Video: Labrador ná ure uit mangat gered

Pako het Sushi veilig uit die gat gekry [Foto: Robert Janbroers]

Reddingswerkers en gemeenskapslede het Donderdag minstens vyf ure lank gespook om ’n Labrador uit ’n mangat in Fairland, Johannesburg, te red. Sushi, ’n 14-jarige Labrador, het in die koue, vroeë oggendure in die gat geval en vermoedelik vir ure lank vasgesit.

Cynthia Bezuidenhout, kennelbestuurder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Randburg, vertel sy is net voor 06:00 in kennis gestel van ’n hond wat in ’n mangat in Kesselstraat, Fairland, vasgevang is.

“’n Inwoner het die oggend gaan stap toe sy ʼn hond vanuit die gat hoor tjank. Die DBV is daarvan in kennis gestel en ons is omstreeks 07:00 na die toneel,” vertel Bezuidenhout.

Lede van die polisie, die polisie se honde-eenheid, Fire Ops SA, nooddienswerkers, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en plaaslike sekuriteitsmaatskappye is ook na die toneel ontbied.

Reddingswerkers het ongeveer vyf ure lank gespook om Sushi uit die gat te kry [Foto: Robert Janbroers]

Volgens Bezuidenhout woon Sushi se eienaar in die straat – sowat vyf huise van die mangat af.

“Sushi het op ’n manier uit die erf gekom en die straat ingevaar. Omdat hy halfdoof en blind is, het hy moontlik nie die gat gesien nie en daarin geval.”

Sushi was tussen vier tot ses meter diep in die gat en kon nie vanself weer uitkom nie.

Sushi was tussen vier tot ses meter diep in die gat [Foto: Robert Janbroers]

Bezuidenhout vertel sy wou self in die gat ingekruip het, maar kon nie inkom nie. ’n Laaigraaf is gebruik om die mangat te vergroot.

“Sushi het af en toe geblaf en as hy vir ’n ruk lank opgehou het, het ons gestres dat hy dalk ophou asemhaal het. Daar was baie sand en stof in die gat.”

Volgens Robert Janbroers, ’n lid van die plaaslike GPF, het Pako Mondleke (21), ’n reddingswerker van Fire Ops SA, in die gat afgesak om Sushi daar uit te kry. Die ander reddingwerkers het sy bene vasgemaak en sy voete vasgehou terwyl hy kop eerste in die gat afgesak is. Hy moes sy arms agter sy kop hou om in die gat te pas.

Pako word as die held van die dag beskou [Foto: Robert Janbroers]

“Met sy derde probeerslag het hy met Sushi uit die gat gekom,” vertel Janbroers.

Bezuidenhout sê toe Sushi uit die gat getrek is en hy sy eienaar sien, het sy stert dadelik begin waai.

’n Veearts wat op die toneel was, het Sushi dadelik ondersoek en bevind hy is ongedeerd.

Sushi was uitgeput toe hy uit die gat gekom het [Foto: Robert Janbroers]

“Sushi was uitgeput en kon nie opstaan nie en moes met ’n kruiwa huis toe gestoot word.”

Bezuidenhout sê dit was wonderlik om te sien hoe almal inspring en help om Sushi te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Helene ·

Baie dankie aan almal betrokke. Daar is nog hoop vr hierdie stukkende land!

Anoniem ·

Ag moeder, dit is so pragtig om te sien hoe almal saamstaan om Sushi te red. Dankie dat daar nog mense is wat omgee!

Tokkel ·

Wow! Wonderlike werk wat julle gedoen het. Dankie dankie julle is hero’s!

Toy ·

Dankie vir al julle wonderlike mense wat nog omgee vir die diere. Hulle het ons mense nodig en ons hulle.

Sandra ·

Siestog ounooi. Mens kan sien hy is oud met sy ou snoetjie wat grys in het. Dit het seker baie uit hom gevat die erge ondervinding, want die kind le dan van moegheid. Ek hoop hy bly ok. Dit is hartroerend om te dink dat al daardie reddingswerkers uitgekom het om hulle te ontferm oor die hond. Dankie julle almal het my dag gemaak met die goeie nuus storie.

Hexi ·

Dankie ook aan die stapper wat Sushi gehoor het en werk daarvan gemaak het om hulp vir hom te kry. Baie ander sou net aanhou stap het.

Hanna ·

So bly Sushi is veilig… Was die mangat oop? As Sushi kon inval, wanneer val ‘n kind of ander persoon daar in?

Mariana ·

Wil net sê dankie aan almal wat hierby betrokke was, julle is almal helde.

Caroline ·

Well done guys for saving the poor dogs life and it its just so heart warming to see that South Africans still care for the animals and still know how to stand together when things go wrong. Well done. Although I dont live there anymore I am still proud to be an South African

Caroline ·

As the saying go: Be as faithful to my fellow man as my dog is to me.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.