Video: Metrobeamptes van pligte onthef oor omkopery

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die Johannesburgse metropolisie het Saterdag bevestig dat twee van sy beamptes van hul pligte onthef is nadat hulle op kringtelevisie betrap is waar hulle glo omkoopgeld van ʼn motoris aanvaar het.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die beamptes is van hul pligte onthef en na die metropolisie se administratiewe afdeling oorgeplaas nadat ʼn amptelike klag teen hulle ingedien is. Hy het gesê die beamptes sal dissiplinêr vervolg word. “Die Johannesburgse metropolisie duld nie korrupsie nie.”

Die stappe teen die beamptes kom nadat daar ʼn video op YouTube gelaai is wat wys hoe ʼn swart VW Golf agtervolg word deur ʼn gemerkte metropolisiemotor. Die datum op die video wys 1 Januarie 2015. Die voorval het glo in Westdene plaasgevind.

In die video kan daar gesien word hoe die motors stilhou waarna twee metrobeamptes sowel as die bestuurder en passasier van die Golf uit hul motors klim. Later in die video kan daar gesien word hoe die metrobeamptes en die twee mans van die Golf ʼn gesprek voer voor die metrobeamptes na hul motor terugkeer gevolg deur die twee mans. Die omkoopgeld word dan glo oorhandig voor die albei motors wegry.

Minnaar het ʼn beroep gedoen op die publiek om enige korrupte aktiwiteite waarby metropolisiebeamptes glo betrokke is aan te meld by 0800 203712.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Koos ·

Seker ‘n geldjie nodig gehad oor die feestyd of hoe? Lekker korrupte ou landjie dié…..

Piet Smith ·

Ag moenie kwaad wees vir nie toe pos geadverteer was het dit gesê salaris onderhandelbaar

Francois ·

Ek wonder net wie het dit afgeneem. Die kamera volg hulle oral waar hulle loop. Ek vind dit nogal vreemd. Dis seker “face recognition” of “Size of body recognition”

Gert ·

Die video is met ‘n kamera verfilm vanaf die kringtelevisie se skerm. Dit is dus die kameraman wat hulle volg en nie die kringtelevisie nie. Kyk maar hoe die datumstempel buite sig verdwyn en dan weer terugkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.