Video: Lise Brink kry nuwe hardloopbeen jare ná amputasie

Die Brink-gesin. Foto: Verskaf

“Dis ʼn heel ander ervaring. Om te kan voel ek beweeg vinniger is ongelooflik.”

Só sê Lise Brink oor die nuwe hardloopbeen wat sy onlangs in Nashville in die VSA ontvang het – vyf jaar nadat haar linkerbeen bokant die knie geamputeer is.

Maroela Media het destyds berig dat Brink en haar gesin op 16 Desember 2016 in ʼn ernstige motorongeluk buite Theunissen in die Vrystaat betrokke was.

Brink en haar man, Danie, se oudste seun, André (13), en hul jongste dogter, Rachel (8), is op slag dood. Hul ander drie kinders, Mieke (nou 19), Johann (nou 14) en Daniël (nou 7), is in die ongeluk beseer, maar het sedertdien volkome herstel.

Die gesin het twee jaar gelede na die VSA verhuis waar hulle nou in Athens, Georgia, woon. Lise was ʼn kranige drawwer voor die ongeluk haar been geëis het.

Amputee Blade Runners (ABR) in Nashville het nou vir haar ʼn hardloopbeen gemaak, nadat die niewinsgewende organisasie Guaranteed Rate Foundation $7 500 (byna R120 000) aan haar toegeken het om dié been te kry.

“ABR het die lem en sok vir my gemaak wat dan aan my meganiese knie vasgeskroef word.

“Ons het verlede maand ʼn baie lekker gesinsnaweek in Nashville gehad – tesame met die werk aan my nuwe sok, asook my eerste poging om weer te draf. ʼn Mens gaan deur ʼn hele opleidingsproses. Dis amper asof my brein verleer het om te draf.”

Lise Brink se nuwe hardloopbeen. Foto: Verskaf

Sedert sy haar nuwe hardloopbeen ontvang het, oefen Brink sowat 30 minute per dag in die tuin van hul huis in Athens.

Sy sê sy het al ʼn paar keer geval, maar gelukkig nie seergekry nie.

“Ek gebruik twee stoele waaraan ek vashou, dan skuif ek na Danie wat my hande vashou en voor my uitstap. Wanneer hy my hande los, draf ek alleen,” verduidelik sy.

Sy sê haar seuns, wat albei langafstandatlete is, hardloop graag saam met haar in die tuin.

“Dit is egter ʼn aanpassing en baie harder werk. Ek moet al my spiere inspan om dié been te gebruik waar die ander been, waarmee ek die afgelope vyf jaar loop, nie soveel inspanning verg nie.”

ABR het intussen ʼn nuwe, kleiner sok vir Brink gemaak, wat sy Vrydag in die pos ontvang het.

“Die sok van die been is die belangrikste. As dít nie perfek pas nie is dit baie moeiliker om aan die draf te kom.”

Hoewel Lise hoop om dalk oor ʼn week aan ʼn pretloop naby hul huis deel te neem, sê sy dat sy nie te veel druk op haarself plaas nie en die proses dag vir dag vat.

“Daar is elke dag ʼn bietjie vordering. Ek kan nie te veel te vinnig beplan nie, want dan gaan ek gefrustreerd raak. Op die pad wat die Here met my loop, moet ek altyd geduldiger wees as wat ek van nature is. Ek moet by die spoed hou wat die Here vir my bepaal.”

Hoop vir ander met amputasies

Lise Brink met haar nuwe hardloopbeen. Foto: Verskaf

Lise het oor die afgelope twee jaar ook kontak met verskeie nieregeringsorganisasies gemaak en werk nou saam met Limbs for Life om tweedehandse prosteses by mense met amputasies in Suid-Afrika uit te kry.

“Dis verskriklik duur om jou been te verloor, selfs al het jy ʼn goeie mediese fonds.

“In Amerika mag tweedehandse prosteses nie verkoop word nie en dus word dit aan mense in onder meer Derdewêreldlande geskenk.”

Brink het in Julie vanjaar tydens ʼn besoek aan Suid-Afrika twee kunsbene vir vroue in onderskeidelik Kakamas in die Noord-Kaap en Pretoria saamgebring.

ʼn Derde persoon se prostetiese voet sal vandeesmaand na Kuruman gestuur word.

“Ek onthou toe ek wakker geword het en besef het dat my been bo die knie geamputeer is. Sjoe, ek is self ’n fisioterapeut en moes baie mense al help om weer te leer loop, maar ek het nooit besef hoe moeilik dit is nie.

“Nou maak die Here vir my deure oop sodat ek op so ’n manier mense in Suid-Afrika kan help.

Brink sê hoewel die gesin baie goed in die VSA aanpas, trek hul harte nog baie na hul tuisland.

“Ons het baie diep wortels in Suid-Afrika.”

Brink is boonop steeds deel van ʼn Whatsapp-groep, Unbroken, saam met sowat 130 ander mense met amputasies van Suid-Afrika en sê dat sy dikwels daar van behoeftes te wete kom.

Mense wat met Brink oor tweedehandse prosteses wil kontak maak, kan ʼn e-pos na [email protected] stuur of haar by +1 706 461 9513 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Hello lem naeller! Ek het fietsry en lang afstand hardloop gedoen in my jonger dae op twee goeie bene, en DIT was hard genoeg!

sans ·

Wonderlik!! Kan onthou deur watter hartseer en moeilike tyd jul gegaan het voor Kerstyd. Bly om te hoor dit gaan so goed met julle daar. Bly glo en bly positief. Sterkte met die pretloop. Ons in SA sal saam met jou draf in gees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.