Video: Krisistaakspan vir Telkom-afleggingsproses

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Junie 2015) Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Junie 2015) Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit se krisistaakspan vir die hantering van die Telkom-afleggingskrisis het vandag ʼn noodplan vir die hantering van die afleggingsproses bekend gemaak. Die plan sluit ʼn regstrategie, navorsing, ondersteuning aan Solidariteit-lede by Telkom en ’n finansiële adviesdiens in. Die taakspan bestaan uit topregslui van die vakbond, senior navorsers, beraders en finansiële adviseurs.

Marius Croucamp, hoof van die Kommunikasiebedryf by Solidariteit het dié vakbond se vierpuntplan in ‘n verklaring bekend gemaak:

1. Regstrategie

Solidariteit het sy regspan opdrag gegee om die wettigheid van die proses wat Telkom met die beplande afleggings volg, te bevraagteken. Artikel 189 en 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge bepaal dat werkgewers eers breedvoerig met vakbonde moet konsulteer wanneer personeelverminderings beplan word. Na regte moet die proses met ʼn formele artikel 189-kennisgewing begin. Die finale getal werknemers wat afgelê moet word, wanneer hul diens beëindig sal word en watter alternatiewe daar vir die afleggings oorweeg kan word, word eers tydens die konsultasieproses bepaal.

Telkom het reeds besluit presies hoeveel mense tot in 2018 hul tasse moet pak, wanneer hulle die maatskappy moet verlaat en het begin om vrywillige skeidingspakkette aan werknemers aan te bied voordat werknemers van al dié alternatiewe bewus is. Deur hul werknemers in die duister te hou oor al die alternatiewe, probeer Telkom werknemers forseer om van die opsie van vrywillige skeidingspakkette gebruik te maak. Werknemers het boonop te min tyd om die volle omvang van die finansiële impak van hul besluit te oorweeg omdat die pakkette vir slegs ʼn kort tydjie beskikbaar is voor die formele afleggingsproses (volgens Telkom) eers begin. Ons meen dus die proses is prosedureel foutief en ons oorweeg regstappe om Telkom te dwing om die regte proses te volg.

2. Navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut

Die vakbond het Telkom al verskeie kere versoek om meer inligting oor hul beplande nuwe besigheidsmodel te verskaf sodat die lewensvatbaarheid en impak daarvan op werknemers in diepte ondersoek kan word. “Telkom het nou begin om werksforumsessies te hou om meer inligting te verskaf. Ons meen dus dat Telkom se proses voortydig is en dat die werksforums eers die geleentheid moet kry om hul werk te voltooi sodat ons die inligting wat daaruit bekend word, kan ontleed en om tydens ʼn formele konsultasieproses werklik die geleentheid kan hê om betekenisvolle alternatiewe voor te stel.”

3. Finansiële adviesdienste

Solidariteit is bekommerd dat Telkom nie genoeg doen om sy werknemers volledig in te lig oor die finansiële impak wat sy planne op individue gaan hê nie. Telkom fokus net op kostebesparing en is bereid om sy werknemers se finansiële toekoms daarvoor op te offer. Solidariteit het finansiële adviseurs opdrag gegee om inligtingstukke op te stel wat die voordele, nadele en impak van die opsies wat tans op die tafel is, uiteen te sit.

4. Ondersteuning aan Solidariteit-lede by Telkom

Solidariteit besef dat die huidige personeelverminderingsprosesse by Telkom ʼn enorme emosionele impak op ons lede het. Telkom toon geen empatie vir sy werknemers nie en bied ook nie voldoende hulpbronne om werknemers te ondersteun om die trauma en onsekerheid waardeur hulle nou gaan, te hanteer nie. Solidariteit het besluit om inligtingsessies te hou waar beraders in groepsverband basiese traumaberading met werknemers gaan doen. Individue wat meer hulp nodig het, sal na geskikte mense verwys word.

Die feit is dat geen mens ʼn weldeurdagte, rasionele besluit oor hulle toekoms kan neem wanneer ʼn mens emosioneel getraumatiseerd is nie. Telkom behandel sy werknemers reeds jare lank soos blote nommers. Die werknemers moet nou betaal vir swak politieke aanstellings op topbestuursvlak wat planne eenvoudig van bo af deurvoer en dit is die gewone, lojale werknemer wat met sy werksekerheid daarvoor moet betaal. Die onsekerheid by Telkom word nou vererger deurdat daar in die eerste plek nie voldoende inligting aan werknemers beskikbaar gestel word om ʼn besluit te neem nie. Boonop word ʼn wortel van ʼn skeidingspakket voor hul neuse gehou terwyl die swaard van afleggings terselfdertyd ook oor hul koppe hang.

Telkom het vroeër die week aangekondig dat hy beplan om sy werksmag deur middel van Vrywillige Skeidingspakkette en Vrywillige Vervroegde Aftredepakkette met 4 400 werknemers te besnoei. Vroeër vanjaar het daar reeds 724 personeellede pakkette aanvaar. Indien dié nuwe teiken nie gehaal word nie, sal gedwonge afleggings in Julie volg om by die verlangde syfer uit te kom. Nóg nagenoeg 3 400 permanente werknemers sal na ander maatskappye oorgeplaas word. Dit is bo en behalwe 1 170 werknemers wat reeds deur artikel 197-sake-oordragprosesse geskuif is deurdat verskeie sakeportefeuljes binne die maatskappy reeds uitgekontrakteer is.
[wpvideo 27NpLgmF]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.