Video: Moontlike meteoriet tref Limpopo

Foto ter illustrasie: Pixabay

“Dit was ongelooflik mooi. Iets wat ek nog nooit vantevore aanskou het nie.”

Só vertel Marietjie van der Merwe, ’n sersant van Mookgophong (Naboomspruit) se polisie, nadat sy Woensdagaand ’n vreemde verskynsel, wat moontlik ’n meteoor kon wees, in die lug gewaar het.

Van der Merwe het die aand omstreeks 23:40 saam met Derrick Maidment van ’n plaaslike insleepdiens en Tommie van Zyl wat ’n WhatsApp-noodgroep vir die Limpopo-gemeenskap bestuur, op die N1 digby Mookgophong gestaan en wag vir ’n gekaapte vragmotor wat klaarblyklik in hul rigting op pad was.

“Ons het die vragmotor staan en inwag toe dit die volgende oomblik lig word rondom ons. Ons het opgekyk en toe die eienaardige verskynsel in die lug gesien. Dit het gelyk asof die voorwerp ’n stert het,” vertel Van der Merwe.

Die International Business Times het verlede week berig dat Nasa ʼn waarskuwing uitgereik het oor twee asteroïdes wat na verwagting vandeesweek die aarde sou nader. Nasa het egter gesê gegewe die twee asteroïdes se grootte en spoed, sou dit waarskynlik nie te groot impak op aarde veroorsaak nie en slegs in kleiner dele opbreek wanneer dit die aarde se atmosfeer bereik.

Video-materiaal van boere in die omgewing wys ook hoe die lug op daardie spesifieke tyd ophelder.

Van Zyl sê dit was soos ’n bol rook en vlamme wat oor hulle koppe teen ’n vinnige spoed deur die lug beweeg het. Van der Merwe sê dit het gelyk asof die voorwerp in Mokopane (Potgietersrus) se rigting beweeg en moontlik daar naby geval het.

Van Zyl, Van der Merwe en Maidment sê hulle het die volgende oomblik net ’n groot slag gehoor. “Dit het geklink soos ’n ontploffing,” vertel Van der Merwe.

Dié eienaardige ontploffing het talle inwoners van Mookgopong en Mokopane paniekerig laat reageer.

“Inwoners het op die WhatsApp-noodgroep gesê dit het gevoel asof hul huise skud en geklink of iets op hul dakke val,” het Van Zyl gesê. Geen beserings is egter aangemeld nie.

Van Zyl en Van der Merwe sê dit bly egter steeds ʼn raaisel waar presies die meteoriet geval het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leeuwyfie ·

Dit moes ‘n sig wees. Wow. Ek is dankbaar niemand is beseer nie, maar sjoe, ek sou my koud skrik!

Paul ·

Het dit gehoor 1145 gisteraand in Irene, Centurion! Seker baie mense in Pretoria se kameras moes dit ook afgeneem het!

JO ·

Ja – eers ons virus en nou die meteoriet “practise shots” waar die korrupstes van die korruptes woon. God is kwaad – laat jy begin bid Julius!!

Jacobus ·

Snaaks, die is een van die mees algemene kosmiese verskynsels.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.