Video: Luislang vry ná 15 ure lange ‘gyselaarsdrama’

Zian van den Bergh by die luislang. Foto: Maponya911

Zian van den Bergh by die luislang. Foto: Maponya911

Die luislang wat Donderdagoggend ʼn ambulans van die Maponya 911-nooddiens in Phalaborwa, Limpopo, gestrand gelaat het nadat dit in die voertuig se enjin gaan skuil het, het deur die aand uiteindelik self uitgeseil.

Jaco Gericke (51), ʼn paramedikus van Maponya 911, het Vrydag aan Maroela Media gesê die luislang, wat nou PhytAmbu heet, het omstreeks 22:00 self uit die ambulans se enjin geseil.

Hy het sedert die slang hom omstreeks 07:00 vroeër die dag in die ambulans se enjin tuisgemaak het,  ʼn oog oor hom gehou. Gericke was pas tuis nadat hy deur Zian van den Bergh, ʼn slanghanteerder en sy span afgelos is vir die aand toe hy die goeie nuus hoor.

Van den Bergh het die slang gevang en na ʼn veilige hawe geneem. “Die slang het ʼn brandwond opgedoen van die warm enjin en het ook ʼn paar geringe snywonde, maar sy toestand lyk goed. Van den Bergh sal PhytAmbu vandag na ʼn veearts neem voordat dit vir ʼn ruk in kwarantyn geplaas gaan word. Sodra almal tevrede is met sy toestand, sal hy in die Krugerwildtuin vrygelaat word,” het Gericke gesê.

Maroela Media het Donderdag berig Gericke en ʼn kollega het Donderdagoggend reageer op ʼn oproep van die gemeenskapspolisiëringsforum. “ʼn Vrou wat daagliks in die gebied naby die Hendrik van Eck-lughawe, sowat 1 km van die Krugerwildtuin se hek af, met haar honde stap, het aangemeld dat die slang haar honde wou aanval,” het Gericke vroeër gesê.

“Ek het met die ambulans by die toneel aangekom en die luislang in die pad sien lê. Ek het stilgehou en probeer om dit te vang. Hy het na my gemik. Ek het hom aan sy stert probeer beetkry, maar hy was baie sterk en het onder die ambulans ingeseil en is in die enjin op.” Hy het gesê die slang is tussen 3,5 en 4 m lank en net so dik soos ’n band van die ambulans.

“Die slang het hom behoorlik goed daar ingewurm. Ek het hom aan sy stert probeer uittrek, maar hy wou glad nie beweeg nie. Ons vermoed ook hy het onlangs geëet, want daar is ʼn duidelike bult in sy lyf.”

Gericke het ʼn plaaslike veearts ontbied. Hulle het die slang met ʼn verdowingsmiddel ingespuit sodat dit die reptiel hopelik sal laat ontspan en hulle dit kan loskry, maar dit was tevergeefs.

Van den Bergh het voorgestel dat almal moet wag dat die slang self uitkom, wat dit uiteindelike ná 15 ure gedoen het.  Klik hier vir foto’s van die slang in die ambulans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.