
‘n Skermskoot uit die video.
ʼn Beampte van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) is in die hospitaal opgeneem nadat hy en ʼn kollega Sondag deur ʼn groep kerkgangers aangeval en hul vuurwapens afgeneem is buite ʼn kerk in Hillbrow.
Die stad se departement van openbare veiligheid het die aanval op ʼn JMPD-beampte en die bestuurder van ʼn JMPD-insleepvragmotor ten sterkste veroordeel.
Volgens die verklaring het die aanval plaasgevind toe die twee beamptes ʼn motor wat onwettig in Claimstraat in Hillbrow geparkeer was wou wegsleep omdat dit ʼn verkeersopeenhoping veroorsaak het.
“Uit voorlopige inligting blyk dit dat die JMPD-beampte sy vuurwapen uitgehaal en ʼn skoot in die lug afgevuur het om te voorkom dat die oproerige kerkgangers na hulle toe beweeg. Dit het hulle egter nie van stryk gebring nie en hulle het die beampte aangeval,” lui die verklaring.
Die kerkgangers het die beampte oorrompel en hom ontwapen. Hulle het hom geslaan en hy was bewusteloos toe hy na die Milpark-hospitaal gehaas is.
Verskillende video’s van die voorval is sedertdien op sosiale media gedeel.
“Die aanvallers het die vuurwapen by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie ingehandig en een van die aanvallers is by die stasie aangehou vir die onwettige besit van ʼn JMPD-vuurwapen,” lui die verklaring.
Michael Sun, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het die voorval ook ten sterkste veroordeel.
“Ons sal nie toelaat dat die aanval op ons metropolisie onvervolg gelaat word nie. Die skuldiges sal moet teregstaan vir dié daad. Die voorval sal ondersoek word en die skuldiges sal aan die pen ry. Die departement wens die beampte wat steeds in die hospitaal is ʼn spoedige herstel toe,” het hy gesê.
Kyk hier na ʼn video van die voorval:
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
20 Kommentare
Hahaha, kry vir julle!
Wat sal mens sê… Die land en polisie het hul eie reëls geskryf en die massas volg maar net die reëls…..
Jap!!! Wat kan mens sê ne?
Put your money where your mouth is JMPD. Kom ons kyk of hier iets van gaan kom.
Kerkgangers nogal!