Video: Kwaai olifantbul gaffel bakkie

Die bakkie nadat die olifant dit beetgekry het. (Foto: Bosbok Gas)

Daar word dalk nou lekker geskerts oor die olifant-teen-bakkie-video wat die afgelope paar dae soos ʼn veldbrand op sosialemediaplatforms versprei is. Toe ʼn opgerukte olifant egter vir Norman Nukeri bestorm het, was dit bes moontlik baie dinge – maar snaaks was nie een daarvan nie.

In die video van ʼn paneelbordkamera kan gesien word hoe Nukeri Dinsdag op ʼn grondpad in die Klaserie-reservaat buite Hoedspruit met ʼn bakkie van Bosbok Gas, waar hy ʼn werknemer is, ry. Nukeri, wat ook ʼn waentjie met diesel gesleep het, verminder spoed toe hy ʼn trop olifante – koeie en kalfies – in die bos voor hom oor die pad sien stap.

Dan kom die bakkie heeltemal tot stilstand.

Kort daarna kom die oënskynlik befoeterde olifantbul links uit die bosse. Die dier se ore wapper en sy stert staan reguit. Die olifant storm reg op Nukeri in die bakkie af en dié slaan hard op die voertuig se deur in ʼn poging om die olifant die aftog te laat blaas.

Die olifant gee enkele treë agteruit, maak ʼn wye draai deur die bosse en pyl dan weer op die bakkie af. Dié keer stuit niks die olifant nie en hy gaffel die bakkie se enjinkap met Nukeri wat vervaard probeer agteruit ry.

Die enjinkap word sleg opgefrommel, waarna die olifant omdraai en steeds stert in die lug wegstap.

Die bakkie se enjinkap is sleg opgefrommel, maar Nukeri was minstens ongedeerd. (Foto: Bosbok Gas)

“Norman het presies gedoen wat hulle vir ons geleer het om te doen wanneer jy in so ʼn situasie beland en tog het die olifant steeds aangeval,” sê Ruan Geldenhuys, verbonde aan Bosbok Gas.

“Jy moet stilstaan en probeer geraas maak.”

Nukeri wou nie self kommentaar lewer nie en is reeds terug op sy pos. Volgens Geldenhuys was hy ongedeerd – maar kwaai geskok – ná die voorval. Hulle het hom daarna in die reservaat gaan oplaai en ʼn ander drywer het die beskadigde bakkie uit die reservaat bestuur om die geskokte Nukeri ʼn kans te gee om tot verhaal te kom.

Die skade aan die voertuig beloop na raming tussen R40 000 en R50 000.

Geldenhuys sê die video het tot in die buiteland versprei en Bosbok Gas se fone lui onophoudelik met mense uit selfs Europa en die VSA wat al daaroor navraag gedoen het.

BOSBOK GAS got some gas of their own

Posted by Cedric Loe on Wednesday, June 2, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Wielspore ·

Afrika is nie vir sussies nie, hier moet jy sterk wees!

Henryet ·

Dink iemand dat die plifant dalk n sny plek op sy slurp kon hê na die metaal wat hy so gebuig het?

Kirst ·

Haar vel is te dik en daardie slurp bestaan uit tot 40 000 spiere (in vergelyking met omtrent 600 in ‘n mens se hele lyf).

Cherokee ·

Henryet, wat sal dit tog help om bewyse teen die olifant in te samel. Die olifant sal ook nie vrywillig ‘n ondersoek toelaat nie.

Misky ·

Sjoe, my senuwees sou aan flarde wees en dit moes vreeslik gewees het in daai paar sekondes vir die arme man. Bly jy is veilig Norman

Gerhard ·

Wip sy haarself nou vir daai bakkie. EK is bly hy is ongedeerd.

twaalfboor ·

Duidelik het jy die video gekyk en nie geanaliseer nie. Gaan kyk weer na die video.

Chantel ·

Dit is nie kinderspeletjies om met ‘n dieselwaentjie terug te ry nie of met enige iets wat jy sleep, of doen jy dit perfek. REGTIG en gaan lees weer mooi, hy het ‘n TROP olifante gewaar, daarom het hy gestop.

Kirst ·

Hy het ver van die trop olifante gestop toe hy sien hulle steek die pad oor. Wegry was nie ‘n opsie met ‘n sleepwa en ‘n nou pad met bos aan weerskante nie.

Wessel ·

Let op dat hy ‘n sleepwa agter hom gehad het wat dit moeilik maak om agteruit te ry.

Ben ·

Die drywer het op 2 verskillende tye tyd gehad om te ry. ?????????????

Wessel ·

Let op dat hy ‘n sleepwa agter hom gehad het wat dit moeilik maak om agteruit te ry.

Althes ·

Dit wil voorkom met videos wat ek al gekyk het dat die olifante juis kom wanneer teen metaal geklap word

Pitbul ·

Dit sou Pitbul gas gewees het en nie Bosbok gas as dit met my gebeur het…

Pandora ·

Norman het dit puik hanteer. Hy het nie eers geskree nie en protokol gevolg. Net die geraasmaak op die bakkie wat bietjie vreemd is – maar as die eienaar sê dis wat hulle geleer is om te doen, kan ons net sê welgedaan Norman. Jy is ‘n MAN om so kalm te bly.

Debby ·

Ek dink sy onderbroek moet ook vervang word, heel moontlik n bruin streep in

Niklaas ·

Nie ‘n gelukkige Olifant nie. Die voorval kon meer ernstige gevolge gehad het.

Moedeloos ·

Daar was seker kleintjies in die trop daarom het die olifant so opgetree. Ek sou al met die eerste stormloop omgedraai en pad gevat het totdat die trop op n veilige afstand is. Bly die bestuurder is ongedeerd dit moes werklik n baie scary oomblik gewees het.

Johan ·

Opgerukte olifant? Befoeterde olifant klink baie beter! Dit nog sterker gestel word, maar liewer nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.