Video: Kroegeienaar skrik groot toe rowers toeslaan

Die twee gewapende mans het van die Van Blerkpark, wat oorkant die kroeg geleë is,na Isabell gehardloop (Foto: Skermskoot)

Isabell Rabie, die eienaar van Tracers, ʼn bekende kroeg in Middelburg, was al vele kere die slagoffer van misdaad, maar dit is die heel eerste keer wat sy in die loop van ’n vuurwapen moes vaskyk.

Rabie is erg getraumatiseerd nadat sy Maandagoggend buitekant die kroeg deur twee gewapende mans oorval en beroof is.

Rabie vertel sy het omstreeks 08:00 die kroeg oopgesluit toe twee mans vanuit Van Blerkpark, wat oorkant die kroeg geleë is, haar bestorm het. Haar dogter, Dynette, wat saam met Rabie by die kroeg werk, het in die motor gesit en vir haar ma gewag. Sy het die toneel voor haar sien afspeel.

“Die mans het op my afgestorm en twee vuurwapens uitgeruk en op my gerig. Een van hulle het ’n vuurwapen teen my kop gedruk,” vertel Rabie.

“Ek het so groot geskrik dat ek my handsak en twee sakke vol kunstoebehore – wat in my hande was – op die grond neergegooi het. Ek het gedink my lewe is belangriker as enige aardse besitting.”

Die mans het Rabie se handsak gegryp en laat spaander. Hulle het die twee sakke met kunstoebehore gelos.

“Daar was ongeveer R8000 se kontant, my beursie, bril, selfoon, ’n bos sleutels, my identiteitsdokument en bestuurslisensie in my handsak. Dit is basies my hele lewe.”

Rabie sê sy was van plan om later die dag die kontant te gaan bank.

Volgens Rabie het hulle kort daarna die polisie byna tien keer gebel, maar dié het tot op hede nog nie reageer nie. Sy is van plan om vandag (Dinsdag) ’n saak by die polisiestasie aanhangig te maak.

Rabie het ’n ruk gelede kameras buite die kroeg laat installeer en dié het die voorval vasgevang.

Rabie sê sy moet die gebeure nog verwerk en gaan vir haar ’n gaspistool vir beskerming aanskaf.

“Daar is al sewe keer by die kroeg ingebreek, maar dit is die heel eerste keer dat ek op só manier deur rowers gekonfronteer is.

“Die ergste is dat jy aan jou eie genade oorgelaat word omdat die polisie glad nie reageer nie.”

Die polisie het aan Maroela Media gesê hulle is nie bewus van die voorval nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Misky ·

Deesdae is die kriminele om elke hoek en draai en wag net hul kans af. Grootste skade is eintlik jou id en bestuurlisensie en om dit weer te kry. Sterkte en so gebeurtenis bly by ‘n mens lank na die tyd nog

Plasie ·

N gaspistool? Neewat los maar! Kry vir jou n 9mm of iets en kry klaar. So rooftog nooit lekker nie, sterkte.

Phillip ·

Poote is maar lekker laks ne sit net en wag vir hulle selaaris sou dit anders om wou se maar weer dink

Gert ·

Hulle het haar mooi uitgekyk. Maar as sy op hulle geskiet het of doodgeskiet het het die polisie mekaar doodgetrap om haar agter tralies vir moord te kry

Keith ·

Stem saam, maar sy was TOTAAL te “besig” in onbewus van haar omgewing, en daardie manne het seker dae lank oorkant die straat gestaan en die ding beplan. Sad storie die. Ek stem saam met Anthony dat daar wel meer as twee mense betrokke was. 3 or 4.

Anthony ·

Daar was 4 mense daarby betrokke, die twee uit die park gekom & wat in die pad afstap het en op die hoek gaan staan het was hul lookout gewees

Keith ·

Ja. It looks like at least 3 or 4 involved. If you watch also in the last few seconds of the clip, when the robbers go back to their start point, there is a “handover” of something to the small guy who gets up and walks out the gate… and then the video cuts off. Too short to get the whole picture on this video. The problem to my mind, is complacency… this lady is TOTALLY unaware of whats going on around her . Totally unaware. They knew exactly what she would do next. Sad story, but I’m glad she survived.

ES ·

Nee Mev Rabie – gaspistole is nie goed vir self-verdediging nie! Skaf ‘n regte pistool af sodat jy jou lewe voldoende kan beskerm. Jy wil nie jou lewe verloor omdat boosdoeners dink jou gaspistool is ‘n regte een nie.

casper ·

Jip — die eerste keer om die loop se gat te sien — Maar vir seker nie die laaste keer nie — Welkom in Azania !!

Moeilikheid ·

hoekom sal die polisie nou bewus wees van die voorval hulle is inkompetent om bewus te wees van enige iets

Kathleen ·

Die boosdoeners moes haar ‘n geruime tyd dop gehou het , roetine is ‘n groot fout wat meeste van ons maak . Ek weet nie wat sal ek doen indien so iets met my gebeur nie , seker eers skree en dan begin hardloop ! Sterkte Isabell , so iets vergeet mens seker nie maklik nie . Ons vrouens moet almal formele self-verdediging-opleiding kry , soos Jennifer Lopez in die fliek Enough !

Elinette ·

Jy kan soveel selfverdedigingsopleiding kry as wat jy maar kan, maar as dit met jou gebeur, skrik jy jouself in ‘n ander bloedgroep en geloof in en dan kan geen mate van selfverdediging jou help nie.

Elinette ·

Kyk mooi – hulle het haar lank en goed dopgehou terwyl sy uit die kar geklim het …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.