Video: Man in Mustang maak amok by Pta-vulstasie

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

ʼn 42-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy amok by ʼn vulstasie in Pretoria gemaak het terwyl dit op ʼn selfoonkamera afgeneem is.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het Saterdag tussen 14:00 en 16:00 by ʼn vulstasie in Capital Park in die Moot plaasgevind.

“Metropolisiebeamptes was aan diens en het roetinepatrollie in die woonbuurt gedoen toe petroljoggies hulle ontbied het. Hulle het gesê die man wou brandstof ingooi, maar het hom wangedra,” het Mahamba gesê.

Op die video, wat sedertdien wyd op sosiale media versprei word, kan ʼn mens sien hoe die bestuurder besope voorkom, omstanders vloek en weier om uit sy blou Mustang te klim.

Die beamptes het hul hande vol om die bestuurder teen omstanders te beskerm wat hom wil aanrand. Die man jaag uit die vulstasie weg, draai dan skerp in die straat en jaag weer by die vulstasie in en mis ʼn voetganger skrams. Hy bots dan reg van voor teen ʼn stilstaande bakkie voor hy poog om weer weg te jaag, en word dan in hegtenis geneem.

Mahamba het gesê die man het probeer om die metropolisiebeamptes om te ry en het ook ʼn mes by hom gehad, waarmee hy hulle glo wou aanval.

Die man is op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en die besit van ʼn gevaarlike wapen in hegtenis geneem. Volgens Mahamba was die man baie gewelddadig en kon metropolisiebeamptes nie daarin slaag om sy bloedalkoholvlak te toets nie. Mahamba vertrou egter dat die polisie die nodige toetse sou doen om vas te stel of hy onder die invloed van enige middels was.

Die man se naam word weerhou aangesien dit nog nie duidelik is of hy alreeds amptelik aangekla is en in die hof verskyn het nie. Die polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

53 Kommentare

jongste oudste gewildste
Geen hemp?

Daai man het geen hemp aan nie, dit se vir my alklaar besope. Mense wat drink verloor alle “common sense”.

Mustang

JA maar niemand se hoekom die polisie hom aanvanklik uit die kar probeer ruk het en hom ge-man handle het nie. Ek keur glad nie hierdie ou se optrede goed nie, maar as jy aan die begin van die video kyk sien jy hoe ruk en pluk die polisie aan hom terwyl hy BINNE in sy kar gesit het. watter skade doen jy aan iemand as jy IN jou kar sit? AS hy petrol wou ingooi, hoekom bel die joggies die polisie? Het hy nie betaal nie? Jy hy het daarna heeltemal bos geruk, dit is waar, maar WAT WAS… Lees meer »

lee

Ai – siesa !!
Sulke swak gedrag.
Wonder wat het hy vir homself te sê toe hy weer by sy sinne was ??
Geen nugter-denkende mens behoort só tekere te gaan nie.

Genieve

Kwaai movie die

Sue

Skokkend! Ek skaam my…