Video: Kom huis toe-wenners trou toe sommer

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Johann Bouwer staan en wag voor die onthaalarea van ʼn knus gastehuis op Richardsbaai. Hy is geklee in ʼn wit kortmou-knopieshemp en ʼn kakiekleur kortbroek. Hy het hom voorberei op dié kusdorp se drukkende humiditeit voor hulle uit Londen SA toe vertrek het, het hy vroeër die dag geterg, maar nou val ligte reën reeds die hele dag oor die hele KwaZulu-Natal.

Oorkant hom staan Bianca Boccia – sy lewensmaat van die afgelope agt jaar. Sy is ewe gemaklik geklee in ʼn eenvoudige wit rok uit Woolworths se rakke, sandale en ʼn kroon van wit gevlegte blomme om haar kop. Oomblikke gelede het die pragtige, blonde klein Mia (4) voor haar ma in die paadjie afgedartel, en Eli (1), wat pas leer loop het, het wankelrig aan sy ma se hand saam met haar die paadjie afgestap.

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Dit is die paartjie se derde probeerslag om voor die altaar te staan – die eerste twee kere was hulle al diep in die beplanningsfase net vóór sy swanger geraak het met Mia  en Eli .

“Tegnies” was hulle “veronderstel om net partytjie te hou”, skerts Johann. Hy en Bianca is die wenners van Maroela Media en Cell C se Oorsee? Kom huis toe met Cell C-veldtog en het dié Kersfees vir die eerste keer in langer as vyf jaar die geleentheid gehad om saam met hulle familie te wees. Met dié veldtog het Maroela Media en Cell C vir een gesin in die buiteland die geleentheid gegee om vir die Kersseisoen by hul familie in SA te kom kuier. Die partytjie vir Suid-Afrikaanse familie en vriende, wat toe in ʼn troue verander het, was deel van die wenners se prys.

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

“Maar toe gaan speel ek en die ander manne gholf, en toe ons van die baan af terugkom, was daar reeds eenstemmigheid: ons moet sommer die knoop ook deurhak terwyl ons hier is!”

Dit was ouma Babs (92) wat besluit het daar moenie langer gewag word nie, vertel Riana Minny, Johann se ma en die persoon wat Johan, Bianca en die twee kinders vir die Oorsee? Kom huis toe met Cell C-veldtog genomineer het. “Dit was vir haar ʼn groot ding dat die kinders nie getroud is nie. Toe die mans gaan gholf speel, het sy op die telefoon geklim en vir Bianca gevra hoekom hulle dan nie sommer trou nie. Toe Johann van die gholfbaan af terugkom en van die hele petalje hoor, het hulle mekaar een kyk gegee en gevra ‘hoekom nie?’”

Daarom dat dié paartjie sonder enige fieterjasies voor die kansel staan: dié troue is binne drie dae gereël.

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Heel voor in die saal neem Johann die mikrofoon uit die staander. Sy hande bewe liggies terwyl hy die wit bladsy voor hom oopvou. Ongeveer 20 mense, sommige familie wat meer as vyf uur op die pad aangedurf het om hulle te sien trou, luister in afwagting.

“Vandag is ʼn gewone dag: Die son het opgekom, sommige mense het laat geslaap, ons is weer om 05:30 deur ons seuntjie wakker gemaak en ek is steeds bang vir slange. Maar wat nie so gewoon is nie, is dat ons vandag trou en lewenslange beloftes aan mekaar maak. So vandag, hier in die teenwoordigheid van God, ons familie en ander getuies, belowe ek om jou lief te hê tot die dag wat ons paaie skei,” lees hy sy troubelofte aan haar.

Toe dit Bianca se beurt is, sluk sy swaar aan die trane. “Jy is my beste vriend. Ek het verlief geraak op jou sin vir humor, jou goedhartigheid en jou manier van omgee. As jou vrou beloof ek om vir jou lief te wees sonder voorwaardes. Ek beloof om jou te ondersteun en te respekteer. Jy is die verlore stuk van my legkaart en ek is lief vir jou.”

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Ná die dominee die groen lig vir die eerste soen as man en vrou gegee het, loop die egpaar met die rooi tapyt af terwyl familie en vriende hulle toejuig.

“Vandag is my hart tevrede en verheug. Dis hoe dit moes wees,” vertel Riana.

Dié ma van twee, wat haarself ʼn Skype-ouma noem omdat sy gereeld saam met haar kinders en kleinkinders teepartytjies oor die internet hou, sê sy kan nie in woorde sê hoe sy voel oor die voorreg om saam met haar kinders te wees vir dié geleentheid nie.

“Dis anders om hulle warm lyfies styf te kan vashou wanneer ek vir hulle sê ek is lief vir hulle. Die Here het vir my ʼn groot geskenk gegee deur ons die wenners van die kompetisie te maak. Ek wens ek kon die horlosie stop en hulle by my hou.”

En die egpaar? “Ons is so gelukkig. Ons voel vervuld. Dit het alles so vinnig gebeur, maar ons het vandag ʼn hart van dankbaarheid. Dit is wonderlik om hier te wees saam met mense wat ons liefhet.”

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Hulle is later die aand ook deur die veelbekroonde sanger Coenie de Villiers vermaak waar hy ʼn paar van sy gunstelingsnitte, sommige ouer en ander vanaf sy jongste album, Emoji, gesing het. De Villiers het dele van die lirieke vir Bianca, wat slegs Engels praat, vertaal. Hy het ook enkele dae vantevore die troumars vir dié geleentheid leer speel.

Hulle beplan om vanjaar ook in Engeland ʼn klein troue te hou sodat Bianca se familie daar ook die spesiale dag saam met hulle kan vier.

Die gesin is tans op pad om saam met ouma Babs te wees voor hulle eerskomende week terugvlieg Engeland toe.

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Foto: Darkwhite Creative/Rudi Stadler/Facebook

Maroela Media het vroeër berig dié Skype-ouma is die wenner van die Maroela Media en Cell C se Kom Huis toe-kompetisie. Maroela se lesers, luisteraars van gemeenskapsradiostasies en ʼn paneel beoordelaars het na ʼn lang stemproses Riana as hul wenner gekies.

ʼn Spesiale woord van dank word vermeld aan Rudi Stadler wat op kort kennisgewing baie ywerig die egpaar se pragtige troufoto’s geneem het. Besoek Stadler se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elsie ·

Pragtig, pragtig en nogmaals pragtig!!!! Sprokiesverhaal. Wens julle alles wat mooi is toe!

Katryn ·

Aaag dit is so pragtig en romanties! Ons is baie dankbaar dat hulle die knoop hier in ons pragtige sonnige Suid Afrika deur gehak het! Laat dit ‘n les vir andere wees: liefde geduld en verdraagsaamheid sal altyd seevier! Dis tog wat Hy van ons verwag!!

Heidi ·

Ons wil net dankie se aan julle dat ons die lank aan julle kon voorsien het. Dit was ‘n groot eer gewees!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.