[Video] Jong manne maak wéér litte los, dié keer saam met pa’s

Skermgreep uit die video

Die drie jong mans wat vroeër vanjaar die internet op hol gehad het met hulle danspassies op ʼn plaaspad, het sosiale media wéér aan die gons.

Marnus Kruger (26), Jaco Stofberg (19) en Ryan Hayes (23) het bymekaargekom vir ʼn paar danspassies by Kruger se troue vroeër vanjaar in Rawsonville. ʼn Ander vriend het Vrydag ʼn video van wat daar gebeur het op Facebook gelaai, en dit is sedertdien meer as 100 000 keer gekyk.

In die video kan ʼn mens sien hoe die drie manne hulle pa’s aanvat in ʼn dansgeveg. “Ons het van niks geweet nie. Die seremoniemeester het aangekondig dat ons drie vorentoe moet kom. Hy het toe gesê daar is ʼn spesiale versoek dat ons bietjie moet dans en dat ons téén ons pa’s moet dans!” het Kruger laggend gesê. “Hulle wou sien wie dit die beste kon doen.”

“Ons pa’s was eers ietwat skepties, maar toe vát hulle hom! Dit was eintlik maar net simpelgeit, maar dit was baie lekker.”

Kruger het gesê die gehoor het hulle aangepor en baie gelag. “My vrou en al die gaste het baie daarvan gehou en vreeslik gecheer. Die gehoor was mal daaroor.”

Die drie manne het ook nie geweet van die gas wat ʼn video van die dansery neem nie.

“Om die waarheid te sê het ek ook maar eers dié week die video gesien. Ons het nie beplan om weer so iets te hê nie. Dit was baie spontaan.”

Kruger sê hulle moet een van die dae wéér gaan dans, dié keer vir ʼn advertensie.

“Ons het nou nie gedink daardie eerste video gaan só uitdraai nie! Dit is eintlik alles baie snaaks.”

Maroela Media het in Mei vanjaar berig die drie jong mans het pas vanaf Stellenbosch by die Hammelhoek-plaas tussen Calvinia en Sutherland aangekom toe hulle op ʼn plaaspad begin litte losmaak het. Die video is wyd op sosiale media versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Koala ·

Ag toe nou. Hulle het dit geniet
Baie geniet
Afrikaners is plesierig

Tammy ·

Hulle is net vrolik!!!! Baie dankie aan die mense wat dit met ons gedeel het, ons het dit vreeslik geniet.

Verna Parker ·

Maak my dag ! Wens ek kan meer vrolikheid sien in hierdie ou treurige lewe. Dankie manne.

Ta' B ·

Vat hom julle!! Die ‘oubase’ hoef toe geensins agter te staan vir die jonges nie! dink die advertensie wat hieroor gemaak gaan word, gaan baie oulik wees.

Niccy ·

Aww dis sweet. Dink net vir jare gaan die kinders nog hierna kyk en verlang na die tyd saam met hul ouers. Oulike seuns en fikse pappas

Theresa ·

Ai jai jai jai jaaaaaaai!!! Lekker! Loslit en plesierig op ‘n spesiale geleentheid. En net glimlag en lag waar jy kyk!! Heerlik.

Charmaine ·

Awesome verby. Ek is gek daaroor. So uniek aan hierdie klompie vriende en hulle ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.