[Video] Motoriste trek man vas wat wil wegjaag ná ongeluk

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Drie motoriste het Dinsdag saamgewerk om ʼn man te help aankeer wat van ʼn ongelukstoneel op die N1-snelweg in Centurion probeer vlug het.

ʼn Passasier in ʼn voertuig, wat agter die motor gery het wat die ongeluk veroorsaak het, het die hele voorval op video opgeneem. Dit is intussen op sosiale media gedeel en word wyd versprei.

Stehan Cloete (30), ʼn inwoner van Lyttelton, was op die snelweg ten tyde van die voorval en was een van die motoriste wat gehelp het om die persoon, wat die ongeluk veroorsaak het, voor te keer. Cloete het Woensdag aan Maroela Media gesê hy was tussen 11:00 en 12:00 van Johannesburg, waar hy werk, op pad terug na Pretoria op die N1-noord.

Hy het van Olifantsfontein af die betrokke motor ver van agter af opgemerk toe baie rook skielik uit die motor geborrel het.

“Ek vermoed hy het dalk die versperrings langs die pad getref, maar hy het aanhou ry. Omtrent al die motoriste agter die man het vermoed iets is fout. Hy het reg oor al die bane van die hoofweg geswenk en sy flikkerlig was aangeskakel. Ons almal het verwag iets gaan gebeur en ek het my spasie gehou.”

Cloete het gesê die persoon wat die video geneem het, het ook gesien die persoon ry glo nie verantwoordelik nie en het daarom die video as bewys geneem.

“Juis in daardie stadium het die man verbasend in sy baan gebly, maar hy het skielik versnel en in die bakkie voor hom se agterkant ingejaag. Die botsing was net ná die Ou Johannesburg-afrit.”

Op die video kan ʼn mens sien hoe die bakkie rol, waarna die bestuurder, wat teen die bakkie gebots het, uit sy venster wuif en dan verder wegry.

ʼn Man in ʼn BMW het voor die motoris ingery. “Ons het nie eens getwyfel nie en moes iets doen. Toe ek sien die BMW ry voor hom in, het ek hom met my bakkie ingeboks en die mense wat die video geneem het, het agter hom stilgehou. Dit was sowat 400 meter van waar die ongeluk plaasgevind het.”

Volgens Cloete het hy eers die man stadig benader om te kyk of hy dalk gewapen of aggressief voorkom. “Hy was aanvanklik nie aggressief nie, maar beslis nie by sy sinne nie. Ek het in ʼn stadium nader gestap om te ruik op hy dalk alkohol gebruik het, maar ek kon niks ruik nie. Hy was heel kalm maar het bietjie rondgetrippel. Hy was wel baie deurmekaar en dit het gelyk of hy nie weet wat hy doen nie.”

Die BMW het in ʼn stadium weggery terwyl almal op die toneel vir die Tshwane-metropolisie gewag het. Die man wou toe glo weer in sy motor klim en wegry, waarna sy sleutel afgeneem is. Hy het toe glo aggressief geword.

Vandaar is die man en sy voertuig deur die metropolisie van die toneel verwyder.

Cloete het gesê die twee insittendes, wat in die bakkie was wat gerol het, het geringe beserings opgedoen. “Hulle het gebloei, maar het self uit die bakkie geklim en langs die pad vir bystand gewag.”

Die metropolisie ondersoek die voorval, waarna die dossier na die polisie gestuur gaan word vir verdere ondersoek. Die polisie kon nie dadelik die voorval bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Edward Shawe ·

Dit is nou wat ek dapper noem. Daardie drie motoriste moet n toekenning ontvang.

Toekenning onnodig ·

Plaas ons almal maar net uit hul voorbeeld leer.

Durbaniet ·

Dis wonderlik dat daar nog sulke goeie mense in ons land is, werklik ‘n groot opoffering om dit te gewaag het.

Realis ·

10 uit 10 manne!!! Uitstekend gedoen. So nice dat daar nog mense is wat optree in sulke situasies dat wetsoortreders nie wegkom nie!!

dries ·

Lekker laat dit vir julle wat so jaag n les wees, kyk hom weer.

Elisabeth Kruger ·

Ons salueer hierdie drie brawe motoriste, julle het nie geskroom om hierdie motoris te stop van n groter ongeluk as hy sou aanry nie. Sterkte vir die bestuurder in sy bakkie met soveel skade.

EN ·

Wonderlike werk julle 3!!! Ons moet meer so saam staan. Julle was braaf en definitief my helde vir die dag! TROTS!!

Drikus ·

Hier is die kruks: Die drie motoriste het saamgewerk sonder dat hulle mekaar vooraf geken het. Hulle het bloot dieselfde ingesteldheid gehad. Geluk manne, julle het vir ons die oplossing geïllustreer. As oortreders meer en meer agtetkom dat ons mense bereid is om saam te staan en op tree, sal hulle twee keer dink. Net so, as ons gewoond raak daaraan dat hulp sal volg, sal ons mense meer bereid wees om op te tree. Briljant.

Janneman ·

Brawe manne, want hulle weet as dit kom by die polise sou daar niks van dit gekom het nie . Nie eens die Amerikaanse polise met hulle motor jagtogte op TV kon dit so goed doen nie. Ek hoop en bid net dat die persoon in die bakkie nie ernstig beseer is nie, maar ek wil net graag weet op wat se goed was daai drywer. Dit lyk vir my baie meer as net onverskillig daar moes ‘n bietjie iets anders betrokke gewees het ek hoop net hulle het sy bloed getrek

Boer ·

Wel gedaan,daar is nog mense wat saamstaan teen misdaad,haal my hoed af..

o ·

10/10 vir julle!! Baie bly die man het nie ‘n wapen gebruik nie.

Statistieke ·

Ai so dankbaar! Wil niks verder sê ALLES kon erger afloop. MAAR dit het nie…nog steeds misdaad ONDER INVLOED van wie weet wat, DIT bly probleem. Moet bekend gemaak word.

Hmmm ·

Op die 8ste Sec in die video in lyk dit asof daar iets onder die kar afbreek “maar hy het skielik versnel en in die bakkie voor hom se agterkant ingejaag”… Kon dit dalk die oorsaak wees dat die persoon reg van agter in die Bakkie in ry??? Die feit dat hy van die toneel af wou ry bly verkeerd, dankie tog die ander motoriste het hom gestop :-)

Hmm nou wonder ek net, hoekom ons mensdom altyd dadelik na die negatiewe kyk m.a.w #ONDER INVLOED van wie weet wat, DIT bly probleem. #Baie bly die man het nie ‘n wapen gebruik nie. #maar ek wil net graag weet op wat se goed was daai drywer. #wetsoortreders nie wegkom nie!! #wat saamstaan teen misdaad

Opinie – Konsentrasie Demper
Meskien was daar fout met die kar
Meskien het hy ‘n slegte werksdag gehad
Meskien het hy ‘n famielie lid verloor
Meskien het hy sy werk verloor
Meskien het hy finansiele probleme
Meskien het hy aan sy jong dae gedink en wou “Bumper Cars Speel”
Wie weet nou regtig…. NIE EK NIE…

Net bly dat AL die betrokke persone veilig en dat daar nog mense is wat saam staan.

Wonderlike Dag Mense

Charlene ·

Fantasties!!Ek is dankbaar dat julle nie seer gekry het nie. Wonderlik dat vreemdelinge nog die moed het om saam te staan.

Theresa ·

Dit lyk asof daar fout met sy kar was – daarom versnel en in bakkie ingejaag.
Dalk baie seer gekry so met die stamp! Daarom die verwarring en wil wegry??
Hoop daar is ‘n verklaring.

Vry hand ·

As daar iets fout was met sy kar sal hy nie probeer weg jaag het ..hy sou dadelik gestop het

Vry hand ·

Hy het verseker gespoed en skielik sien hy n bakkie voor hom en kon nie betyds rem trap nie

Anton ·

Vir my lyk dit of hy n selfoon by die venster uitgooi by +-8 sekondes. Dink nie dit is iets wat afbreek van die kar af nie.

Kan nou nie die video so lekker navigate met my vinger op selfoon nie.

Verstom ·

Wonderlike tegnologie van Selfone. Ek glo die ander wat deur die wegjaer se onverskilligheid betrokke was in die ongeluk, is die mense baie dankbaar. Ek glo in Video opnames maak van situasies, soos dié of op gespreksvlak, wat later gebruik kan word as bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.