Video: Kom huis toe-wenner aangekondig!

Riana Minny en haar kleindogter, Mia.

Riana Minny en haar kleindogter, Mia. Foto: Maroela Media

Die oomblik is uiteindelik hier! Maroela Media en Cell C se Kom Huis toe-kompetisie het tot ʼn einde gekom en die wenner is reeds besig om heerlik saam met haar gesin te kuier.

Maroela Media en Cell C, in samewerking met 25 gemeenskapsradiostasies, het in 2016 ʼn soektog van stapel gestuur na één gesin om huis toe te bring vir ʼn eg Suid-Afrikaanse Kersvakansie. Uit honderde inskrywings is 25 semifinaliste gekies, en toe 7 finaliste.

Maroela se lesers, luisteraars van gemeenskapsradiostasies en ʼn paneel beoordelaars het na ʼn lang stemproses hul wenner gekies: Riana Minny, ʼn ouma van Richardsbaai in KwaZulu-Natal.

Riana, wat haarself ʼn Skype-ouma noem, het nog nooit haar Britse kleinkinders ontmoet nie. Maroela Media en Cell C het ouma Riana en die vierjarige Mia se Skype-teepartytjies ʼn werklikheid gemaak.

Riana het haar seun Johann Brouwer, sy vrou Bianca Boccia en haar kleindogter Mia (4) en kleinseun Eli (1) genomineer. Die gesin woon in Horsham in die Verenigde Koninkryk. Sy het haar seun vyf jaar gelede gesien.

Die besoek is vir Riana as ʼn verrassing gehou terwyl Maroela met die res van die gesin gekonkel het.

As deel van die kompetisie, reël ons boonop op 7 Januarie vir Riana saam met haar familie en vriende in Richardsbaai ʼn partytjie ter waarde van R60 000 waartydens die bekroonde Afrikaanse kunstenaar, Coenie de Villiers, as gaskunstenaar sal optree.

Kyk die video om te sien hoe ons Riana in Richardsbaai gaan verras het!

Riana se inskrywing:

kom-huis-toe-riana-minny-5

Riana, Bianca Boccia en haar kleinseun Eli. Foto: Maroela Media

Ek mis my seun en my kleinkinders. Ek treur vir hulle.

Ek is ʼn Skype-ouma van twee pragtige kleinkinders, Mia (ampertjies vyf) en Eli (net oor een jaar oud). My oudste seun, Johann Brouwer, het in 2004 Engeland toe gegaan om klubkrieket te gaan speel en daar te gaan werk, min het ek geweet dat hy die liefde van sy lewe daar sou ontmoet en dat hulle daar kinders saam sou hê en nesskop.

Ek het Johann in 2011 laas gesien, maar ongelukkig kon Bianca, sy verloofde, nie saam kom kuier het nie omdat sy in daardie stadium hoog swanger was met Mia, my eerste kleinkind.

Hierdie ouma se hart is seer, omdat sy nog nooit haar klienkinders ontmoet het of die kans gehad het om hulle styf in haar arms te druk nie. Ja, ek pik elke keer ʼn traan of twee as ons Skype.

Mia (Poppedonsie) is op 14 Januarie 2012 gebore en sy is die mooiste blondekopdogtertjie, maar ongelukkig ken sy haar ouma net deur ʼn rekenaarskerm. Sy gesels al te lekker met ouma en vertel my van alles wat mooi en opwindend was van haar dag. Ouma sien haar eerste treetjies wat sy gee op ʼn video wat Johann vir my stuur. Ons speel wegkruipertjie en hou ook teepartytjies oor Skype, maar dit is nie genoeg nie.

Ek het myself voorgeneem om daar te wees vir Eli (Bulletjie) se geboorte op 7 September 2015, maar ongelukkig het my finansies dit nie toegelaat nie. Hy is nou net meer as ʼn jaar oud en hy ken al sy ouma se gesig wanneer ons Skype. Hy glimlag breed as hy sy ouma oor Skype sien, maar weereens is dit nie genoeg nie.

kom-huis-toe-riana-minny-2

Riana het haar seun Johann Brouwer, Foto: Maroela Media.

My moederhart rou, my oumahart rou. Ek verlang.

My oumahart voel so leeg as ek Mia se skaam glimlag sien as sy vir my vra wanneer ek weer vir hulle ʼn pakkie gaan stuur met “sweeties” en “chippies” in. Eli se kostelike gesiggie wanneer hy sy ouma sien op Skype. Toe Mia haar eerste fietsie kry, sê sy vir my: “Look Ouma, I can ride a bike!”

Bulletjie, soos ouma hom noem, is rustig en heeltemal anders as Mia. Eli kyk alles mooi uit en is nou op die “ontdek”-fase waar hy orals heen rondkruip en lekker saam met sy sussie speel.

Johann het nie enige familie in Engeland nie en was al vir vyf Kersfeeste nie by die huis saam met sy familie nie. Dit is vir hom een van sy grootste wense om weer bietjie Afrikaans te kan praat, ‘n stukkie vleis te kan braai en saam met sy familie te kan kuier.

Mia verjaar in Januarie en dan word sy vyf. Ek dink dit sal vir hulle die lekkerste geskenk wees om hierheen te kan kom vir Kersfees en nie net ʼn jaarlikse pakkie te ontvang wat ouma al die pad van Richardsbaai af stuur met allerhande lekkernye en geskenkies van Suid-Afrika nie.

Wanneer ek kinders in die dorp sien wat dieselfde ouderdom is as Mia en Eli, dink ek altyd aan hoe ek hulle mis en moet ek myself altyd keer om nie ʼn traan te pink nie. Hulle is die mooiste kinders en is definitief hulle ouma se trots. As ek die geleentheid kan kry om hulle hier te kan hê vir Kersfees, sal ek met hulle pronk en spog by almal soos wat ek reeds doen elke keer as ek ʼn foto van Johann af kry.

Ek wil ook graag hê die kleinkinders moet hulle oumagrootjie, wat al 92 jaar oud is, ontmoet. Ek weet sy sal hulle ook graag wil vasdruk. Oumagrootjie is besig om blind te word en ek dink sy sal dit baie waardeer om haar agterkleinkinders te kan ontmoet. Min mense het die voorreg om vier generasies by mekaar te hê vir Kersfees en dit sal vir my die wêreld beteken as ons almal saam kan wees.

Ek wil graag my kleinkinders strand toe vat en wildtuin toe en die mooi van Suid-Afrika wys. Ek wil hulle bederf en liefde gee. Ek wil al my kinders by my hê en lekker Kersfees hou. Johann sê gereeld vir my hoe hy sy ma se kookkos mis, die pampoenkoekies, die lekker sagte kookvleisies en die malvapoeding!

Ek mis so baie uit op hulle lewens en ek wil graag deel voel van hulle, en hulle mis net so baie uit op ons lewens hier in Suid-Afrika en dit is hoekom ek voel hulle verdien dié wonderlike vakansie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johanna ·

Sjoe, nou tjank ek lekker. So bly vir julle almal. Geniet die tyd saam.

dolphin ·

dis wonderlik om die familie herinner te he en baie spandeer saam met die kleinkinders om leer te ken .

Helen ·

Ag dis nou so mooi storie. Dis eintlik so hartseer, maar lekker om te lees.

Elaine ·

Die trane rol hier waar ek is in Australia. Ek weet hoe dit voel. Ek mis my Moeks verskriklik.

Charlotte Barnard ·

Dit is ‘n pragtige storie!
Dankie Maroelamedia, dat julle ‘n werklike verskil in mense se lewens maak.

Coa ·

Absoluut fantasties, Dankie aan al die borge, Maroela Media, Cell C, wat hierdie mense se drome waar gemaak het (al ken ek nie die familie nie) Ken ek verlange as jou familie nie naby jou is nie. Lekker om sulke goeie nuus te sien. Hoop julle kuier lekker in SA.

Anoniem ·

Ai….lekker sit ek nou en huil.. Dit is so ‘n mooi gebaar van al die borge en mense wat dit moontlik gemaak het.

Zoey ·

Wow dit is is baie mooi Maroela, loop die trane toe ek die vreugde sien, dit is reeds swaar vir ‘n ma as haar kinders in ‘n nader dorp bly, dink nou net hoe moeilik moet dit vir die oumas en oupas wees wat hul kleinkinders dalk net eenkeer in 5 jaar sien. Dit was nou werklik iets besonders Maroela.

Annamarie Trollip ·

My hart jubel saam met joune Riana….
Hierdie is knop-in-die-keel MOOI ♡♡♡

Rln ·

Dit was nou n mooi storie, So bly vir Riana en haar man om hulle kinders te kon sien na so n lang tyd. Ek hoop dit is die eerste van vele besoeke… Die kompetisie het die deur oopgemaak, nou is dit spaar vir die volgende besoek.

Francois Williams ·

Totale vermorsing van geld wat eerder op SA se arme kindertjies gespandeerkon word…dis skande die…

Landie ·

Huil ek ook sommer nou lekker saam vir n gesin wat weer vir n slag lekker kan saamkuier en SA geniet. Baie dankie aan al die borge wat hierdie besoek vir hierdie gesin moontlik gemaak het!!!

Lalla ·

Hoekom Francois. Hierdie ouers het hulle kinders self grootgemaak. Nie kleintjies gehad en op die staat en ander se belasting-geld geteer om hulle groot te kry hie. As jy kinders wil he moet jy self vir hulle sorg en voorsorg tref!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.