Video: Minister gryp in oor ape in hospitaal

‘n Skermskoot uit die video.

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het ʼn taakspan ingespan om werk te maak van die probleem met ape by ʼn KwaZulu-Natalse staatshospitaal.

Dít volg ná video’s op sosiale media versprei is van apies wat in die RK Khan-hospitaal in Chatsworth in Durban baljaar.

Motsoaledi het Woensdag daar besoek afgelê nadat personeel al  ʼn geruime tyd sukkel met ape wat die hospitaal op horings neem. Hospitaalpersoneel sê die ape ontwrig nie net die bedrywighede by die hospitaal nie, maar daar heers ook kommer dat die ape siektes aan pasiënte kan oordra.

Die DA het Motsoaledi se ingryping by die hospitaal verwelkom, maar sê RK Khan is glo nie die enigste hospitaal wat deur die probleem geraak word nie. Volgens dr. Imran Keeka, woordvoerder van die DA in KwaZulu-Natal, dring ape ook hospitale soos die Prins Mshiyeni Memorial-hospitaal in Umlazi en die Wentworth-hospitaal in Durban binne.

Keeka het gesê die DA sal Motsoaledi vra om ook by albei bogenoemde mediese fasiliteite in te gryp. Hy het bygevoeg dat die video op sosiale media nié die voorval wys waar ʼn pasiënt glo selfs deur ʼn aap gebyt is nie.

Die DA sal ook die kwessie met dr. Sibongiseni Dhlomo, KZN-lid van die uitvoerende raad vir gesondheid, opneem en bespreek wat gedoen is rakende dié spesifieke voorval toe ʼn pasiënt gebyt is.

Keeka sê Motsoaledi bewys egter nie die hospitale ʼn guns deur op te tree nie. “Die probleme binne die provinsie se departement van gesondheid is baie groter as ape by ʼn paar hospitale.

“Dit is ook bisar dat ʼn minister moet ingryp om die plaag te hanteer, aangesien dit ʼn situasie is wat spruit uit die feit dat LUR [Sibongiseni] Dhlomo ernstige probleme eenvoudig ignoreer wanneer dit onder sy aandag gebring word,” het Keeka gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Michael ·

Maar die apies kan seker maar daar wees hulle het ook seker regte. of hoe.

Henda Myburgh ·

Maar ek verstaan nie hoe hulle inkom nie hoekom is die vensters en deure oop?? Is daar nie verkoeling/ airconditioners in die hospitaal nie?

Katerina ·

Liewe hemel ek sou my dood gril. Ape dra baie maal siektes so ek sou nie een naby my wou he nie. Veral nie in n hospitaal nie. Daar moet tog maniere wees om hulle buite te hou??

Hanna Hoekom ·

Het n hele klompie jare gelede by George Mukhari hospitaal net buite Pta gewerk. Ons het daagliks met hierdie apies te doen gekry. Baie keer tot groot vermaak van die studente verpleegsters!

Foxi ·

Goeie genugtig man!!!!!Dis n hospitaal…..doen iets! Hulle sit net, verjaag nie eens die apies nie. Daar kan net niks, absoluut net mooi niks reg gedoen word nie. Of moet daar ekstra betaal word om die diere te verwilder. Ai jay jha!???

Stella Berning ·

Hulle is nog steeds daar. Die omgewing was hul natuurlike habitat. Hulle gaan defnitief nie padgee nie. Terwyl ons stap sale toe besoektyd hardloop hulle daklangs. Ek het self gesien hoe een n vrug uit n kind van besoekers se hondjie gryp

Johan H. ·

Lekker man lekker,asof daar nie al genoeg onhegieene in hospitale is nie. Welkom in Kalkatha!!!!

Irene Myburgh ·

Dit is kommerwekkend wanneer die natuur kom kos soek by ons.

Ek meen vat jou duiwe wat hondekos eet, en nou die ape. Dit beteken een ding daar is nie meer kos in die natuur nie vir hulle nie, wat baie sleg is.

Olljetter ·

Ek kan maar net wonder wat daar met al die oortollige salarisse gedoen gaan word.

Anoniem ·

Hulle is besig met opleiding en is dalk kundiger as die Kubane.

Petro ·

Genade maar dit is ‘n baie skoon staatshospitaal daardie. As dit nie vir die “personeellid” by die tafel se manier van werk was nie sou ek kon glo dat dit ‘n privaat hospitaal is. Ons dorp se staatshospitaal het nie eers meer vloere of beddens nie, en ek het al gesien hoe hulle water uit toilet bak agter skep om vir pasiente hulle pille te gee, mense moet op die grond lê met net ‘n laken. Hoop die apie kyk mooi hoe om daardie drips in te sit hy sal heel moontlik vinniger beweeg as die res van die personeel. En minder staak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.