Video: LP koop glo drank tydens virtuele parlementêre sitting

‘n Skermskoot uit die video.

Lede van die parlement was Woensdag ontstoke nadat dit aan die lig gekom het dat ʼn DA-LP na bewering hom tydens ʼn virtuele parlementêre sitting klaarblyklik in ʼn drankwinkel bevind het, eerder as tuis voor sy rekenaar.

In ʼn video van die virtuele parlementêre sitting, wat intussen op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, aan die woord is in die Nasionale Vergadering.

Die selfoonkamera van een van die LP’s gaan dan vir ʼn oomblik aan en dit lyk of die betrokke LP homself in ʼn drankwinkel bevind. Die video word dan oomblikke later kortgeknip.

Jacaranda FM het intussen ʼn klank-opname op sy webwerf gepubliseer waarin verskeie LP’s ná Meshoe se spreekbeurt oor die betrokke LP se optrede uitvaar. Die LP word in dié opname as die DA-LP Tshepo Mhlongo geïdentifiseer.

“Kan ons asseblief seker maak dat die kameraad uit die drankwinkel kom en by die werk van die parlement uitkom. Hierdie man is in Tops terwyl ons nou praat,” het een LP laat hoor. “Dit is belaglik dat sommige van ons tyd maak [vir die sitting] en ander is bloot in Tops, besig om wyn te drink. Dit is onvanpas.”

ʼn LP wys dan daarop dat Mhlongo voor sy rekenaar behoort te wees terwyl ʼn ander vra dat die LP’s nie ongegronde bewerings maak nie en ʼn mosie in die verband bring.

Die voorsitter vra deurgaans vir orde en sê later dat die video ondersoek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Suzette ·

Tipies – doen nie waarvoor hulle aangestel is nie. Nee wat, kom ons koop gou ‘n doppie en ry lekker op die soustrein wat deur die belastingbetalers befonds word.

Anoniem ·

Ek dink hy gaan meer gedoen kry in Tops as wat die Parlement gedoen kry tydens n sitting…

Adam Adriaan ·

Na soooo ‘n lang droogte moet ‘n man daren so paar liter voggies kry om die droë tanne weer onder besproeiing te kry.

Sobymykoolkop ·

Elke ou dingetjie wat aandag van hulle stelery kan aflei sal hulle holrug ry. Pleks hulle eerder woedend raak omdat hulle kamerade nie toe gesluit word nie. Tenminste help die ou die ekonomie en hy het darem blink skoene aan. Anders as die anc kameraad wat dit sommer in die bed met pajamas aan gedoen het.

Francois Le Cochon ·

Ek verneem Tops in Brakpan het nou ‘n Spar gekry.

Raakvatter ·

Haha, lekker lag ek nou!! Daai een hou ek vir die braai vuur om oor te vertel!

koos10 ·

Met drank verkope net Maandae to Donderdae 09:00 tot 17:00 wanneer moet ‘n persoon dan nou ietsie gaan koop? Na ure is onmoontlik.

Chris ·

Waaroor die bohaai. Als die wysheid in die man kom die wysheid uit die kan. Ek het nog altyd gedink ek gaan die land land nog onder die manne uitdrink. Lyk my deesdae, hulle drink dit sommer namens my onder hulself uit. Ek moet ook nou van voor af leer om dronk te bestuur. Eish

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.