Video: Louis Trichardt-transitorowers vermoedelik agter reeks rooftogte

Die misdaadtoneel in Louis Trichardt (Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Die polisie het Vrydagaand bevestig dat die groep transitorowers wat in Louis Trichardt, Limpopo, tydens ’n skietgeveg met die polisie doodgeskiet is, ’n “gevaarlike bende was wat vermoedelik agter ’n reeks transitorooftogte in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng sit”.

Die Valke en gespesialiseerde eenhede van die polisie het Vrydagmiddag op ’n huis in Eltivillas in Louis Trichardt toegeslaan terwyl dié vermeende sindikaat besig was om ʼn transitorooftog te beplan. Dié adres was reeds ‘n paar dae tevore deur die polisie geïdentifiseer.

“Met die polisie se aankoms op die toneel, het die rowers nie oorgegee nie, maar op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en ’n skietgeveg het uitgebreek,” bevestig Lirandzu Themba, polisieminister Bheki Cele se woordvoerder.

Die skietgeveg het sowat 90 minute geduur. Sestien mans en twee vroue is op die toneel dood. ’n Polisiebeampte verbonde aan die Valke is gewond en ná die voorval na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Volgens brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, is vier verdagtes by ‘n ander adres in Thohoyandou, Limpopo, aangekeer.

Die polisie is steeds op die toneel en fynkam die gebied.

Maroela Media het vroeër berig daar is beslag gelê op ’n groot hoeveelheid wapens, ammunisie en springstof. Daar is ook beslag gelê op vyf voertuie, waaronder ’n Land Rover Freelander, ʼn Toyota Hilux-bakkie, ʼn Ford Ranger Wildtrak-bakkie, ʼn Jeep Cherokee-sportnuts, ʼn Mercedes-Benz GL en ’n Volkswagen Tiguan.

Lt. genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê die toeslaan op die sindikaat is ‘n hoogtepunt van ‘n groot ondersoek wat reeds in Januarie vanjaar begin het.

“Limpopo en Mpumalanga het kragte saamgesnoer om die sindikaat vas te trek wat geïdentifiseer is op grond van verskeie ondersoeke deur die span. Ons glo dus dat ons inderdaad die verdagtes vasgetrek het wat ons ondersoek het. Vedere ondersoeke sal van stapel gestuur word om vas te stel of die groep by ander misdade betrokke was,” het Lebeya gesê.

Cele sê die polisie word aangemoedig om voort te gaan om hul mandaat ingevolge die Grondwet uit te voer om die publiek te beskerm en die wet af te dwing.

“Hierdie noodlottige skietery wat meer as 90 minute geduur het, moet as ’n ernstige waarskuwing dien vir misdadigers – individue of bendes – dat die polisie altyd dienooreenkomstig sal reageer op enige vlak van misdadigheid. Die polisie se opdrag is om die gesag van die staat te handhaaf en hulle sal nie huiwer om dit wat tot hul beskikking en binne die wet is, te gebruik om burgers en hul eiendom te beskerm nie,” het Cele gesê.

“Hierdie voorval vind nou aan die begin van Polisieveiligheidsmaand plaas, wat jaarliks in September plaasvind. Die departement moedig polisiebeamptes aan om voort te gaan om teen misdadigers op te tree, terwyl hulle hul eie veiligheid nie in gedrang plaas tydens die uitvoering van hul pligte nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.