Video: Mpumalanga se rondloperleeu gevind

Die rondloperleeu nadat hy verdoof is (2 Junie 2018). Foto: Jan Combrink

Die rondloperleeu wat vroeër vandeesweek tussen Lydenburg en Sabie in Mpumalanga gewaar is, is vanoggend gevind.

Die leeu is glo naby ʼn plaas op die R37 naby Hops Hollow gevind en verdoof, waarna hy in ʼn wildwaentjie gelaai is om teruggeneem te word na waar hy vandaan kom.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die leeu gevind is, maar het verdere navrae na die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA) verwys. ʼn Woordvoerder van die MTPA kon egter nie vir kommentaar bereik word nie.

Groot verwarring het vroeër vandeesweek ontstaan nadat foto’s van die leeu op sosiale media versprei is met inligting dat hy op die R37 opgemerk is. Later is inligting versprei dat die leeu gevang en verdoof is, maar dit blyk toe slegs fopnuus te wees. Boonop het die Noord-Kaapse polisie nog meer verwarring gesaai deur dieselfde foto’s van die leeu op Twitter te deel en te beweer die leeu is naby De Aar opgemerk.

Die foto van die leeu wat tussen Lydenburg en Sabie opgemerk is, en wyd op sosiale media versprei is. Foto: Twitter

Jan Combrink, ʼn inwoner van Lydenburg wat vanoggend op die toneel was, het aan Maroela Media bevestig dat die inligting dat die leeu gevind is dié keer die reine waarheid is. “Ek was self op die toneel toe hulle die leeu verdoof het en het foto’s en video’s geneem. Hy is beslis gevind,” het hy gesê.

Volgens Combrink was daar verskeie mense betrokke by die verdowing en vangs van die leeu en was almal vasbeslote om die leeu nie skade aan te doen nie, maar net te verdoof sodat hy teruggeneem kan word na waar hy vandaan kom. “Hy moes vier keer met ʼn verdowingspyl geskiet geword het voordat hy gaan lê het. Dit was ʼn meneer van ʼn mannetjiesleeu daai!” het Combrink gesê.

Hy het gesê die leeu het voordat hy aangekeer is ʼn bees in die gebied gevang.

Daar word wyd bespiegel dat die leeu uit die Krugerwildtuin ontsnap het, maar William Mabasa, algemene kommunikasiebestuurder van die Krugerwildtuin, het Saterdagoggend weer eens aan Maroela Media gesê daar is geen bewyse dat die leeu uit die wildtuin ontsnap het nie. Waarheen die leeu dus vanoggend geneem is nadat hy verdoof is, is steeds onduidelik.

Video geneem deur Jan Combrink:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elzané ·

Wonder waar die grootbekke nou is wat so geskree het ons lieg oor die leeu…

Daan ·

OOo!!! My … Seker ook fopnuus. Wonder wat se DAAAAAI klomp nou wat gese het dat die leeu ding fopnuus is??

Oom Kalahari ·

Nou-ja toe, daar is sovele mense wat onder aandag wou bring dat dit ‘n werklikheid is van die rondloper leeu en dan was daar weer verskillende weergawes wat as fopnuus afgemaak is.
Wel nouhet die werklikheid deurgeskemer en dan was daar ook aanvalle van stop om soektog mense se tyd en fondse te vermors met bogus nuus. Nou het die werklikheid virendag getree en met die stop van soektog kondie loslopende leeu nogal baie skade aangerig het. Dankie dat hy nou veilig terug is in sy habitat en nie ook moeti geword het nie.

Natan ·

Indien die leeu vanuit die Kruger Wildtuin ontsnap het, het hy baie ver gevorder. Boonop is Hops Hollow op die Long Tom pas/Mauchsberg se hoogste punt. Bitter koud snags en die leeu was gelukkig daar. Indrukwekkend, pas die leeu mooi op, hy verdien ‘n onderskeiding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.