Video: Koelkop veiligheidswag fnuik transitorowers

‘n Video van die voorval is wyd versprei. (Skermgreep)

ʼn Video van  ʼn veiligheidsbeampte wat onder ʼn bende rowers uitjaag het die afgelope paar dae wêreldwyd soos ʼn veldbrand versprei – en die man wat oënskynlik so koel soos ʼn komkommer agter die stuur sit, is wyd geloof vir sy ongelooflike kalmte terwyl die skote klap.

Die video is op 22 April op die N4 in Pretoria geneem toe ʼn bende transitorowers toegeslaan het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het verskeie skote op die voertuig geskiet in ʼn poging om dit tydens ʼn hoëspoedjaagtog tot stilstand te dwing.

In die video kan gesien word hoe die bestuurder van die voertuig – ʼn voormalige taakmaglid van die polisie – alles moontlik doen om die aanvallers af te skud.

Hy en sy kollega dra koeëlvaste baadjies terwyl skote in die agtergrond klap en van tyd tot tyd word ʼn kragwoord gebruik terwyl die bestuurder steeds voortjaag.

So het die bakkie na die voorval gelyk. (Foto: Twitter)

“Die bestuurder van die transitovoertuig ontwyk die rowers ʼn ruk lank, maar hou later stil en wag vir die hulle.

“Die rowers het gevlug sonder om enige geld te buit,” sê Naidoo.

Foto’s van die gepantserde bakkie wat ná die voorval op sosiale media versprei is, wys presies hoe dodelik die aanval kon gewees.

Sosialemediagebruikers was vol lof vir die man wat verseker het dat hy en sy kollega ongeskonde wegkom.

Die rowers het met leë hande gevlug. (Foto: Twitter)

Die maatskappy Fortis Pro Active Defense Solutions het in ʼn boodskap gesê die uitgelekte video het deur die wêreld versprei en dat almal bespiegel oor die identiteit van die bestuurder. Die maatskappy sê hy is oorval deur oproepe en boodskappe oor die voorval en die man agter die stuur van die voertuig.

Die maatskappy het bevestig dat hy ʼn oud-taakmaglid en nou ʼn hoofinstrukteur by Fortis is.

Hy is egter nie tans beskikbaar vir kommentaar oor die voorval nie, omdat dit nog die onderwerp van ʼn voortgesette ondersoek is.

Volgens Naidoo is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charlotta

Welgedaan

Persheks Adri

Wel gedaan! Dis nou die opleiding wat hom kalm gehou het. Ek salueer hom!!!

Wat ‘n jammerte dat SAPS so goeie man verloor het aan ‘n andermaatskappy. Dis wat ons kort in vandag se SAPS!

Hoekom

Die man is ‘n legende!

Renata

Dis nogal opvallend dat die kollega nie weet wat om te doen nie of nie wil reageer op die opdrag wat hy gekry het om te doen nie. Die bestuurder kon net so wel alleen in die voertuig gewees het.

melaney

Twee lewens was gespaar. Baie bly hulle weer die son kan sien opkom. Maar is dit nie nou tyd dat die vervoer van geld op ‘n beter manier geskied nie? Nie alle sekuriteits manne is gelukkig om na so ‘n jaagtog lewend weg te stap nie.