Video: Kyk Rietvlei se skattige jagluiperdwelpies

’n Skermskoot uit die video wat wys hoe die ma en welpies oor die pad drentel.

Die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria is nou vyf skattige jagluiperdwelpies ryker.

Die Tshwane-metroraad het Maandag twee video’s van die welpies op sy Twitter-profiel gedeel, wat vinnig deur ander sosialemediagebruikers versprei is.

Luidens die inskrywing is die welpies ongeveer ses weke oud. Hul ma, Njozi, word dikwels vroegoggend of laatmiddag in die reservaat gesien.

Sipho Stuurman, woordvoerder van die metro, sê die welpies is oor die afgelope naweek vir die eerste keer deur Tshwane se natuurbewaarders opgemerk.

Hy sê jagluiperdma’s is bekend daarvoor dat hulle hul welpies goed wegsteek en slegs elke paar dae van skuiling verander om die welpies teen gevaar te beskerm. Eers wanneer die welpies ongeveer ses weke oud is, begin hulle saam met die ma rondbeweeg en die vleis van haar vangs te eet.

In die eerste video, wat deur Madeleen van Schalkwyk geneem is, kan gesien word hoe die wollerige welpies met hul ma en mekaar speel terwyl Njozi ontspanne tussen die lang gras lê. Sy merk dan die voertuig op en stap weg – haar welpies al spelend agterna.

Gavin Cooper, ʼn inwoner van Tshwane, het die gesinnetjie ook op kamera vasgevang waar hulle doodluiters oor die pad drentel.Volgens Stuurman is jagluiperds vir die eerste keer in 2002 na die Rietvlei-natuurreservaat gebring as deel van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se sogenaamde Cheetah Metapopulation-bewaringsprojek.

Njozi woon permanent in die reservaat.

’n Nuwe mannetjie, Thaba, is in September verlede jaar in die reservaat vrygelaat om die “geenpoel van die jagluiperds uit te brei”.

“Die Rietvlei-natuurreservaat is die perfekte reservaat om deel van die program te vorm aangesien daar geen direkte mededinging met ander groot roofdiere is nie.”

Stuurman sê daar is egter baie druk op Njozi om na haar welpies se behoeftes om te sien tot hulle volwassenheid bereik en vir hulself kan sorg.

“Om dié rede doen die stad ʼn beroep op besoekers aan die reservaat om haar ruimte te gun terwyl sy rondswerf en kos soek.”

Besoekers word versoek om soos volg op te tree indien hulle Njozi en haar welpies teëkom:

  • Benader die terrein met omsigtigheid en ry stadiger.
  • Bly minstens 20 tot 30 meter van Njozi en haar welpies weg.
  • Skakel die motorenjin af, sit stil en beperk geraas.
  • Moet onder geen omstandighede die voertuig verlaat nie en ook nie by die vensters uithang nie.
  • Moenie probeer om in die reservaat te bly nadat die hekke reeds gesluit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Pragtig! ‘n Handvol om op te pas. Sterkte aan die diere Mamma

Sandra ·

Ag jinne, 5 wollerige out welpies. Hulle is super oulik. Ek hoop hulle word mooi groot soos hulle mamma.

Fanie ·

Ek is bly die welpies is gebore…dit gese, die tragedie van die Rietvlei Leeus is nog vars vir ons. Ek dink dit uiters onverantwoordelik om uit te bassuin dat daar weer grootkatte in die reservaat is, EN dat hulle kleintjies het. Die enigste genade is dat die Jagluiperds nie soos die Leeus met die hand gevoer word nie, en nie in beperkte area rondbeweeg nie en so word die kans verminder vir ‘n herhaling van die Leeus se dood. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/four-lions-dubbed-the-pride-of-tshwane-found-hacked-to-death-in-reserve-20191025

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.