Video: Luislang veilig – en vrylating laat mense skater

Jan Seleka, Johan Hanekom en sy dogtertjie, Zariné, by die ellelange luislang wat Donderdag op die Hanekom private wildsplaas gevang is. (Foto: Facebook)

ʼn Video van ʼn man wat ʼn ellelange luislang ewe versigtig uit ʼn sak vrylaat en skoon omval toe hy laat spaander, het vir groot vermaak op sosiale media gesorg. Die voorval het Vrydag by die Witkopmyn op die plaas Wintershoek naby Zeerust in Noordwes plaasgevind.

Die dapper Joseph Seghali, ʼn beeswagter by die myn, is intussen deur sy kollegas as “die man van staal” gedoop.

Die vier meter lange luislang is Donderdag in ʼn voerstoor op die Hanekom private wildsplaas op die plaas Renosterfontein aangetref en kort daarna veilig gevang en vrygelaat.

“Dit was skemer toe ons die honde buite hoor blaf. Die rumoer was by ʼn voerstoor sowat 30 meter van die huis af, reg langs die kraal waar ons boerbokkies aanhou.

“Ons het ondersoek ingestel en die luislang in die stoor gesien,” sê Hendrik Hanekom, plaaseienaar en ʼn bestuurder by die Witkopmyn.

Hulle wou nie die slang doodmaak nie, maar eerder veilig hervestig.

Hanekom se seun, Johan, en ʼn plaaswerker, Jan Seleka, bekend as “Jan-maak-ʼn-plan”, het die slang gevang terwyl Hanekom se vrou, Hester, met die kamera gereedgestaan het.

Dié luislang was sowat 4,2 meter lank. (Foto: Facebook)

Volgens Hanekom se mates was dié slang 4,2 meter lank.

“Ons het aanvanklik die hulp van die Owl Foundation ingeroep om die slang te kom haal, maar toe besluit om die slang self op die myn se grond los te laat.”

Hanekom sê Seghali is gewoond aan slange en het aangebied om met die vrylating te help.

“Joseph staan nou as die ‘man van staal’ bekend,” skerts Hanekom.

Op die video van die vrylating, wat deur Hanekom geneem is, kan gesien word hoe Seghali en twee ander mynwerkers, Kabelo Seleka en Roy Mafora, die slang, wat in ʼn voersak met gaatjies toegebind was, versigtig van die bakkie aftel en in die veld neersit.

Die sports het begin toe Seghali die sak moes oopmaak om die opgekrulde slang uit te skud.

“Ek was nie eintlik bang nie, net ʼn bietjie versigtig,” het Seghali Maandag aan Maroela Media gesê.

Seghali sê hy “ken van slange”, maar gee toe dat hy wel ʼn bietjie geskrik het toe die slang haar kop oplig.

Dat die video soveel reaksie op sosiale media sou uitgelok, het niemand egter verwag nie.

“Dít het ons almal, Joseph ook, nou nog aan die lag. Dit was omtrent lekker sports. Joseph sê almal ken ons nou.”

Hanekom sê die luislang het hulle vir sowat drie maande op die plaas ontduik voordat die reptiel eindelik gevang is.

“Van my werkers het voorheen gesê hulle het ʼn lang slang met ʼn groot kop gesien – ek het aangeneem dis dalk ʼn pofadder of rinkhals. Ons huiswerker was ook bang om op die plaas rond te loop nadat sy die slang gewaar het.

“Ons het oral na dié slang gesoek, maar kon haar nêrens opspoor nie.”

Omdat die slang haarself al lank op die plaas tuisgemaak het, het Hanekom geweet dat sy weer sal terugkeer indien hy haar nie ver weg loslaat nie.

Die slang is in ʼn afgeleë gebied op grond wat aan die myn behoort vrygelaat – ver van mynbedrywighede en mense.

Volgens Hanekom is die plaas waarop die myn geleë is sowat 4 000 ha en is slange volop in die gebied waar dié luislang nou vryelik kan seil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

‘n Gelukkige einde vir die slang.Dankie dat julle die slang doodgemaak het nie

Tiptol ·

Interessant hoe almal raad het met wat gedoen moet word, maar dit nie self doen nie. Bly die slang is veilig.

Tanniepetoors ·

Dankie Joseph en die Hanekoms. Julle is bak mense. Dis ‘n tamaai luislang daai! Pragtig – op ‘n afstand vir my asseblief :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.