Video: Motoris ry ‘grypdief’ om ná hy handsak buit

Skermgreep uit video

ʼn 43-jarige vrou van KwaZulu-Natal word deur misdaadvoos Suid-Afrikaners op sosiale media as ʼn heldin bestempel nadat sy Woensdagoggend ʼn vermeende boef – wat glo haar handsak gesteel het – met haar voertuig raakgery het.

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe twee mans omstreeks 10:40 op ʼn silwer Toyota Tazz by ʼn besige winkelsentrum in The Bluff in die suide van Durban toesak, die motoris se deur oopruk en haar handsak gryp.

Die video het intussen soos ʼn veldbrand versprei en wys ook hoe nog ʼn motoris, wat ten tyde van die voorval op die toneel was, die vermeende diewe glo probeer raakry.

Die aanvallers het vinnig op die vlug geslaan; een het in ʼn voertuig gespring, terwyl sy makker te voet met die slagoffer se handsak die hasepad gekies het.

Hy is egter gou in sy spore gestuit toe die slagoffer hom agternagesit en met haar voertuig getref het. Op die video kan gesien word hoe die man deur die lug trek en ʼn paar treë verder te lande kom.

Die hele voorval het ten aanskoue van polisiebeamptes by ʼn nabygeleë vulstasie plaasgevind.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Brighton Beach ondersoek ʼn saak van diefstal.

“Die handsak is teruggevind en ʼn 28-jarige verdagte is op die toneel in hegtenis geneem,” sê Gwala.

Hy sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn. Die polisie het geen melding van die ander vermeende betrokkene gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Richard ·

Sy gaan ongelukkig probleme met die gereg he hieroor. My hart gaan uit na haar toe.

miche ·

Hier kom nou weer een laaaang, uitgerekte hofsaak. Die kriminele het mos baie menseregte.

Aggie ·

Hoop so, want volgens die berig het hulle staan en kyk van die vulstasie af.

Felix ·

Is daar ‘n prokureer in Durban wat haar goedkoper sal vra of dalk verniet sal verteenwoordig?

Net gedink ·

Joe. Sy het nie gespeel nie. Dit is effektiewe wetstoepassing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.