Video: ‘Mooiweer en warm’ word vir dié kykNET-reeks voorspel

Liam Bosman, Brümilda van Rensburg en Minke Marais. (Foto: verskaf)

ʼn Radioman wat nie kan vrede maak met sy nuwe wêreld waar hy net worsrolletjies verkoop nie, ʼn tatoeëerkunstenaar wat ontstig met rockmusiek, ʼn norse tante wat boeke en boeretroos verkoop, en ʼn legio skindertonge wat aanhoudend klap. Dít is die karakters en vlooimarkuitstallers wat beloof om kykers van Mooiweer en warm te boei.

Die nuwe tragiese komedie uit die pen van die bekroonde skrywer Paul C Venter, speel in ʼn klein dorpie op die Hoëveld af en handel oor ʼn naweekvlooimark op die gronde van ʼn doodgewone kerk.

Boonop word die vlooimark en al sy besoekers bedreig deur ʼn damwal wat enige tyd kan bars.

“Jy weet nie of jy moet huil of lag vir die mense nie,” het Geon Nel (Alex Kemp), tydens die reeks se voorskou in Kaapstad aan Maroela Media vertel.

“Dis amper asof ʼn spieël opgehou word. Dit laat jou nadink oor dit waarmee jy besig is. Wat doen ons? Waarheen is ons op pad?”

Carla Smith, bekend vir haar rol in die 2019 kykNET-reeks, Tydelik Terminaal, vertolk die rol van Cezanne Dippenaar, ʼn geoloog wat daarop uit is om in haar ontslape pa se voetspore te volg. Dit is ook haar karakter wat uitvind dat alles nie met die dam net buite die dorp pluis is nie.

Hoewel sy self in die dorp woon, het sy min te make met die karakterwêreld wat die vlooimark skep.

“Die reeks is vol mense wat jy maklik gaan kan herken in mense rondom jou,” het sy aan Maroela Media verduidelik.

“ʼn Familielid, vriend, iemand in Woolies, ʼn tannie wat ʼn aanmerking op Facebook maak. Die karakters is so kleurvol en driedimensioneel dat mens amper meer vir hulle gaan kyk as die storie self.”

Uit die 13 weke waartydens die reeks in 2022 geskiet is, was Carla maar vier of vyf weke deel daarvan. Sy het veral daarna uitgesien om die ander akteurs in die reeks se tonele te kyk.

“Ek ken mos nou my eie tonele. Ek gee nie eintlik om om vir myself te kyk nie, maar om nou die tonele te kan kyk wat jy voorheen net in die teks gelees het, is heerlik.”

Brümilda van Rensburg vertolk die rol van die misterieuse Sonica Winters wat besoekers aan dié vlooimark met verruklike kerrie bekoor. Tog is daar duidelik iets anders wat onder die oppervlak aan’t broei is.

“Sy is presies soos haar naam dit bepaal, sy is ’n sonskyn-girl, maar sy is vol winter. Sy is bietjie mooiweer en warm,” het Brümilda van Rensburg aan Maroela Media vertel.

“En net as jy dink jy verstaan haar, dan gooi sy ’n ander gesig. Jy is nooit eintlik seker waar jy met haar staan nie.”

Die reeks stel ’n verskeidenheid generasies ten toon, iets wat Brümilda opgewonde maak oor die toekoms van die vermaakbedryf.

“Hulle speel die jong kinders. Dit was nog altyd in die lewe so dat jy die pa’s, ma’s, oupas, oumas en kinders om die tafel het.

“Maar hierdie kinders is voorbereid. Hulle speel hoegenaamd nie op hul agtervoete nie.”

Beer Adriaanse, Antoinette Kellermann, Deon Lotz, Tinarie van Wyk Loots, Paul du Toit en Kim Cloete is onder meer ook in die reeks te siene.

  • Mooiweer en warm is Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te siene. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Geon was fantasties in Nerens, Noord-Kaap. Kan nie wag om die te kyk nie.

Casper ·

Ek is seker by magte om my vryheid van spraak uitte oefen en na Deon Lotz se sogenaamde “Skoonheid”DVD verafsku ek die akteur met die minagting wat dit verdien maar nietemin glo ek gaan dit ‘n baie oulike reeks wees met begaafde akteurs en aktrises.

Taurus ·

Wie het nog tyd om na liberale sepies te kyk. Lees eerder ‘n goeie boek en verbreed jou kennis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.