[Video] Myn-ineenstorting: Talle steeds vasgekeer

Foto: http://www.vantagegoldfields.com/

Foto: http://www.vantagegoldfields.com/

Talle mynwerkers is steeds ondergronds vasgekeer ná ʼn grondstorting by die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, omstreeks 08:00.

Brig. Selvy Mohlahla, woordvoerder van die polisie, het gesê volgens die jongste inligting is 76 van die 115 mynwerkers wat vanoggend vir diens aangemeld het, reeds na die oppervlak gebring terwyl 39 glo nog vasgekeer is.

Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie, hoewel talle mynwerkers deur paramedici na hospitale vervoer is vir geringe tot matige beserings.

ʼn Woordvoerder van Radio Laeveld wat tans op die toneel is, het gesê die hekke na die myn is toegemaak en die media en ander belangstellendes is gevra om buite te wag. Die families van die mynwerkers word ook nie naby die myn toegelaat nie. Volgens die woordvoerder mag slegs mynwerkers wat opgelei is in noodhulp ondergronds gaan om beseerdes te help en nie ander paramedici nie.

ʼn Woordvoerder van die myn, Mike Begg, het aan die Barberton Times gesê die ineenstorting het by die “lampkamer” in die myn gebeur. Die lampkamer is glo mynwerkers se “laaste stop” voordat hulle verder ondergronds beweeg. Dit is hier waar hulle lampe en veiligheidspakke ontvang. Dit is nog nie duidelik wat die ineenstorting veroorsaak het nie.

Mohlahla het gesê Vusi Shongwe, Mpumalanga LUR vir gemeenskapsveiligheid, is op pad na die myn.

Intussen het die mynwerkersvakbond, Amcu, beweer dat 115 van sy lede ten tyde van die voorval ondergronds was. Die vakbond het egter ook nie dadelik meer inligting beskikbaar gehad nie. Die vakbond Solidariteit het ook bevestig dat van sy lede by die myn werksaam is, maar kon nie in hierdie stadium meer inligting bekendmaak nie.

Vantage Goldfields, die myneienaar, het nie Vrydagoggend die telefoon geantwoord nie.

Miners coming out at Lily mine near Barberton in Mpumalanga @suburbnews @cnn

Posted by Suburb.News on Friday, February 5, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

andre ·

As n persoon wat self al 40 jaar in die mynbedryf is, en al self deur soortgelyke insidente was, weet ek hoe stresvol dit is, maar ek verstaan nie hierdie situasie nie.
Nuus 24 se 76 mense is gered en 3 word nog vermis, Maroela se 39 word nog vermis. Wat my dronk slaan is dat die myn se woordvoerder se die “lamp kamer” het ineengestort. Enige myn se lamp kamer is bo grond, hoe val dit inmekaar en keer mense ondergronds vas? Dit maak GEEN sin nie. Ek vermoed hy bedoel die “wagplek” dit is die laaste stop waar die spanne bymekaar kom en die dag se veiligheid en produksie en planne bespreek voor hulle verder in beweeg na die werksplekke toe. Iemand se feite is baie verkeerd.

Landi Slatter ·

Dagsé andre

Ons vra om verskoning indien daar teenstrydige inligting weergegee word. Die feite was tot dusver onduidelik, aangesien daar nie vroeër enige amptelike kommunikasie van die myn af was nie. Die myn het intussen amptelik reageer en Maroela Media sal daaroor berig. Hou Maroela Media gerus dop – ons sal die inligting bekend maak soos wat dit aan ons bekend gemaak word.

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

andre ·

Dankie Landi Malan, ek verstaan dat julle ook net net rapporteer op inligting wat na julle toe aangegee word, ek het nie n vinger gewys na julle toe nie, die inligting het net nie sin gemaak nie. Toe ek nou julle lug foto kyk, toe raak die prentjie duidelik, ek verstaan dit nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.