Video: Ma ontsnap twee keer van kapers

‘n Skermskoot uit die video.

“Hulle het my nie eens genader en gesê ‘ons soek jou motor’ nie, hulle het net begin skiet.”

Só vertel ʼn 38-jarige vrou van Pretoria ná sy Donderdagmiddag byna die slagoffer van ʼn gewelddadige kaping geword het.

Die vrou, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, het omstreeks 12:45 op pad terug van ʼn bekende winkelsentrum besluit om eers haar inkopiepakkies by haar huis in ʼn bekende veiligheidslandgoed te gaan aflaai voor sy haar drie seuns by die skool gaan optel het.

Die kaping het reg voor die landgoed se ingangshek gebeur. “Ek het net my ruit afgedraai en my hand uitgedruk om my vingerafdruk by die hek van die landgoed te registreer toe ek sien ʼn wag kom van die linkerkant af gehardloop. Ek kon sien hy hardloop wég van iets af, hy het nie ná iemand toe gehardloop nie.”

Toe sy weer sien, staan ʼn man in ʼn klapmus langs haar motor met ʼn vuurwapen. Die man het skote afgevuur en sy het dadelik haar kop laat sak en vinnig weggejaag.

“Die Here se genade het daardie spikes betyds laat sak; net my motor se lugdraad het die veiligheidsvalhek getref. Toe ek by die huis kom, het ek inmekaargesak van skok en dadelik my man gebel.”

Beeldmateriaal wat deur die landgoed se veiligheidskameras vasgevang is wys hoe die eerste verdagte die skote afvuur en ʼn tweede verdagte dan by hom aansluit sodra die vrou weggejaag het. Die twee beweeg dan weer terug na hul motor en vlug van die toneel.

Volgens die slagoffer was dit ʼn bruin Audi waarin die mans gevlug het.

Die gesin het eers later, toe hulle na beeldmateriaal van ʼn verkeerslig naby aan die landgoed kyk, gesien dat dieselfde verdagtes reeds by dié verkeerslig ʼn paar honderd meter van die landgoed af probeer het om haar te kaap.

“Ek het hulle nie eens gesien nie. Jy kan die twee verdagtes sien wat uitklim en na my toe beweeg toe die lig rooi slaan. Iets het net vir my gesê ry oor – en ek doen dit nóóit nie. Ek het rustig oorgery en jy kan sien hoe klim hulle weer terug in hul motor en volg my na die hek toe waar die skietvoorval plaasgevind het.”

Sy vertel dat klomp dinge daardie middag in haar guns saamgewerk het – genade, versterking wat haar man sewe jaar gelede op haar motorvensters laat aanbring het, die hoek waarteen die koeël die venster getref het, die beweging van die motor én die feit dat haar seuns nie in die motor was nie.

“Ek vertel van kleins af vir my seuns die Here het engele, groot mans met wapenrustings aan, wat om ons huis en om ons motors beweeg. Gisteraand sê my seun vir my: ‘Mamma ek is so bly Liewe Jesus het jou vir ons gespaar.’”

Die bestuurder van die landgoed het aan Maroela Media bevestig dat die wag wat op die video gesien kan word nie gewapen was nie.

“Geen van ons wagte dra wapens nie, dit word ten sterkste afgeraai deur ons veiligheidsmaatskappy. Meeste ander landgoedere doen dit ook so. Die redenasie is dat gewapende wagte dieselfde tipe misdadigers lok, mense wat hul wapens wil kom roof om in ander misdade te gebruik.”

Hy sê verder dat die direksie van die landgoed asook die veiligheidskomitee Donderdagaand ʼn noodvergadering gehou het om oor kort- en langtermynveiligheidsplanne te gesels en om oor nuwe sekuriteitsmaatreëls wat hulle wil inbring, onder meer by die ingang van die landgoed, te beraadslaag.

Die voorval is nie by die polisie aangemeld nie. Die landgoed se bestuurder het aan Maroela Media vertel van ʼn vorige voorval waar ʼn vrou van ʼn naburige landgoed by hulle ingejaag het toe sy gekaap is en die polisie ondanks sowat vier besoeke van hulle af steeds nie na die toneel uitgekom het om dit te ondersoek nie.

*Lees ook Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, se redakteursbrief oor die voorval hier.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Charmaine ·

DIE HERE SE GENADE EN BESKETMING IS ONEINDIG DANKIE VIR U BESKERMING MY HEER EN HRMEKSE VADER ??????

Elma ·

Ek glo in engle wat ons elke dag, elke uur en elke nag beskerm!
Dankbaar dat jy niks oorgekom het nie, maar die skade is gedoen.

Sterkte, moet nooit ophou glo en bid nie.

jean ·

Sy Bloed alleen oor hierdie volkie van ons….as ons onsself weer bekeer tot Hom….

Jerry ·

Dit wil voorkom of die dame iets het wat die rowers desperaat gemaak het om dit in die hande te probeer kry.

TLC ·

AMEN AMEN AMEN genade Vader sy het defnitief die engele laat oortyd werk Was daar nie n knoppie of alarm wat die wag kon druk om aandag te trek nie. Dank onse Vader sy engele het haar en almal beskerm

PJC ·

Hierdie vrou verdien ons almal se respek. Dit is ongelooflik hoe sy kop gehou het tydens die hele episode. Ek dink dit is ń wonderwerk dat sy ongeskonde hieruit gekom het.

Oom Kalahari ·

So bly sy was so beskerm en die Engele en God was beslis met haar deur elke oomblik. Die groot vrees is dat hierdie misdadigers nou weet waar sy woon en of sy nie ‘n teiken vir hul mislukte poging gaan wees nie. Ma jy is en was Geseend om Moedersdag met jou gesin en familie te kan wees. Dankie aan die Hemelse Vader en SY Engele vir beskerming oor die Ma. Hoop sy sal die trauma kan verwerk.

Rudolf Venter ·

Ek is verheug dat julle deur omstandighede niks hierdeur oorgekom het nie…

Ek noem egter dat ons lees dat die Skepper nie n aan nemer van enige persoon is nie, daar bestaan nie so iets soos engele wat ins kan beskerm nie, andersins sou die volmaakte skepper almal mos beskerm het…

Dit pyn my dat die Skeeper altyd gebruik en bedank word om mense te moet beskerm…

Dit is n diep pyn dat die getuienis geskrifte so verkeerd oogevat, gepropageer asook aangewend en voorgehou word…

Ons arm ou volkie wat alles wat mooi en van waarde is tog so toekom…

Die meeste van die mense het nie n benul van wat so mooi voorgehou word vir alle as die norm nie…

Mag almal se oë oopgaan voor hulle dalk nooi geweet het nie…

Elizabeth ·

Ek is bly die vrou en veiligheidswag is albei veilig. Dit is hartseer dat ‘n land so onveilig geword het dat geen mens of dier meer die lewe kan geniet nie.

JoeV ·

Kyk die sekuriteid, as hy wou kon hy die bestuurder gesê het passop agter!

Anoniem ·

JoeV, was dit nie vir die sekuriteit se optrede nie sou sy dalk te laat besef het wat gebeur. Hy is ook net ‘n mens wat geskrik het. Wat moet hy dan doen as hy nie gewapen is nie?

Piet ·

Rudolf, daar is dalk n goeie rede. Gaan lees weer toe Jesaja ons skepper gevra het om die jong man se oe te open vir die geestes wereld en hy toe kon sien die hordes engele wat daar was om die Israeliete te help met hul veldslag.

Rudolf ·

Ja Piet, wat is hierdie geestes wêreld wat vir Jesaja ook oop gemaak is…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.