Video: Kimberley krap kop oor visse in straat

Inwoners van KImberley is bekommerd oor babers wat nou in die straat (Foto: Verskaf)

Inwoners van Kimberley soek antwoorde oor visse wat in dié Noord-Kaapse stad se straat rondswem.

Babers is vandeesweek in poele water in Eastonstraat in die woonbuurt Cassandra gewaar.

Talle inwoners het beweer dat die babers in die strate begin uitbroei het weens die swak gehalte van water in die stad. Die VF Plus het ook in ʼn verklaring gesê hulle sou nie verbaas wees indien die visse van die vuil water probeer vlug nie.

Ockert Fourie, DA-raadslid van Kimberley, sê hy het verskillende verklarings vir die visse in die straat gehoor.  Wat hy van ’n baie betroue bron by die munisipaliteit gehoor het, is dat die visse van ʼn voortjie van die De Beers-terrein afkomstig is.

“Soos ek verstaan, het die visse niks met die stad se waterkrisis te doen nie,” sê Fourie.

Inwoners van Kimberley is keelvol vir die voortdurende wateronderbrekings wat sedert middel Februarie die stad lamlê. Inwoners sit soms ure lank sonder water en wanneer hulle wel water het, is dit vuil.

Water in die straat (Foto: Verskaf)

Volgens Kobus van den Berg, VF-Plus-raadslid van die Sol Plaatje-munisipaliteit, is die eintlik rede vir Kimberley se watertekorte die gebrekkige of geen instandhouding nie van waterinfrastruktuur. “Die huidige waterinfrastruktuur is so verouderd dat dit totaal vervang sal moet word. Dit help nie meer om net die gate toe te stop nie.”

Patrick Mabilo, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, het Sondag tydens ʼn mediakonferensie gesê die watertoevoer het die naweek ná twee weke aansienlik verbeter. Dit volg nadat die kapasiteit van die suiweringsaanleg by Riverton met 90% toegeneem het. Dit het op sy beurt daartoe gelei dat die kapasiteit van die Newton-reservoirs ook verbeter het.

Wateronderbrekings sal wel tot verdere kennisgewing van krag bly. Watertoevoer in laagliggende gebiede in die stad sal vanaf 18:00 tot 05:00 onderbreek word. Hoogliggende gebiede sal vanaf 20:00 tot 05:00 onderbrekings ervaar.

Volgens Mabilo gaan die munisipaliteit as deel van hul noodplan sewe watervragmotors in diens stel in gebiede wat glad nie water het nie. Een van hierdie gebiede is Galeshewe asook gebiede in die weste van die stad.

“Ons gaan veral aandag skenk aan skole, hospitale, klinieke, ouetehuise en ander kritieke instansies,” het Mabilo gesê.

Die DA het reeds op 14 Februarie gesê dat hy ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) teen die munisipaliteit gaan indien nadat inwoners toe reeds vir ʼn hele naweek sonder water gesit het.

Fourie sê hy het self die Riverton-aanleg en Newton-reservoir besoek en tot die gevolgtrekking gekom dat die munisipaliteit weereens misluk om proaktief die stad se water te bestuur.

“Ondanks die landwye vloedwaarskuwings het die munisipaliteit geen gebeurlikheidsplanne ingestel nie. Die monitering van die water moet geprioritiseer word, maar die munisipaliteit het versuim om dit te doen. Die modder wat met die reën afgespoel het, het die watersuiweringsaanleg se filters verstop.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bart-Man ·

Het die Munisipaliteit se naam verander? Na So Plaatjie. Se alles. Nè

Gert ·

Sewe watertenk vragmotors beteken seker daar is weer ‘n kader wat geldmaak uit die watertekorte.

Dries ·

Visse vlug uit die besoedelde water en vir die ANC. Hulle wil net soos ons graag immigreer

Charl ·

Kimberley, julle is nie die uitsondering op die reël nie, julle is déél ván die reël ! Vra maar net die inwoners van Parys in die Vrystaat, as dit nie water tekorte is nie is dit kragonderbrekings (beurtkrag uitgesluit !) en ándersom. Daar bestaan sedert 1994 níé meer so ‘n woord soos infrastruktuur nie, ten minste nie in die regering se woordeboek nie !

Smurf ·

Toe die land in ’94 vir die anc gegee is , het hulle nie geweet dat hulle eintlik dan die werk moet doen nie…..net sterre , reenboe en potte vol geld gesien…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.