Video: Kolskoot met dié jawoord

Willie Myers se manier om sy verloofde, Johandri Pieterse, die ja-woord te vra, het mense gaande gehad. (Foto: Verskaf)

“Dit voel soos ʼn feeverhaal, maar die Suid-Afrikaanse weergawe.”

Johandri Pieterse (28) skaterlag terwyl sy vertel van haar verloofde, Willie Myers, se uitsonderlike manier om haar die jawoord te vra.

Nie net het Myers vir Pieterse skoongeboul met die vraag nie; die video van Myers se manier om Pieterse te vra om sy vrou te word is ook duisende kere op sosiale media gedeel.

Myers is ʼn beroepsjagter by De Rust naby Kroonstad en het op verlede Vrydag besluit om Pieterse te vra om met hom te trou. Pleks van ʼn romantiese ete, ʼn lugballonrit of roosblare en kerse op die stoep, het Myers seker gemaak die gewere is geolie en die teleskoop ingestel.

Hy het in die veld op die plaas waar hy werk ʼn teiken opgestel met die woorde “sal jy asb. met my trou?”

ʼn Niksvermoedende Pieterse is saam met Myers na die skietbaan in die veld waar hy kwansuis wou seker maak die vuurwapen is behoorlik ingeskiet vir die jagters wat op pad was. Sy was aanvanklik effe teësinnig: Pieterse is twee maande swanger. Sy vertel sy was moeg en honger en nie lus om gewere in te skiet nie.

Myers het egter deurgedruk en Pieterse gevra om deur die teleskoop na die teiken te kyk. ʼn Stomgeslaande Pieterse kon oënskynlik nie haar geluk glo nie, het omgedraai en in ongeloof na Myers gekyk. Dié was reeds, ring in hand, op een knie waar hy vir haar antwoord gewag het.

Dit was ʼn onomwonde en dawerende “ja!”

Die verliefde paartjie kort nadat Myers vir Pieterse gevra het om te trou (sy het ja gesê). (Foto: Verskaf)

“In die veld het hy vir my gesê ek moet skiet, maar ek wou nie want ek dink dis ʼn dom geweer. Toe gaan sit ek maar om te skiet en toe ek deur die teleskoop kyk, het ek gedink ek droom. Ek het omgedraai en hy het agter my gestaan. Ek het eers gedink dit is ʼn poets of ʼn ding, maar op daai oomblik het ek so gebid en net dankie gesê… Hy het amper my hart laat staan.”

Pieterse bieg dat sy ʼn bietjie hulp van Myers nodig gehad het om die ja-teiken raak te skiet; haar hande het so gebewe van opgewondenheid dat sy kwalik behoorlik kon korrel.

“Jy vra my rêrig? Laat ek net wéér lees,” babbel Pieterse op die video terwyl Myers steeds geduldig – en dik van die lag – op haar antwoord wag. Net die video op Facebook is reeds meer as 53 000 keer gekyk, talle kere gedeel en het honderde reaksies ontlok. Dit is ook op Instagram en TikTok gedeel.

Pieterse het ʼn voorliefde vir ʼn .308, terwyl Myers sweer by ʼn .30-06. En hy het haar hoeka vantevore gewaarsku dat sy vuurwapen nog haar voete onder haar gaan uitslaan.

“En dit het regtig,” lag sy.

Myers en Pieterse lag te heerlik terwyl hulle oor die spesiale oomblik gesels. (Foto: Verskaf)

Die twee het mekaar sowat twee jaar gelede op Welkom ontmoet, maar die liefde het eers later behoorlik begin blom. Pieterse bedryf ʼn konstruksiebesigheid en Myers bestuur ʼn jagplaas. Hulle deel ʼn liefde vir die buitelug en jag en het mettertyd besef hulle is uitgeknip vir mekaar.

“Ek verruil hom vir niks in die wêreld nie. Ek kan nou nog nie glo hy is my verloofde nie. Ek kry briefies en kaartjies en blomme. Hy maak vir kos en bak vir my en hou vir my deur oop. Hy is nog old school en dit is wat so cool is.”

Myers sê hy wou sy weergawe van die jawoord vra anders doen en oorspronklik wees. Die paartjie se gedeelde entoesiasme vir die plaas – en hulle vuurwapens – het hom op die regte spoor gesit.

“Ek was heeltyd bekommerd oor die kamera en het net gehoop dit neem op. Dit was net ons en die veld…”

Die video is intussen duisende kere gedeel en gekyk en selfs uit ander wêrelddele het mense laat weet dat hulle die paartjie se spesiale oomblik saam met hulle gedeel het.

Iemand uit China het laat weet dat hy nie ʼn woord Afrikaans verstaan nie, maar die video steeds geweldig geniet het. Ook uit die VSA, Engeland en veral Namibië het mense na die video gekyk en die paartjie gelukgewens.

Pieterse sê sy het reeds ʼn trourok in gedagte, maar die troudatum is nog nie vasgestel nie. Die troue sal waarskynlik eers ná die baba se geboorte wees.

“Willie het lank terug vir my gesê ek gaan die ma van sy kinders wees. Die babatjie is beplan, maar ek het regtig nie die trou-ding gesien kom nie. Maar ek hét diep binne my gewens hy vra my.”

Volgende wag die geleentheid om die baba se geslag bekend te maak – en hulle is reeds besig om aan ʼn eiesoortige manier te dink om dít te doen, lag die twee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Danie ·

Baie oorspronklik, goeie werk. Hoe sal sy nou elk geval nee se vir n man met n 30-sukses (30-06). Net die beste vir julle en julle toekoms!

Hennie J ·

Te oulik!! Hulle gaan seker die shotgun wedding in die Winchester Cathedral voltrek! Baie geluk en voorspoed

Jax ·

Te oulik. Baie oorspronklik! Baie seën op jul lewenspad saam.

Sê maar net ·

Aaaawwww, dit het nou my dag gemaak. So oorspronklik. Soveel vreugde. Ek wens julle albei net die beste toe. Mag die Here julle seën en nog lank vir mekaar spaar.

SjN ·

ook maar lekker bang gewees, hoekom in die Nee so klein op die teiken.

Cindy ·

ek LOVE hoe hy die “nee” so piepklein gemaak het LOL. te oulik!

Casper ·

My magtig en daar tjank ek ook sommer.Geluk julle twee en mag julle pad gesaai wees met geluk en alles wat mooi is.

Filistyn ·

Wow. Dis nou wat jy noem inisiatief. Pragtig. Mag julle lank en gelukkig saam wees.

Antoinette ·

Die video wys maar net weereens wat diep in meeste vrouens se hart lê. Ons droom reeds as dogtertjie om met ons droomman te TROU.

Frank John ·

Goed gedoen maat, goed gedoen. Awesome geluk en vele jare van blydskap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.