtwag, gemeenskapsforums en ander gemeenskapslede uit die staanspoor ingespring om met die tuin te help. “Al hoe meer inwoners raak by die projek betrokke. Dit is wonderlik om te sien.”

Die projek is afhanklik van skenkings soos plantjies, kompos of geld, om die tuin aan die gang te hou.

Die gemeenskap beoog om die tuin later uit te brei (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Robinson sê hulle wil ook die jonger inwoners by die projek betrek deur vir hulle ʼn afsonderlike bedding te gee om na om te sien.

“Ons wil die jonges aan die gang kry en afhou van die straat. Ons wil hulle ook opvoed om te sien waar kos vandaan kom.”

Robinson-hul beoog om die tuin later uit te brei en die hele stuk veld met groente te beplant.

“Ons begin klein om nie ons moed te breek nie, maar wil graag uitbrei. Ons wil later die mooiste tuin in Fauna hê wat genoeg groente vir almal in nood sal kan voorsien.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.