Video: Miljoene glo benodig om Nylrivier skoon te maak na suurramp

Die vragmotor nadat dit omgeslaan het. Foto: Facebook

Die vragmotor nadat dit omgeslaan het. Foto: Facebook

Dit gaan glo miljoene rande kos om die Nylrivier buite Modimolle (Nylstroom) skoon te maak en te rehabiliteer, nadat duisende liter swaelsuur Saterdag in die rivier beland het.

Die rivier is besoedel toe ʼn vragmotor wat glo 28 000 liter van die suur vervoer het, in Modimolle omgeslaan het.

Langa Bodlani, die DA se woordvoerder vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme, het aan Maroela Media gesê die distriksmunisipaliteit het glo R50 000 bewillig vir die aankoop van 30 ton kalk om die besoedeling tot ʼn sekere gebied te beperk. Dit sal egter veel meer as dit kos om die skade te herstel, het hy gewaarsku.

“Die suur is nie net in die water nie, maar ook in die waterbedding en die ondergrondse water. Dit beteken die grond sal ook verwyder moet word en die water onder die grond sal gerehabiliteer moet word,” het hy gesê. “Hierdie rehabilitasie sal deur spesialiste bestuur moet word en hul dienste is nie goedkoop nie. Dit gaan ʼn baie duur proses wees.”

Volgens ʼn persverklaring wat deur die departement van water en sanitasie uitgereik is, is die departement se moniteringseenheid (CME) sedert Maandag op die toneel om die omvang van die besoedeling te bepaal. “Die eenheid het ʼn rampspan op die dorp saamgestel, wat die aangeleentheid voortdurend sal dophou,” het die departement gesê.

Navrae oor die impak van die besoedeling en vordering van die skoonmaakoperasie is na Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, verwys, maar hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens Bodlani het die munisipaliteit steeds nie teen Dinsdagmiddag amptelike waarskuwings aan inwoners in die gebied wat geraak word, gestuur nie. Hy het gesê die rivierwater word na sewe munisipale boorgate gevoer wat deur die boerderygemeenskappe in die area gebruik word. Dit kan tot die besoedeling en vernietiging van landboubedrywighede lei.

“Toe ʼn beampte van die munisipaliteit se rampsentrum Saterdag [oor die krisis] gekontak is, was sy ongevoelige antwoord op ʼn SMS wat deur die DA gesien is: ‘Wat het die krisis met my te doen?’. Die brandweer het die krisis verder vererger. Nadat hulle vier ure laat by die toneel opgedaag het, het brandweerbeamptes die mineraalsuur in die rivier in gevee. Dit het verdere skade veroorsaak en lewende spesies in die water doodgemaak,” het hy gesê.

Patrick Shika, woordvoerder van die munisipaliteit, het alle navrae na Ratau verwys.

https://youtu.be/7dsi9xvG0zo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Griki ·

Ek wonder of die woord “suur/acid” enigiets vir die beampte by die rampsentrum en vir die brandweer beteken. Dit moet mos onmiddellik die klokke laat beier het. Sjeez

Afrika maak my gek ·

So sien ons maar net weer hoe onbevoeg ons regering is ! Jy hoef nie ‘n doktors graad te hê om die rooi ligte te sien flikker in so ‘n geval nie ! Die beampte is tien teen een weer ‘n previous disadvantaged en dis het hy die pos gekry waarvoor hy duidelik nie opgewasse is nie !

Shirley van der Westhuizen ·

Ja die vragmotor bestuurder het seker weer gedink hy is op Kayalami daarom het hy omgeslaan. Vragmotor bestuurders moet beter opgelei word en verwittig word van die vrag wat hulle vervoer om sulke rampe te voorkom.

Shirley van der Westhuizen ·

Vragmotor bestuurders moet ingelig word omtrent die vrag wat hulle vervoer, om sulke ongelukke te probeer verhoed. As hy bewus was dat hy swaelsuur vervoer het hy dalk nie gery asof hy op Kayalami is nie. ‘n Vragmotor slaan nie vanself om nie hier is spoed betrokke om ‘n draai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.