ʼn Videogesprek met Dr Franclo Henning asook ʼn lokprent van die dokumentêr volg onderaan die berig.
Joost van der Westhuizen is drie jaar gelede met motorneuronsiekte gediagnoseer en nou wil hy graag fondse insamel om ʼn sentrum vir neuron-degeneratiewe siektes op te rig. Die sentrum beoog om sorg aan pasiënte te verskaf en navorsing oor die siekte te doen.
Die oprigting van dié nuwe sentrum is tydens die 2014 Silwerskermfees bekend gemaak tydens die première van die rolprent, Joost: Spel van Glorie. Die fliek vertel die storie van Joost se pad met motorneuronsiekte.
Maroela Media het met dr. Franclo Henning, ʼn senior neuroloog by die Universiteit van Stellenbosch en Tygerberg-hospitaal gesels oor sy betrokkenheid by die projek. In die video vertel Joost ook hoekom die projek vir hom so belangrik is.