ʼn Nanosatelliet wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) en Cubespace ontwikkel is, word Dinsdag saam met 27 ander nanosatelliete gelanseer met die Internasionale Ruimtestasie (ISS) as bestemming.
Die satelliet sal die ISS bereik aan boord van ʼn Cygnus-kapsule wat voorraad na die ruimtevaarders op die ISS sal neem.
Dié Suid-Afrikaanse nanosatelliet, ZA-AeroSat, weeg slegs 2 kg en vorm deel van ʼn internasionale projek, die QB50‑projek, wat 36 nanosatelliete bekend as “CubeSats” sal lanseer. Hierdie CubeSats is elk ongeveer 10 x 10 x 20 cm groot (kleiner as ʼn skoendoos) en sal gebruik word om metings van die laer termosfeer tussen 200 km en 400 km bo die aarde, in te samel.
ZA-AeroSat is afgelewer by ʼn ruimtemaatskappy in Delft, Nederland, waar dit saam met die ander satelliete verpak is voordat dit na Nasa in die VSA verskeep is. Die satelliete, nou verpak in die Cygnus-kapsule, is tans geïntegreer in ʼn Atlas-V vuurpyl wat volgens beplanning op Dinsdag 27 Maart om 04:00 (SA tyd) gelanseer sal word.
Die satelliete sal ontvang word deur die ruimtevaarders op die ISS en sal ongeveer ʼn maand later vrygelaat word in die ruimte.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
7 Kommentare
Baie trots op die mense van US. Wys dat ons tog deel is van die internasionale arena wat sekere dinge aanbetref!
Pragtig Maties!!!
Hoor die gebruiks aanwysings en.spesifikasies is egter nie ingesluit nie siende Maties midde n Taal worsteling is? Kon nie besluit in watter taal dit moes wees nie….
Dink iemand nie die >R1m wat daardie sateliet gekos het kon ‘n paar studente se klasgelde vir die jaar betaal het nie?
Belangstelling verloor toe ek die pletoria nie-verwante Engelse Matie-propaganda videos (sommige in sterk Afrikaanse aksente, nogal) onderaan sien.
Hinderlaag-reklame. Hierdie Afrikaner-verraaier universiteit soek nou baie angstig studente.